Logo
Die brug S1 Slim BB

Avril onthul meer oor haar ontmoeting met Clint Eastwood – Die brug

Nuus
30 November 2023
Vind meer uit oor Avril se verhouding met die Hollywood-legende, Clint Eastwood.
Die brug Avril

Avril Albetti het aan Melanie, tydens episode ses van Die brug vertel dat sy toe sy destyds in Amerika was, vir Clint Eastwood by ‘n première ontmoet het. “Dit was interesting. Ons het seker vir agt of nege maande ge-date. Dit was mal, dit was mal!”

Avril het eksklusief meer onthul oor dié verhouding (Clint Eastwood het van haar “larger than life” persoonlikheid gehou).

Sy lug die span in oor haar ontmoeting met die bekende akteur. “Ek het vir hom ontmoet toe ek in Amerika was, haha! Ek was saam met een van die ander modelle wat in Suid-Afrika gewerk het. Sy is oorspronklik van Tanzanië, maar sy het in Amerika gebly. 

“Ons was by ’n partytjie gewees van ’n ander baie bekende persoon en Clint het een van sy ouens, Jimmy, oorgestuur om my te kom roep. Ek het nie geweet wie hy was nie, ons ouderdomsverskil is baie groot. Jimmy het gevra wie ek is en van waar ek is. Hy het toe gevra ek moet sy vriend (Clint) kom ontmoet. Ek het gesê: ‘Sê vir jou vriend hy kan na my toe kom! Haha.’” 

Avril vertel Clint het toe aangestap gekom, hy het ’n bekende gesig gehad, maar sy het nie geweet wie hy was nie. “Toe hy sukkel-sukkel aankom, het hy homself voorgestel. Hy is ’n aantreklike man.”

Sy voeg by: “Dis nie ongewoon vir modelle om met ouer mans uit te gaan. Ons bond was definitief ons maller persoonlikhede. Ons het vir maande uitgegaan en hy het ook Suid-Afrika toe gekom, hy het vir Invictus kom skiet. Ons het gebly in die beste hotelle en ek het hom na ’n paar plekkies toe gevat.”

“Dit was baie lekker tye, maar dis in my verlede, ek is nou gelukkig getroud.”

Lees meer oor Avril se agtergrond, haar drome, Hollywood en nog meer.

Hoe oud was jy toe jy begin modelleer het en hoe was jy “ontdek”?

Ek het begin toe ek so 11 jaar oud was, dit was die tyd toe Amor Vittone my ontdek het. Ons het ’n modelskool begin opsoek toe kry ons vir Ingrid Ferreira wat ’n skool gehad het in Jeffreysbaai. My hele reis het toe daar begin, ek het verskeie kompetisies gedoen en die res is geskiedenis!

Wanneer het jy oorsee gegaan vir modelwerk en waar in die wêreld het jy orals gewerk?

Ek was 19 jaar oud toe ek vir die eerste keer oorsee gegaan het vir modelwerk. Die eerste keer was in Londen waar ek vir twee jaar modelwerk gedoen het. Dit was baie lekker en een van die beste tye van my lewe. Daarna was ek Parys toe en toe Italië toe waar ek my man ontmoet het. Ek het verskriklik baie werk daar gedoen, van die mense met wie ek gewerk het, was Diego dalla Palma, Dolce & Gabbana en Grace Pace. Sjoe, dit was lekker tye!

Het jy enige ander “Hollywood celebs” met wie jy vriende was of is?

Ek dink nie mense verstaan hoe klein die bedryf is nie en noudat daar sosiale media is en hoe ons almal na-aan mekaar is met ’n druk van ’n vinger. Natuurlik ken ek ander mense en het ek baie mense ontmoet met hom. Ek het al die ander akteurs van Invictus ontmoet en ons het almal saam getoer. Die vraag is eintlik: “Hoeveel ander mense ken nou vir Avril Albetti?”

Hoe het jy jou man ontmoet? 

Die is my gunsteling-vraag! Ek was in Londen en moes toe Italië toe gaan vir werk. Een van my vriende het my voorgestel aan hom in 2006 en gesê ek kan sommer met Arries praat as ek daar is. Ek sou sê Arries was dadelik verlief toe hy vir my sien! Hy het gedink ek is baie pragtig en gedink ek is uniek. Toe ek Italië toe reis het ek ongelukkig nie vir hom gesien nie.

’n Jaar later het ons mekaar in Sandton City raakgeloop. ’n Vriendin was saam my en sy het vir my gesê sy het nou net die mooiste man gesien en ons moet die anderkant omloop. Ek loop toe saam met haar en sien toe vir hom, maar ons het nie gekliek dat ons mekaar ’n jaar gelede ontmoet het nie. Hy het Suid-Afrika toe gekom vir modelwerk en toe ons oë kliek, toe stop alles net daar. Ons het daardie aand gaan uiteet en ook na sy familie se vakansiehuis in Kenia gegaan. Dis rêrig ’n liefdesverhaal, hy sê altyd dit is ons “destiny”, want hy het vir iets heeltemal anders Suid-Afrika toe gekom en toe loop ons “randomly” in mekaar vas. Ons is nou vir 16 jaar saam en het twee pragtige seuntjies, Adriano (8) en Armando (4). Ek kan rêrig heeldag hieroor praat.

Hoekom het julle besluit om julle in Suid-Afrika te vestig en nie in Italië of Amerika nie?

Ons het besluit om ons hier in Suid-Afrika te vestig. Ons is nou al hier vir sowat agt jaar. Suid-Afrika is rêrig die mooiste plek. Ek is mal oor Italië, ek praat die taal asof dit my moedertaal is. Ek het gehou van die veiligheid, maar daar is nie ’n plek soos Suid-Afrika nie.

Ek bid rêrig dat ons werk aan ons land se veiligheid. Daar is al so baie gedoen in lande soos Italië en Amerika. Ons wil daai geleenthede na Suid-Afrika toe bring: Arries het sy eie sokker-akademie, Soccer Dream. Hy vat talent uit Suid-Afrika en vat kinders oorsee wat nie geleenthede in hul gemeenskappe het nie. Ek voel dis my goddelike plig om uit te help waar ek vandaan kom. Daar is baie wat hulp nodig het en baie werk wat gedoen kan word. Ons gaan baie Italië toe, sy ouers is nog daar.

Wat is ‘n droom/ doelwit wat jy nog sal wil bereik? 

Ek is Avril van feetjieland! Ek droom verskriklik baie: My droom is om ’n plekkie op te rig in Loerie waar kinders vaardighede kan aanleer wat hulle sal help in die toekoms, want daai plekke bestaan nie. Ek gaan nou vir goud, want niks staan in my pad nie. Ek werk hand aan hand met God. Dis nou my tyd!

Avril is in die sesde episode van  Die brug uitgestem. Sy was die eerste leier op die reeks. Alhoewel sy bekend was as iemand wat gereeld grappe sou maak, was sy ook baie ernstig daaroor om die brug klaar gebou te kry. Sy is bekend vir die gesegde “ons is nie meer in feetjieland nie!” 

Kyk na haar reis op Die brug hier:

Skakel elke Donderdag om 20:00 in op kykNET, kanaal 144 vir Die brug en gesels saam op Facebook, X, Instagram en TikTok deur die hutsmerk, #DieBrug te gebruik.