Hendrien werk al vyftien jaar in sporttelevisie. Sy is tans ’n seniorregisseur by SuperSport asook aanbieder en regisseur vir die sportsegment op kykNET Verslag.
Haar liefde vir sport is gekweek toe sy as dogtertjie haar sportkommentator-pa, Kotie Grove, vergesel het na die veld. Sy onthou ook hoe sy saam met hom vir lang ure na die Franse ope en Wimbledon op die televisie gekyk het. Min het sy geweet dat sy jare later asveldaanbieder die geleentheid sou kry om onderhoude met spelers soos Roger Federer, Rafael Nadal, Novak Djokovic en Serena Williams te voer.
Ander hoogtepunte as aanbieder sluit die Olimpiese Spele, jaarlikse SA Rugbytoekennings en die plaaslike T20-krieketreeks in. Dis by laasgenoemde waar sy ook haar man, Cliffe Deacon, voormalige professionele krieketspeler, ontmoet het.
Hendrien het ook al die leisels gehou as regisseur van die Statebondspele, die Wêreld swem- en atletiekkampioenskappe asook daaglikse programme vir die Rugbywêreldbeker.