Logo
Elders 1600x640 Billboard
web uni tv guide

Elders

144ReisprogramPG
Elders Poster 924x1360

In hierdie nuwe reeks stap Erns Grundling die Pelgrimstog van Hoop van sy huis in Kaapstad tot by Kaap Agulhas. Hy verken die woelige Voortrekkerweg en stap die Bottelary-heuwels binne.

S3 | E13
23 Desember 20:00
'S3/E13'. In die laaste episode stap Erns kuslangs van Brandfontein tot by Kaap Agulhas. Hy luister na Piet van As se st...

Gaan saam met Erns op ‘n Pelgrimstog van hoop

News
04 September 2020
Elders: Pelgrimstog van Hoop, in Afrikaans met Engelse onderskrifte, word van 30 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Untitled design

Daar word gesê dat ‘n pelgrimstog, of camino, by jou voordeur begin. Vir Erns Grundling het dit by die Camino de Santiago in Spanje begin. Later het hy Japan gaan verken in die tweede seisoen wat in April vanjaar met ’n SAFTA vir Beste Leefstylprogram bekroon is. En nou, met die derde seison van Elders, het hy in die wye Kaap gaan voetslaan.

Vir Elders: Pelgrimstog van hoop het Erns en ’n klein kameraspan sowat 350km gaan stap – van die Kaapse wynlande tot die Overberg; van sy huis in Kaapstad tot die vuurtoring by Agulhas.

Die reeks is in Junie vanjaar verfilm met die aanvang van vlak 3 van inperking, ‘n faktor wat deel van die span se beplanning moes wees.

“Die grootste uitdaging met die maak van die reeks, was om gesond te bly,” sê Erns. “Ons moes vir meer as drie weke en meer as 300km op die pad tussen my huis in Kaapstad en die vuurtoring by Agulhas alles doen om nie siek te word nie. Die pre-produksie is reeds tydens vlak 4 gedoen en daar was geweldige onsekerheid oor soveel aspekte van die produksie – van afsprake met die gaste tot akkommodasie. Gelukkig het alles ten goede uitgewerk en ons is met hartlikheid en gasvryheid oorlaai. Ons het op 1 Junie, dag een van vlak 3, begin skiet en ons het dadelik besef mense is uitgehonger vir gesels.”

Die Pelgrimstog van Hoop is in 2014 deur die teoloog Frederick Marais uitgelê en ontwikkel en verskeie kerke, sendingstasies en monumente wat vryheid vier, lê langs die roete.

“Ek het sowat twee jaar gelede vir Frederick en Adrienne Bester van Communitas op Stellenbosch ontmoet,” verduidelik Erns. “Die Pelgrimstog van Hoop was Frederick se visie nadat hy in 2012 die Camino gestap het. Hy het die roete van Robertson (later Stellenbosch) tot by Agulhas in 2014 uitgelê en so het die pelgrimstog ontstaan.”

Gaste, wat bekendes soos Dana Snyman, Kabous Meiring, Dave Pepler, Hemelbesem, Duane Vermeulen en Lynelle Kenned insluit, is deel van die nuwe reeks van Elders.

“Toe ek die pelgrimstogte in Japan en Spanje gaan stap het, was dit ‘n gegewe dat ek medepelgrims langs die pad gaan raakloop,” sê Erns. “Met hierdie nuwe Elders-reeks, was ek weens die inperking natuurlik die enigste pelgrim op die Pelgrimstog van Hoop. Ons het daarom besluit om vir sekere skofte langs die roete ‘n paar gaste te nooi om saam met my te stap, verkieslik mense wat ook van stap hou of ‘n verbintenis met die geskiedkundige plekke langs die pad het.”

Erns glo Suid-Afrika kan ‘n bestemming word vir mense wat ‘n pelgrimstog wil doen.

“Veral in hierdie tyd wat buitelandse reis nie so aanloklik of bekostigbaar is nie,” sê hy. “Ek was werklik omgeboul deur die Pelgrimstog van Hoop. Die natuurskoon hoef glad nie terug te staan vir die Camino in Spanje nie en die geskiedenis van kerke langs die roete en die stories van die vryheid van die slawe, die Hugenote en dies meer, sorg vir ‘n ryk ervaring. Dan is daar natuurlik die verskeie puik wynplase langs die roete waar jy kan ontspan.

“Ek hoop van harte dat hierdie reeks kykers sal inspireer om plaaslike toerisme en pelgrimstogte te ondersteun en dat daar in die toekoms baie mense met rooi hoede van Stellenbosch en Robertson tot by die mees suidelike punt van Afrika sal stap.”

Elders: Pelgrimstog van Hoop, in Afrikaans met Engelse onderskrifte, word van 30 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks bestaan uit dertien episodes. Dit word vervaardig deur Bonanza Films.

Nog Programme