Logo
web uni tv guide

eNuus

144NuusPG13
Jenna Leigh Bilong DGO S8

Jenna-Leigh Bilong

Jenna-Leigh Bilong glo sy is die afgelope 17 jaar – as deel van haar rol in die uitsaaiwese – “in diens van my kyker en luisteraar”. Hierdie nederige, talentvolle dame, begin haar loopbaan by ‘n gemeenskapsradiostasie in Worcester. Van jongs af is Jenna-Leigh en ‘n mikrofoon groot maats. Haar ma het vir haar ‘n pienk speelgoed-mikrofoon gekoop waarmee sy luidkeels op die agterstoep by haar ouma se huis in Bonnievale, die “Goeie Nuus” met die bure gedeel het. Dit het later in speel-speel radio-uitsendings ontaard en ontwikkel tot waar sy as dogtertjie agter oom Riaan Cruywagen aan nuus gelees het. Sy het op die ouderdom van 15 by ‘n gemeenskapsradio betrokke geraak en is van toe af oortuig dat uitsaaiwese die platform vir haar roeping is.

Sy glo dat kommunikasie haar Godgegewe gawe is, en dat televisie een van die mediums is waardeur mens die effektiefste kan kommunikeer. “Nie net speel elke buiging in jou stem ’n rol nie, maar ook elke gesigsuitdrukking en beweging. Dit skep saam die volle beeld van die berig. Daarom geniet ek televisie-uitsendings net so effe meer as radio, wat my eerste liefde is”, sê Jenna-Leigh.

Jenna-Leigh is ‘n familiemens. Sy verwys na haar man as haar beste vriend, met wie sy saam haar roeping uitleef. “Hy is die kalmte wat God geweet het ek sal nodig hê en die een vol wysheid wat vir my leiding bied. Die hoogtepunt van my dag is wanneer ek rustig saam met hom kan sit en gesels.” Sy is ook die mamma van twee seuns en haar hondekinders, Spencer en Lala, het ’n baie spesiale plek in haar hart en huis.

Jenna-Leigh voeg “goedheid en guns” by Die GROOT Ontbyt-spyskaart, “sunnyside up”!