Logo
Die brug S1 Slim BB

Die brug: Ontmoet die twaalf spelers

Nuus
26 Oktober 2023
Twaalf vreemdelinge. Twaalf uiteenlopende persoonlikhede. Twaalf redes hoekom hulle, welwetend dat dit nie maklik gaan wees nie, speel om die groot prys te wen.
Die brug

Die eerste episode van Die brug, wat uit elf episodes bestaan, het afskop op Donderdag 26 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit is by die Buffeljagsdam buite Swelledam verfilm en die natuur speel ’n reuse-rol in nie net die uitdagings nie, maar ook in die visuele skouspel wat die reeks bied.

Die twaalf spelers is:



Arnold Bosman (44) is van Pretoria en werk as ’n ontwerper en tekenaar. Hy is daardie wing-it ou. “Ek sê altyd live in the now. Klim in en blêrrie doen dit.”

Arnold is iemand by wie jy onmiddellik kan aanklank vind. Hy beskryf homself as lojaal, eerlik, reguit en ’n lekker mens. Maar hy is ook ’n wilde bok. Hy kan impulsief wees en het nie altyd ’n wag voor sy mond nie. Hy lees en luister graag selfhelpboeke, boeke oor tegnologie en gevegskuns soos Krav Maga, Kali en Escrima. Hy was ongeveer 20 jaar gelede in ’n motorfietsongeluk, en dokters het gesê hy sal nie weer kan loop nie. Hy was vir bykans ’n jaar in ’n rolstoel, maar het heeltemal herstel. Sy uitkyk op die lewe is positief met ’n goeie balans tussen lig en donker. Hy glo ’n mens het albei nodig om jouself te motiveer en ten volle te leef. Arnold wil Die brug wen, want hy wil graag sy eie besigheid begin wat spesialiseer in die bou van klein eko-huise en CNC-platpaneelprodukte. Dit sal hom ook die nodige hupstoot gee om na die mooie Kaap te kan verhuis.



Avril Albetti (38) is van Sandton, Johannesburg, en is die eienaar van ’n modelagentskap en ’n sosialemedia-persoonlikheid. Sy staan in Die brug as die liefling bekend. “Ek is spicy by nature en sal nie juis iemand aanraai om my te probeer aanvat nie.”

Avril kom van Loerie, ’n klein dorpie in die Oos-Kaap. Sy het haar drome gevolg en ’n model geword en besit ook nou haar eie modelagentskap. Tydens haar reise in Italië het sy haar man ontmoet. Hulle is 16 jaar getroud en is die ouers van twee kinders. Avril is nie net mode, grimering en hoëhakskoene nie – sy is vol verrassings en ’n staatmaker wat weet hoe om vir haarself en haar medemens te sorg. Avril het 170 000 volgelinge op TikTok en sy gebruik haar sosiale media om jong meisies te motiveer om te droom. Sy besef haar lewe, soos wat sy dit nou leef, is ’n gelukskoot wat steeds elke dag harde werk vereis, en sy glo daar is nog baie wat sy kan bereik. Avril het ’n groot hart, en sy wil Die brug wen om meer geleenthede vir jong kinders van haar geboortedorp, Loerie, te skep. Sy wil ook haarself sien groei en haar beste buite haar gemaksone lewer.



Geo Botha (35) is ’n welvaartbestuurder van Stellenbosch. In Die brug word hy gesien as die oogappel. “Ek wil nooit in my lewe spyt wees oor iets wat ek nié gedoen het nie en lewe voluit. Daarom het ek al Mnr. Suid-Afrika aangepak en aan Ysterman-kompetisies deelgeneem. Ek het laas jaar ook ’n televisiereeks oor finansiële bestuur aangebied en het onlangs ’n boek saam met my broer gepubliseer.”

Geo is ’n suksesvolle welvaartbestuurder wat in Stellenbosch woon. Hy is n familieman wat getroud is met Vicky, ’n Suid-Afrikaanse driekamp-atleet, en hulle het ’n eenjarige seuntjie. Hy is doelgerig, ambisieus en altyd op soek na geleenthede wat hom as persoon uitdaag en verbeter. Hy geniet dit om aktief te wees en lees graag biografieë en boeke oor finansies. Lekker kos en goeie wyn is deel van sy daaglikse roetine. Sy positiewe gesindheid teenoor die lewe het begin nadat sy suster op 13-jarige ouderdom in ’n motorongeluk was en sy sedertdien in ’n rolstoel is. Hy glo ’n mens is nie in beheer van wat met jou gebeur nie, maar hoe jy daarop reageer. Geo wil eerste oor Die brug loop – nie net vir die geld nie, maar om vir homself en ander te bewys enige iets is moontlik. Hy wil as die wenner wegstap omdat hy die slimste spel gespeel het en die beste uit die ander spelers uitgehaal het en daarom die prysgeld verdien.



Iana Strydom (24) is van Fairland, Johannesburg, en ’n inhoudskepper en reisbeïnvloeder. Sy is die avonturier in die groep. “As jy vaskyk in dit wat jou bang maak, gaan jy nêrens kom nie,” sê sy.

Iana is ’n bondel energie, positiwiteit, ywerigheid en humor. Sy is ’n voltydse reisbeïnvloeder met ’n onversadigbare lus vir adrenalien. Sy bring die meeste van haar tyd op avonture saam met haar kêrel, Ruan, deur. Iana het ’n BSc-honneursgraad in geografie en omgewingswetenskappe en was besig met haar meestersgraad toe haar sosiale media vlam gevat het en sy moes besluit wat sy gaan doen. Sy het haar loopbaan as aanbieder van TV-programme begin, maar nou bestaan haar lewe uit die skep van gehalte-inhoud – nie net vir haar eie sosiale media nie, maar ook vir bekende handelsmerke. Dit behels die verfilming van sosiale media en die redigering daarvan. Alles draai om aktiwiteite, plekke en dinge om te doen, te waag, te sien, te beleef. Sy is jonk, maar nie sonder sterk eie menings nie. Iana het sterre in haar oë, maar is ook hardwerkend. Sy wil lei en risiko’s neem en Die brug wen. Al wat in haar pad staan, is die ander spelers.



Jamie le Roe (37) is van Swellendam en ’n bemarkingsassistent op ’n wynplaas. Sy is die vriendin. “Ek wil weer op my eie voete kan staan as ’n vrou en ’n ma en ’n inspirasie vir ander vroue wees wat dalk hulle lewens as mislukkings sien.”

Jamie is vrolik, vriendelik en ’n goeie vriendin. Sy is ’n enkelma wat drie kinders grootmaak met die hulp van haar eie geliefde moeder. Haar seun is 19, en sy het twee dogtertjies van vyf en sewe. Sy is baie lief vir kook en diere. In haar vrye tyd maak sy klei-juwele, en leer hierdie vaardigheid ook aan kinders en daarmee saam alles wat sy kan oor entrepreneurskap. Jamie is ’n gebalanseerde vrou wat vir haar medemens omgee. Haar sprankelende persoonlikheid maak dat enigiemand vinnig van haar hou. Jamie wil uit haar gemaksone en huidige omstandighede kom, en Die brug bied vir haar ’n geleentheid wat sy nie gaan laat verbyglip nie.



Larry Alcock (57) is van Edenburg in Johannesburg en doen personeelopleiding. Hy is die reëlmaker en glo: “Wat jy uitdeel, is wat jy gaan terugkry. Glo my, karma is real ...”

Larry het ’n blymoedige hart, ’n lus vir die lewe wat nie geblus kan word nie, en is die hart van ’n partytjie. Hy is oorspronklik van Namibië en is die trotse pa van twee seuns wat hom baie genot verskaf. Hy het ’n baie groot avontuurlus, beskryf homself as ’n late bloomer en glo hy het meer energie as wat sy liggaam soms kan hanteer. Hy het op die rype ouderdom van 52 sy draftekkies aangetrek en is nou verslaaf aan sy nuwe stokperdjie. In sy skoendoos vol medaljes is nege Pride & Joys, twee Comrades Back-2-Backs, twee Two Oceans, drie Om-die-dam-ultramarathons en ’n Berlyn-marathon. Sy ander groot liefdes is kosmaak, klavier en kitaar speel, 4x4 en stap. Hy het al die Otter-, Visrivier-, Amatola- en die Inka-staproete in Peru voltooi. Larry kom goed oor die weg met die meeste mense; glo almal het ’n positiewe bydrae om te maak; is nie bang vir werk nie en hou daarvan om buite sy gemaksones grense te verskuif. Hy het binne twee maande leer swem toe hy hoor hy is vir Die brug aanvaar. Larry weet op sy ouderdom dat die lewe te kort is om ongelukkig te wees en verkwis nie sy energie op negatiwiteit nie. Die brug kom op ’n tyd in sy lewe waar hy perspektief nodig het. Hy is opgewonde oor wat aan die anderkant van Die brug vir hom wag.



Marna Grobler (53) is van Roodepoort in Johannesburg en ’n geleentheidsbeplanner en driekamp-atleet. Sy is die go-getter. “Mense sal my sien en my tannie noem. Kyk ek het ’n kleintjie dood daaraan. Moenie my tannie nie noem nie. Hierdie is nie ’n tannie nie. Ek is ’n go-getter. My ouderdom gaan jou verras.”

Marna is ’n natuurlike leier. Sy is stiptelik, gemotiveerd, geduldig, gelukkig getroud en het ’n suksesvolle onderneming. ’n Gesonde leefstyl is vir haar belangrik, en sy het ’n groen Comrades-nommer en is altyd reg om nuwe dinge aan te pak – of dit nou Die brug of ’n waaghalsige zipline-toer is. Sy het laat in haar lewe besef waartoe sy eintlik in staat is. Nou wil sy opmaak vir verlore tyd en geniet elke oomblik daarvan. Marna gee baie van haar vrye tyd vir liefdadigheid, en haar motiveringsblog is daar om mense te inspireer. Marna wil met haar deelname aan Die brug wys dat die lewe nie stop ná 50 nie; dat almal dit in hulle het om doelwitte te stel en te bereik – maak nie saak hoe oud jy is, wie jy is of waar jy vandaan kom nie.



‘Nonnie’ Geldenhuys (56) is van Hopefield in die Wes-Kaap en is mede-eienaar van ’n padstal. Sy is die staatmaker in die groep. “Moenie steel of vat nie. Nie mense se vreugde nie, nie mense se goed nie, nie mense se drome nie, nie mense se ideale nie of mense se goedheid nie.”

Nonnie bestuur ’n klein dieretuin en kwekery by die padstal, Plaasmol, in Hopefield. Haar regte naam is Barbara, maar sy verkies haar noemnaam Nonnie omdat dit model, mooi werker, prinses, skoonmaker en koningin beteken. Sy dra altyd haar kopdoek en stapskoene. Nonnie is ’n diep denker met ’n oop hart; iemand wat ’n mens maklik kan vertrou. Sy het ’n stoute kant, en sy is lief vir gesels. Sy sit haar medemens eerste en sal liewer ander motiveer en ondersteun as om self die aandag te trek. Sy het laat in haar lewe getrou met ’n man wat 16 jaar ouer is as sy. Die man het twee kinders, en sy dogter het ’n seuntjie wat van Nonnie ’n ouma maak. Sy sal altyd ’n kind in haar hart bly, en sy wens sy het die selfvertroue gehad om meer kanse te waag om sodoende meer sukses te behaal.

Nonnie se pragtige diere en plante is wat haar geluk in die lewe bring. Ná ’n moeilike pad om te kom waar sy vandag is, soek sy ’n lisensie om haarself ten volle te geniet sonder twyfel oor wat môre mag bring. Haar deelname aan Die brug is haar grootste uitdaging nog en om die prys te wen is haar doelwit.



Robert Kruger (34) is van Midstream, Midrand, en is ’n voormalige professionele rugbyspeler. Hy is bekend as die sterk een. “Ek sou graag beter wou voorberei het vir die lewe ná rugby en vind myself in ’n posisie waar ek klaar is met rugby, maar nie weet hoe om vorentoe te gaan nie. My hele lewe het ek nog net rugby geken.”

Robert het onlangs afgetree ná ’n baie suksesvolle loopbaan as professionele rugbyspeler. Hy het plaaslik vir die Lions en die Leopards uitgedraf en het ook in Japan klubrugby gespeel. Robert is ’n natuurlike leier en is gemaklik om saam met mense in ’n span te werk. Hy geniet dit om vis te vang, perd te ry en te jag. Robert is gelukkig getroud en het twee kinders. Hy wil ’n goeie man vir sy vrou wees en ’n pa waarna sy kinders kan opkyk. In die spel van Die brug wil hy sy integriteit behou. Hy is nie bereid om iemand in te loop om voor te kom nie en glo jy is net ’n waardige wenner as jy nie jou waardes verraai nie. Rob wil oor Die brug loop om te wen, maar hy wil ook die emosionele reis ten volle benut en ’n weergawe van homself ontdek wat meer teenwoordig in sy lewe is.



Sam Marais (32) is van St. James in Kaapstad en ’n joga-instrukteur. Hy is die sosiale vlinder in die groep. “Elke keer wanneer ek dink ek weet wie ek is, ontdek ek nog iets en al is dit moeilik, is dit ook nogal mooi. My grootste vrees is om eendag niks te bereik het met my lewe nie.”

Sam se spesialiteit as joga-instrukteur is sogenaamde naked yoga. Hy hou van branderplankry, lees en stap saam met sy hond, Spock. Hy beskryf homself as kalm, soekend en avontuurlustig – ’n skoenlapper wat bly verander. Sam is oorspronklik van Oudtshoorn en het grootgeword op ’n plaas. Hy wou altyd stad toe trek en het vandat hy in Kaapstad woon, al vele hoede gedra. Hy het musiekteater studeer en deelgeneem aan die Cape Town Drag Scene van 2013 tot 2019. Ná hy harde klippe gekou het in sy twintigs, is hy nou reg om sy ware self te word en mense deur joga te help om ook hul eie self te vind. Sam wil oor Die brug loop om sy drome van ’n alternatiewe leefstyl vir hom en Spock te bewaarheid. Die feit dat hy homself beter kan leer ken in die proses, is ’n bonus.



Tina Linder (45) is van Pretoria en doen verkope by ’n privaat ekwiteite-maatskappy. Sy is die hartsmens. “Daar is baie dinge waaroor ek spyt is. Die lewe het my al ’n paar snotklappe gegee, en ek het soms goed verkeerd hanteer as gevolg van my emosies. Maar mens tree op soos wat jy optree in die oomblik.”

Tina is al ses jaar lank ’n weduwee wat drie tieners alleen grootmaak. Haar lewe is ’n gejaag tussen werk, omsien na haar kinders en draf in die middae. Sy geniet dit om langs ’n vuur te sit en te gesels. Sy leef elke oomblik om geluk in eenvoud te vind, wat beteken dat sy meeste van die tyd gelukkig voel. Tina besef sy moet kompeteer vir die wengeld en dat dit waarskynlik haar fisiese krag en uithouvermoë sal toets. Sy is klein maar fiks en gaan alles gee. Sy dink nie daar is enigiets in die lewe wat genoeg sal wees om jou integriteit voor in te boet nie, en dit is hoe sy die uitdaging gaan aanpak. Tina wil Die brug wen, want hierdie geleentheid bied haar ’n kans om iets vir haarself te doen en dit goed te doen. In haar kop het sy reeds die geld uitgegee. Haar grootste motivering is om haar drie kinders universiteit toe te kan stuur.



William Walters (32) is van Vredenburg in die Wes-Kaap en is ’n kommersiële duiker. Hy is die strateeg. “Moet nie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. Hanteer ander met respek en as iets soortgelyks nie terugkom nie, is dit nie nodig om skuldig te voel nie.”

William is, benewens ’n kommersiële duiker, ook ’n persoonlike afrigter in sy vrye tyd. Sy werk behels bote skoonmaak, duik vir mossels en siviele herstelwerk. Hy is ongetroud, maar is al 12 jaar in ’n verhouding met sy lewensmaat. Hulle is ouers van ’n 11-jarige seun. William werk gereeld met mense, funksioneer goed in ’n span en kan maklik die posisie van leier inneem. Hy kan hard werk en is eerlik, nederig en gedissiplineerd. Die lewe was al vir hom moeilik, en hy het besef alles gaan eintlik oor hoe jy reageer wanneer jy op jou laagste is. Hierdie ervarings het hom gewys hoe sterk hy eintlik is. William wil Die brug wen, want hy wil trou, sy seun trots maak en vir sy gesin ’n goeie lewe bou. Hy wil homself bewys en die ervaring ten volle benut om sterker aan die ander kant uit te kom.

Die brug word deur Red Pepper Pictures vervaardig. Die reeks word uitgesaai op DStv Premium op kykNET (DStv-kanaal 144) vanaf Donderdag 26 Oktober om 20:00. Dit sal ook via DStv Stream gestroom kan word en beskikbaar wees op DStv Catch Up ná elke uitsending. Besoek die kykNET-webwerf vir eksklusiewe programinhoud en sluit aan by die gesprek op XInstagramTikTok en Facebook deur #DieBrug te gebruik.