Die voormalige internasionale model Minki Joubert (voorheen Van der Westhuizen) is die aanbieder vir Boer Soek ’n Vrou se negende seisoen.
Toe Minki en haar man, Ernst Joubert, in 2010 biltong en braaivleis prysgegee het en verhuis het na St. Albans (net buite Londen), het hulle wel geweet dat hulle eendag sou terugkeer na die plek wat hulle huis noem, die Kaap.
Ernst het einde 2015 uitgetree as professionele rugbyspeler en die gesin is sedertdien terug in Suid-Afrika, waar hulle tans in Stellenbosch woon. Minki en Ernst is die trotse ouers van twee dogtertjies, Katerien (2) en Elise (16 maande).
Minki het op 5 Desember 2015 geland en op sosiale netwerke aangekondig: “Back on African soil”. Kort daarna het die vervaardiger van Boer soek ’n vrou, Elmarie Botha, haar gekontak om te hoor of sy sou belangstel om die program aan te bied. “Ek was aan die begin skrikkerig,” sê van der Westhuizen.
“’n Werklikheids-TV-program is iets heeltemal nuuts vir my, maar ek sien baie uit om al die nuwe mense te ontmoet, die nuwe uitdaging aan te pak en deel te vorm van hierdie groot en suksesvolle produksie. Ek dink Boer soek ’n vrou is ’n wonderlike platform om nuwe mense te ontmoet en net dalk vind jy jou pot se deksel.”
Wat is liefde? In dié video leer ons Minki van nader ken.