Logo
web uni tv guide

Fiësta

144VermaakPG

Fiësta kry energieke ankeraanbieders

Nuus
19 Junie 2017
Vanaf Junie spog die program met ’n groep energieke ankeraanbieders!
Fiesta Ankers Bill

FOTO: Ansu Visser, Viljé Maritz, Francois Jacobs, Kim Syster en Arno Greeff

Makiti Produksies se Fiësta-span kuier jaarliks by van ons land se grootste feeste, waar daar roosterkoeke geëet word en van teater tot by musiekverhoë besoek word.

Dié gewilde kykNET-program bring al sedert 2001 feesta na jou sitkamer, met bykans 723 episodes wat reeds uitgesaai het. Franci Swanepoel en Marius van der Wall vervaardig al sedert 2003 saam aan die program.

Vanaf Junie spog die program nou met ’n groep energieke ankeraanbieders wat elkeen om die beurt by ’n fees gaan kuier. Francois Jacobs, Viljé Maritz, Kim Syster, Ansu Visser en Arno Greeff het nie baie bekendstelling nodig nie. Hulle is jonk, energiek en bedrywig in die vermaaklikheidswêreld. Ons het met hulle gesels:

Ansu Visser

Ansu is een van chatNOU! se aanbieders. Sy het ’n rol vertolk in Sterlopers, wat in Februarie 2016 op kykNET was, en was boonop te sien in die rolprente Jou Romeo en Vir die voëls. Ansu is ook ’n kranige blogger: Cut the Mustard is ’n leefstylblog en vertel meer oor die uitdagings van ’n jong volwassene.

Wat is die een ding wat min mense van jou weet?

Sjoe, dis nogal ’n toughie: (Seker) maar dat ek hekel. En ek’t Snapchat – ek gebruik dit net nie soos wat die app design is om gebruik te word nie. Ek gebruik dit meestal net as ek bored is en stuur al my stories deur WhatsApp vir my bestie, Mila Guy.

Wat is jou guilty pleasure?

Ek love dit om ’n lekker sout-en-asyn- of tamatiesous-kraaktjippie in my Coke te doop. YUM. Ek hou ook daarvan om ’n lekker slaptjip in ’n pienk melkskommel te doop en saam te geniet. En pajama-dae, is die beste dae!

Watter verskuilde talent het jy?

Ek kan op my kop staan, uit ’n sittende posisie terwyl my bene gekruis is.

Wat is die lekkerste fees wat jy al bygewoon het en hoekom?

Mieliepop. My eerste keer by die fees was ook die eerste fees wat ek aangebied het vir Fiësta. Die vibe is ongelooflik lekker, die kosstalletjies is crazy, jy kan party in ’n grot en, beste van alles, jy kan legitimately kaalvoet rondloop by die fees, want daar is net gras!

Waar sal ons jou by ’n fees kry? 

A. Voor die musiekverhoog.

B. Iewers onder ’n sambreel besig om ’n drankie te geniet.

C. By een van die kosstalletjies.

D. Maak nie saak nie – solank ek saam met my vriende kan kuier.

E. Iewers anders?

A. Besig om uit te jam voor die musiekverhoog en C. By een van die kosstalletjies (as jy kyk na my guilty pleasures, dan maak dié 100% sin).

Arno Greeff

Arno het sy loopbaan as akteur in 2012 begin toe hy ’n rol in Verraaiers gekry het. Nadat hy in 2013 matrikuleer het, het hy in die sepie Binnelanders begin speel en die rol van Krige vertolk. Ná tien maande se verfilming het hy ’n verskyning in die reeks Bloedbroers gemaak. In 2015 was hy in die fliek Die Pro te sien. ’n Paar kortfilms het gevolg en in 2016 het Arno op Getroud met Rugby: Die Sepie begin in die rol van Tommie Bekker. Hy vertolk die manlike hoofrol in Vaselinetjie, wat hy pas klaar verfilm het.

Wat is die een ding wat min mense van jou weet?

Hoewel ek ’n nerd speel op Getroud met Rugby, is ek self eintlik lief vir rugby en ek speel elke week touchies.

Wat is jou guilty pleasure?

Ek’s heeltemal te lief vir RocoMamas en sal een keer ’n week vir my ’n burger en wings gaan kry.

Watter verskuilde talent het jy?

My verskuilde talent is om baie meer te kan eet as wat ek eintlik moet.

Wat is die lekkerste fees wat jy al bygewoon het en hoekom?

OppiKoppi. Vir ’n paar dae elke jaar kom mense van ’n klomp verskillende agtergronde bymekaar en los al hulle verantwoordelikhede en probleme by die huis om net musiek te luister, lekker te kuier en vol stof en sweet die lewe te geniet.

Waar sal ons jou by ’n fees kry? 

A. Voor die musiekverhoog.

B. Iewers onder ’n sambreel besig om ’n drankie te geniet.

C. By een van die kosstalletjies.

D. Maak nie saak nie – solank ek saam met my vriende kan kuier.

E. Iewers anders?

A en C. Ek verloor myself altyd as ek live musiek kan beleef, maar tussendeur wil ek steeds heeltyd eet

Francois Jacobs

Francois Jacobs is relatief nuut in die vermaaklikheidsbedryf, maar hy het reeds baie bereik. Oor die afgelope vier jaar was hy in verskeie films op die silwerskerm te sien: Pad na jou hart, Hollywood in my huis, Agent 2000 en Ek joke 2. Dan het hy ook ’n hoofrol in ’n Engelse film Land of milk and honey gehad. Onlangse films waarin hy te sien was is Father’s War, Chemo Club en Vir die voëls.

Hy het ook in reekse soos Donkerland, Binnelanders en 7de Laan verskyn. Hy bestuur JanBom Produksies saam met Adriaan van As, wie ook verantwoordelik is vir die 2013 kykNET Silwerskermfees-kortfliek Die Damduikers.

Wat is die een ding wat min mense van jou weet?

Ek sê baie moeilik “nee”.

Wat is jou guilty pleasure?

Ek is mal oor samoesas.

Watter verskuilde talent het jy?

Ek brei nie in my slaap nie. So sê hulle…

Wat is die lekkerste fees wat jy al bygewoon het en hoekom?

STRAB in Mosambiek.

Waar sal ons jou by ’n fees kry? 

A. Voor die musiekverhoog.

B. Iewers onder ’n sambreel besig om ’n drankie te geniet.

C. By een van die kosstalletjies.

D. Maak nie saak nie – solank ek saam met my vriende kan kuier.

E. Iewers anders?

A.

Kim Syster

Kim Syster, aktrise, danser en model, is oorspronklik van ’n klein dorpie langs die Weskus. Kim was al te sien in onder meer kykNET se Sterlopers en Fluiters en die sepie Suidooster. Sy was ook al in flieks soos Sonskyn Beperk en Nul is nie niks nie te sien. Internasionaal is sy ook te sien in Cape Town, gebaseer op Deon Meyer se boek Dead before dying, asook in die Universal Studios-fliek Death Race 3: Inferno saam Latynse akteur Danny Trejo.

Wat is die een ding wat min mense van jou weet?

Ek is ’n video game addict.

Wat is jou guilty pleasure?

’n Dag by die huis met flieks en ’n homemade gatsby (dink chip roll met spek en avo).

Watter verskuilde talent het jy?

Ek kan lekker sjokoladekolwyntjies bak.

Wat is die lekkerste fees wat jy al bygewoon het en hoekom?

Ons dorp het jaarliks ’n fees in September, die Mamre Blommefees. Dis altyd lekker om ou gesigte te sien, te kuier en plaaslike stalletjies te ondersteun. 

Waar sal ons jou by ’n fees kry? 

A. Voor die musiekverhoog.

B. Iewers onder ’n sambreel besig om ’n drankie te geniet.

C. By een van die kosstalletjies.

D. Maak nie saak nie – solank ek saam met my vriende kan kuier.

E. Iewers anders?

Definitief C. Ek probeer so veel as moontlik proe. En as daar tuisgemaakte konfyt is, nog beter.

Viljé Maritz

Dié jong akteur het naam gemaak in Binnelanders. Hy was ook in Swartwater, Die Pro, Verraaiers, Liefste Kayla, Donkerland en High Rollers te sien.

Wat is die een ding wat min mense van jou weet?

Ongelooflik min mense weet nie dat ek na 8 jaar van Johannesburg af Kaap toe getrek het nie. Ek’s stadig maar seker besig om te begin werk aan my eie projekte en leer soos ek aangaan, maar dis ’n verrassing.

Wat is jou guilty pleasure?

Mmmmmm, yskoue Sauvignon Blanc met baie ys en ’n vuurtjie wat knetter terwyl ek uitkyk oor die see en tob oor die lewe en watookal anders in my kop aangaan.

Watter verskuilde talent het jy?

Ek dink die hele kykNET-span weet nou al ek is ’n ywerige surfer – dis my passie en my dinktyd – net ek alleen, die waves en my kop.

Wat is die lekkerste fees wat jy al bygewoon het en hoekom?

Innibos. Dit als werk net en is so lekker naby aan mekaar, en daar’s gees wat skrik vir niks. Ek dink dis die een fees waarna kunstenaars die meeste uitsien, – daar’s samesyn, lekker geselsies en industrie-mense wat jy letterlik elke jaar net daar kry. Kunste is groot, musiek is groot en die kuiers is groot.

Waar sal ons jou by ’n fees kry? 

A. Voor die musiekverhoog.

B. Iewers onder ’n sambreel besig om ’n drankie te geniet.

C. By een van die kosstalletjies.

D. Maak nie saak nie – solank ek saam met my vriende kan kuier.

E. Iewers anders?

A,C, D en E (moontlik iewers besig om saam mede-aanbieder en beste pel Francois Jacobs die dorp uit te kyk).