Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Desiré deel groot nuus en só lyk sy nou!

Nuus
11 Maart 2016
Een van kykNET se gewildste persoonlikhede, Desiré Gardner, is swanger.
Desire Nuwe Voorkoms

Een van kykNET se gewildste persoonlikhede, Desiré Gardner, is swanger. Dié nuus word ook in Sarie, wat binnekort op die rakke verskyn, bekendgemaak.

Sy was tot onlangs nog in Binnelanders en maak vroeg volgende maand vir die eerste keer haar verskyning in kykNET se Kaapse sepie, Suidooster. Vir Suidooster het Desiré ook ’n gedaanteverwisseling ondergaan en Daleen word nou Carmen, wat ’n aantreklike en borrelende blondine met ’n stoute kant is.

VIDEO: Desiré groet Binnelanders.

Desiré en haar gesin het onlangs ook Kaap toe verhuis en bly nou in Philadelphia, ’n klein dorpie net duskant Kaapstad.

Haar man, Chris, is ook agter die skerms by Suidooster betrokke as hoof van tegnies en beligting.

Ons het met Desiré, wat nou 20 weke swanger is, gesels.

2016 is ’n opwindende jaar vir jou! Julle het Kaap toe getrek, en jy’t ’n nuwe rol in Suidooster. Nou’s jy swanger ook! Hoe voel al hierdie veranderings vir jou?

Vir ’n mens wat skrikkerig is vir verandering was dit presíés wat ek nodig gehad het. Met die onsekerheid wat maar saam met verandering kom, was die seëning van elkeen van die veranderings wonderlik. Veral die nuwe mensie wat nou vir ons geleen word. Ek sien so uit om hom of haar in ons lewens in te nooi. Dis alles baie, baie opwindend.

Wat is die grootste uitdaging vir jou noudat jy weer swanger is?

Ek dink om vir die tweede keer swanger te wees is heel anders as die eerste keer. Met jou eerste baba kan jy met jou voete in die lug lê en rustig wees net wanneer jy wil, maar met die tweede een moet jy nog die eersteling ook besig hou – ek kan net dink hoe besig sal mens wees met drie kinders! Maar dis ’n lekker manier van besig wees. My uitdaging is dus ook om vir James soveel as moontlik deel te maak van die swangerskap, sodat hy ook opgewonde raak oor die nuwe baba.

Hoe het James gereageer toe hy hoor hy kry ’n boetie of sussie?

James, wat in Mei vier word, het gesê hy gaan vir Peanut (dis wat hy die baba noem) leer skateboard ry en suur-uitjies eet – so ek neem aan hy is opgewonde!

Wat geniet jy van ma-wees?

Elke liewe ding. Die moegwees, onsekerheid oor dissipline en vrese ingesluit. Ek love my seuna en sien so uit na die baba – bloot omdat dit ’n hele nuwe mens is waarmee ons ’n huis kan deel. Dis seker soos ’n sleepover vir die volgende 18 jaar. Hoe gelukkig kan ’n mens nou wees? Met twee great ekstra mense!

Wat is die belangrikste raad wat jy vir enige nuwe ma kan gee?

O gonna, dis moeilik. Ek vat dit maar soos dit kom, elke dag. Ek dink my beste raad is om jou kind groot te maak met ’n sin vir humor. En dat as (of eerder wánneer) jy ’n fout maak as ma, is dit oukei, want ’n fout wat gemaak word uit ’n plek van liefde is nie so erg nie. Wees net lief vir jou kind, en maak besluite gebaseer op daai liefde. Dis maar die maklikste.