Logo
BSV 1600x160 Slim Homepage

Boer soek ‘n vrou: Die liefde loop hoog!

Nuus
17 April 2021
Dit was ‘n besondere geil liefdes-oes vir Boer soek ‘n vrou se dertiende reeks met ses van die top-10 boere wat liefde gevind het. Ons het gaan uitvind hoe dit nou met die boere, waarvan ‘n heel paar van hulle op die oomblik hard aan die oes is, gaan sedert die reünie-program op 16 Desember 2020 verfilm is.
1

Niel het met die opneem van die Boer soek ‘n vrou op ‘n plaas in Grabouw gewoon en gewerk, maar vroeër vanjaar het hy op ‘n vrugteplaas buite Prince Alfred Hamlet begin werk. Hy en Chereze het saam by die reünie opgedaag en is nou, bykans vier maande later, steeds ‘n paartjie.

Hoe gaan dit op die liefdesfront? Het die liefde gewen?

Dit gaan met my en Chereze baie goed. Ons is regtig op ‘n goeie plek. Ons het al gepraat oor die volgende stap en is besig om te werk aan ‘n paar nuwe toekomsplanne vir ons. Ek is baie opgewonde. Liefde het beslis gewen.

Het hy die Boer soek ‘n vrou-ervaring geniet? Sou het dit weer doen en is daar iets wat hy anders sou doen?

Ek weet nie waar om te begin om te verduidelik hoeveel ek dit geniet het nie. Dit was moeilik – die blitsafsprake en die week op die plaas veral – maar dit was ‘n absolute fees daarna. Ek het soveel van myself in die proses geleer. As dit nie vir Boer soek ‘n vrou was nie, sou ek myself seker nooit geforseer het om uit te gaan en myself oop te maak vir liefde nie. Ek sou beslis nie iemand soos Chereze ontmoet het nie. Ek dink die aanknopingspunte as gevolg van die proses het dit net soveel makliker gemaak. Ons het reguit gefokus op dit waarop gefokus moet word. As ek terug kyk na die ondervinding, sal ek beslis mense aanbeveel om deel te neem. Daar is niks wat ek anders sou doen nie. Dit was moeilik met die pandemie en ek dink veral vir die produksiemaakskappy was dit ‘n aanpassing, maar selfs met dit sou ek niks verander nie.

Wat is sy raad aan boere wat wil inskryf?

Ons boere is oorgelewer aan die natuur en markte en ons werk in ‘n stelsel waaroor ons onseker is oor baie dinge. As ons deur dit alles steeds ‘n sukses van boerdery kan maak, sal ek ander boere daar buite beslis aanraai om die kans te waag om ‘n klein stukkie van jou tyd en jou lewe af te knyp om in te skryf. Jy mag dalk net verras word deur hoe dit uitdraai.

As jy jouself en jou tyd in Boer soek ‘n vrou belê, kan ek jou waarborg jy gaan met ‘n massiewe return on investment uitstap en nie vir ‘n oomblik spyt wees nie. Ek is nie vir een oomblik spyt nie. Nie net het ek liefde gevind nie, maar ook met hordes vriende uitgestap. Jy is blootgestel aan al hierdie nuwe dinge wat jou lewe oper en wyer maak en jy gaan dinge van buite na binne kan sien. Dit is ‘n lewensvereikende ervaring.

1618392655 27 6

Déan, die 28-jarige vlieënier en makadamia-boer van Nelspruit, laat weet dit gaan goed met die liefde. Hy en Megan, wat in sy top-3 was, maar eerste huistoe gestuur is, is nou ‘n maand of wat ‘n paartjie. “Dit gaan regtig goed. Ek is baie gelukkig.”

Het hy die Boer soek ‘n vrou-ervaring geniet? Sou het dit weer doen en is daar iets wat hy anders sou doen?

Dit was een van die beste besluite in my lewe. Dit was ‘n ongelooflike ervaring wat ek vir die res van my lewe na aan my hart sal dra. Dis hartseer dat dit nou verby is. Daar is nie ‘n dag wat verbygaan wat daar nie iewers ‘n herinnering opduik wat my laat glimlag of hoendervleis gee nie.

Ek sal dit sonder twyfel weer doen en ek sou niks anders gedoen het nie. Ongeag hoe dinge nou vir my uitgewerk het, sou dit nie so gebeur het as ek ander keuses gemaak het nie. Megan, wat ek nou in my lewe het, sien dit ook so en sy is nie kwaad of ontsteld dat sy nie die een was wat ek op die ou end gekies het nie. Dinge het ‘n snaakse manier om uit te werk – die regte besluit sal wel oor jou pad kom. Moet net nooit iets forseer nie.

Wat is sy raad aan boere wat wil inskryf?

Ek sou vir enige boer wat dit oorweeg om in te skryf, sê dat hulle dit sonder twyfel moet doen. Moenie worry oor wat ander mense gaan sê of van jou dink nie. Dit gebeur in elk geval nie. Die bietjie negatiwiteit wat jy kry, is ‘n druppel in die emmer. Die positiewe oordonder die negatiewe. Jy het die kans om dit te doen en glo my, dit is 100 persent die moeite werd.

Die mense wat jy ontmoet, die vriende wat jy maak, die plekke wat jy sien en die lekker van alles, is van onskatbare waarde.

Ek het vir Willem Pool van die vorige reeks gevra of dit die moeite werd was, en sy antwoord het my ‘n ekstra hupstoot gegee. Soos Willem gesê het: As jy met ‘n nooitjie op die ou end van die dag wegstap, is dit ‘n bonus. Wie nie waag nie, wen nie.

 

Kobus, die wewenaar wat buite Randfontein boer, se keuse het dalk nie op een van die drie dames wat op die plaas was geval nie, maar hy het wel iemand ontmoet wat hom gekontak het ná sy hom op die program gesien het wat saam met hom die reünie bygewoon het. Nastassja en Kobus het egter intussen besluit dat hulle net vriende is.

Hoe gaan dit op die liefdesfront? Het die liefde gewen?

Die liefde wen altyd wanneer jy die regte keuse gemaak het en die regte persoon gevind het wat werklik vir jou as persoon, as mens omgee. Dan sal liefde oorwin.  Ek het iemand ontmoet wat werklik vir my uitstaan. Ek het my keuse gemaak op grond van aanpassing. Jy kan niemand verander nie, maar ek glo jy kan aanpassings in jou lewe maak om die liefde te laat wen. Soos my spreekwoord: Liefde is altyd lekker, maar lekker is nie altyd liefde nie.

Ek is op ‘n ouderdom in my lewe waar ek nie meer tyd het vir nonsens en ditjies en datjies nie. Ek wil graag settle en soek iemand wat my belange op die hart dra. Wat saam met my kan bid. Die natuur kan waardeer en ‘n sonneblom kan pluk en besef dis ‘n skepping van God.

Het hy die Boer soek ‘n vrou-ervaring geniet? Sou het dit weer doen en is daar iets wat hy anders sou doen?

Ek het dit bitter baie geniet. Ek het soveel nuwe mense ontmoet en ongeag die kritiek wat ek op Facebook en so gekry het, is daar nog steeds mense wat weet hoe my hart is en waarvoor ek staan. Ek het geleer om kritiek te vat en dit te laat verbygaan. Ek het op ‘n keer ‘n man in ‘n restaurant in Marienthal gesien wat vir my gesê het hy ken my, maar die eintlike mense wat my ken is my kinders, my ouers en my vriende. Hulle weet wie en wat ek is.

Die enigste ding wat ek sou wou verander, maar dit kon ongelukkig nie gebeur het nie, was om die laaste twee dames se familie en vriende te ontmoet. Die dames wat ek op die plaas gehad het, was regtig wonderlik, maar ek het net besef hulle gaan nie aanpas nie.

Wat is sy raad aan boere wat wil inskryf?

Go for it. Maar glo my: Jy gaan kritiek moet kan hanteer. As jy nie kan nie, los dit. Almal gaan nie ten gunste van jou wees nie. Ek het nie ingeskryf om almal aan my kant te kry nie. Ek was myself gewees, voor en agter die kameras.

Die manne kan inskryf, maar hulle moet weet dat hulle kritiek gaan kry. Alles gaan nie maanskyn en rose wees nie.

Albert, die rooikop rooibostee-boer van Clanwilliam, is een van dié wat liefde gevind het.  

Hoe gaan dit op die liefdesfront? Het die liefde gewen?

Ek en Marlia het ná die vakansie besluit ons is net vriende. As jy nie van iemand hou nie, kan jy dit nie ryp druk nie. Ek is aangetrokke tot haar, maar nie vir ‘n verhouding nie. Maar ja, die liefde het gewen.

Baie van ons boere en van die vroue wat ingeskryf het, volg mekaar op Instagram. Dit is hoe ek en Chanté – sy was in my top-5 – weer kontak gemaak het. Chanté het in Pretoria gewoon en haar B.Rek.-klerkskap verlede jaar voltooi. In Februarie het sy ‘n foto geplaas en toe ek haar vra wat sy in die Kaap maak, het sy laat weet sy soek blyplek want sy het werk in die Kaap gekry. Ek het by haar gaan kuier en sonder al die kameras kon ons mekaar beter leer ken. Vandaar het die dinge gebeur.

Het hy die Boer soek ‘n vrou-ervaring geniet? Sou het dit weer doen en is daar iets wat hy anders sou doen?

Dit was ‘n lieflike lewenservaring. Ek het baie meer ontpop. Ek praat makliker met vreemde mense en het uit my gemaksone gekom. Ek sal enige boer aanbeveel om in te skryf. Dis ‘n ervaring wat jy nie weer gaan kry. Moenie twee keer dink nie. Wat is die slegste wat kan gebeur?

Wat is sy raad aan boere wat wil inskryf?

Moenie twyfel nie. Enige man met enige persoonlikheid kan inskryf. Moenie dat dit jou terughou nie. Ek het ook vriende gemaak wat ek glo ek vir ‘n leeftyd gaan hê. Ons boere het kontak met mekaar, ek veral met Mathys en Neil. Mathys het ná die reünie by my op die plaas kom kuier en oor drie weke vlieg ek en Chanté sodat ek haar ouers kan ontmoet. Chanté moet na die naweek terug kom om te werk, maar Mathys kom my haal en dan gaan ek by hom op Dullstroom kuier.

1618392444 27 3

Richann, met sy voorliefde vir musiek en die buitelewe en wat by Vredefort in die Vrystaat boer, en René het sommer vinnig besluit hulle gaan ‘n verhouding ‘n kans gee.

Hoe gaan dit op die liefdesfront? Het die liefde gewen?

Dit gaan baie goed. Ek en René is besig om aan ‘n paar projekte te werk. Die liefde het defnitief gewen. Ek dink daar is ‘n paar lekker goed wat help om die verhouding deur sy stadium te sit. Ons leer om mekaar te hanteer en hoe om mekaar aan te vul wat amazing is.

Het hy die Boer soek ‘n vrou-ervaring geniet? Sou het dit weer doen en is daar iets wat hy anders sou doen?

Dit was ongelooflik lekker gewees. Ek is baie verlig oor hoe dit uitgedraai het. Ek dink jy maak jouself reg vir die ergste om te gebeur, maar my ervaring was ongelooflik gewees. Die onbekende, om nuwe mense te ontmoet. Behalwe nou dat ek iemand kon ontmoet met wie ek ‘n pad kan stap, het jy ook nuwe vriende gemaak. Dit was nie vir my die doel in die begin gewees nie. Ek het nie daarop gefokus nie, maar dit het ook gebeur. Ek sou dit beslis weer doen en sou niks anders doen nie.

Wat is sy raad aan boere wat wil inskryf?

Jy wil eintlik net vir hulle sê: As dit belangrik genoeg is vir jou om iemand te ontmoet, moenie bang wees nie. Moenie dink jy het ‘n sekere persoonlikheidstipe nodig om op die program te wees nie. Mens hoor gereeld mense sê hulle is nie die mens wat dit kan doen nie. Dis nie vir ‘n sekere mens nie. Dis vir iemand wat iemand soek. Jy mag dalk net iemand kry en die proses mag jou dalk net verbaas. Moenie dink nie, doen net!

1618392496 27 4

 

Hannes, die 52-jarige wewenaar van Kroonstad, het laat weet hy het iemand ontmoet wat vir hom ‘n brief geskryf het.

Het hy die Boer soek ‘n vrou-ervaring geniet? Sou het dit weer doen en is daar iets wat hy anders sou doen?

Ek het dit baie geniet. As ek nie iemand ontmoet het nie, sou ek beslis weer inskryf.

Wat is sy raad aan boere wat wil inskryf?

Vat ‘n kans en doen dit net.

Stephan, die 40-jarige bees- en saai-boer van Lichtenburg, sê sy deelname aan die program het beslis die soektog na die liefde aangewakker. “Ek het in twee jaar niemand in Lichtenburg ontmoet of selfs uitgegaan nie, maar het nou al ‘n hele paar dames onmoet, ook van hulle wat vir my briewe geskryf het.”

Hy sê dat hy op die oomblik iemand sien, maar dit is volgens hom nog nie “op die ernstige liefde-fase nie”.

Boer soek ‘n vrou het ‘n verskil in my lewe gemaak,” sê hy. “Dit het my ‘n goeie kans gegee om myself daar buite te sit en te sê ek is op soek na liefde. Ek het nog nie heeltemal gewen nie, maar dink ek is besig om te wen. Ons sal sien hoe dit met hierdie nuwe verhouding gaan, en indien dit nie werk nie, kan ek weer terugval na die briewe. Dit maak die proses makliker as iemand reeds vir jou so ‘n mooi liefdesbrief gestuur het.”

Het hy die Boer soek ‘n vrou-ervaring geniet? Sou het dit weer doen en is daar iets wat hy anders sou doen?

Ek het dit baie geniet. Dit was geheel en al buite my gemaksone, maar het gehelp met my persoonlike groei. Ek sou dit weer doen as ek kan en sou graag deel van die top-5 gewees het om deur die hele proses te gaan. Dis ‘n lekker ervaring wat ek beslis sal aanbeveel. En nee, daar is niks wat ek anders sou doen nie.

Wat is sy raad aan boere wat wil inskryf?

Wees eerlik en opreg van die oomblik wat jy inskryf. As jy nie is nie, gaan dit jou iewers op die pad vang. Jy moet dit ook vir die regte redes doen en dit is om liefde te vind.

Ek is dankbaar dat ek die ander boere ontmoet het. Ons tien boere het ‘n WhatsApp-groep waar ons kontak hou, hoor hoe dit met mekaar en ons onderskeie boerderye gaan. Ek het dus in die proses ook nege nuwe vriende gemaak.

Mathys, die 25-jarige gegradueerde wat ná ‘n tyd in die stad besluit het die familieplaas op Dullstroom is tog vir hom, glo “die Groot Baas” het ‘n plan vir hom. “Op die oomblik is ek enkellopend. Ongelukkig het dinge nie uitgewerk soos ek gehoop het nie, maar daar is ‘n plan vir alles.”

Het hy die Boer soek ‘n vrou-ervaring geniet? Sou het dit weer doen en is daar iets wat hy anders sou doen?

Ek sal dit sonder twyfel weer doen. Die ervaring was ongelooflik gewees en ek verruil dit vir niks anders nie. Al die briewe en aandag is bietjie oorweldigend. As ek weer die geleentheid sou kry, sou ek tyd vat om die persoon beter te leer ken. Dalk eers ‘n paar vriendinne maak en dan die padjie begin stap.  

Wat is sy raad aan boere wat wil inskryf?

Doen dit net. Moenie dink nie, doen! As jy vir die regte redes inskryf, sal jy nie teleur gestel word nie. Dis een moerse ervaring.

Marthinus, die 25-jarige boer van Arlington in die Vrystaat, het eers landbou-ekonomie studeer voor hy op sy ouers se plaas ingeval het.

Hoe gaan dit op die liefdesfront? Het die liefde gewen?

Ek het enetjie saam met wie ek kuier. Sy is krapperig met die min aandag op die oomblik aangesien ons op die oomblik stroop, maar dit is ‘n boer se lewe. Sy woon in die Kaap en dit maak dit ook bietjie moeiliker. Behalwe oor die foon, het ons al twee keer in persoon gekuier – ek was in die Kaap en sy het op die plaas kom kuier. Ek wil nog nie sê wat haar naam is nie, want dis nog in die begindae.

Het hy die Boer soek ‘n vrou-ervaring geniet? Sou het dit weer doen en is daar iets wat hy anders sou doen?

Ja, baie. Dit was baie interessant om te sien hoe die hele proses werk en hoe ‘n TV-produksie aanmekaar gesit word. Ek het ook nuwe vriende gemaak en dit doen mens se selfvertroue goed. Ek het ook besef daar is nog baie goeie meisies daar buite. Ek het elkeen van die briewe gelees. Daar was ‘n paar interessantes, maar dit was oorwegend baie goeie inskrywings. Dit is verstommend hoeveel moeite hulle met die inskrywings doen. Ons kan ons ou skoene agterna gooi.

Ek sou niks anders gedoen het nie. Mens weet nie wat om te verwag nie, maar die produksiespan het ons baie mooi deur die hele proses gelei. Ons was in veilige hande.

Wat is sy raad aan boere wat wil inskryf?

Hulle moet net inskryf. Ek kyk nie een oomblik terug nie. Dit is ‘n een keer in ‘n leeftyd geleentheid. Ek het ook nuwe vriende gemaak en ons boere hou kontak. Dis interessant om te hoor wat die ander doen en hoe hulle dit doen. Ek het voor die tyd niks geweet van byvoorbeeld rooibos- of makadamia-boerdery nie. Hulle is ook ‘n baie positiewe groep mans en dit help altyd. Hierdie was beslis ‘n verrykende ervaring op vele vlakke.

PF, die 30-jarige derde-generasie boer van Laingsburg, het gehoop hy vind liefde by ‘n vrou wat selfstandig is en by ‘n groot familie sal inval.

Hoe gaan dit op die liefdesfront? Het die liefde gewen?

Dit gaan uitstekend. Ek en Chantelle is al amper sewe maande saam. Sy het nader getrek en hou nou skool hier en ons al twee is opgewonde oor wat die toekoms inhou. Ek is honderd persent oortuig ek het die regte een raakgeloop. Ek is baie happy.

Het hy die Boer soek ‘n vrou-ervaring geniet? Sou het dit weer doen en is daar iets wat hy anders sou doen?

Ja-nee, beslis. Dit was lekker gewees om bietjie blootstelling te kry aan die TV-wêreld, iets wat jy glad nie in boerdery kry nie. Dit was groot pret gewees. Ek dink nie dat sal nodig wees om dit te doen nie! (Lag.) Een keer was genoeg en die eerste keer het ek my geluk gekry. Nee, ek sou niks anders gedoen het nie. Ek is baie gelukkig dat ek deur die proses op my eie gegaan het en ek het dit baie geniet. Ek het baie geluk daardeur gevind en sou niks anders gedoen het nie.

Wat is sy raad aan boere wat wil inskryf?

Gryp elke geleentheid aan. Jy gaan nie spyt wees nie. Jy moet voor die tyd dink en bid wat jy uit die program wil hê en dan voluit daarvoor gaan. Moenie dat ‘n geleentheid of ‘n brief of ‘n dame verbygaan nie. Jy gaan nooit weer daardie kans kry nie. Maak die beste daarvan.

1618392394 27 2

As jy 'n enkellopende boer is wat op soek is na liefde, skryf in vir die 14de seisoen van Boer soek 'n vrou