Logo

Is jy ʼn jong skrywer van televisietekste?

Dan is hierdie geleentheid vir jou bedoel!

Die Jakes Gerwel Stigting (JGS), in samewerking met die M-Net Kanale, is opgewonde om ʼn splinternuwe mentorskapprogram vir vyf ontluikende draaiboekskrywers te kan aankondig.

Paulet Huis

Die mentorskap sluit ʼn intensiewe program in vir die skryf van televisieteks vanaf 18 tot 30 September 2023 by die Stigting se skrywershuis in die Oos-Kaap en ʼn internskap by M-Net Kanale waarvan die plasing sal afhang van die individuele teksskrywers se vaardighede.

Twee groot name in televisiekringe, Tina Kruger en Mbulelo Grootboom, is die mentors wat die vyf verkose teksskrywers sal lei in die vorming en polering van hul televisietekste vir produksie op televisie.

Paulet Huis

Die suksesvolle aansoekers sal gehuisves word in Paulet Huis, die historiese skrywershuis van die Jakes Gerwel Stigting, wat geleë is in die prentjiesmooi Somerset-Oos in die Oos-Kaap. Behalwe dat die program verseker ʼn belegging in die ontwikkeling van hul skryftalent is, kan die teksskrywers uitsien daarna om die inspirasie en gemak van die sjarmante skrywerstuiste saam met ander skrywers te deel.

Die skryfprogram sluit in:

  • Nasionale retoerkaartjies na Gqeberha (Port Elizabeth), indien nodig
  • Vervoer tussen die lughawe en Somerset-Oos
  • ʼn Gerieflike, eie “kamer-met-ʼn-uitsig”
  • Die Stigting se inwonende sjef se heerlike maaltye
  • Skoonmaakdienste
  • Onbeperkte toegang tot die Internet
  • Die leiding van twee ervare mentors wat hulself bewys het in die televisiewêreld
  • ʼn Skryf- en leergeleentheid sonder die onderbreking van beurtkrag

Belangstellende teksskrywers moet hul aansoeke stuur aan die uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, Theo Kemp, by [email protected] teen 9 Junie 2023.

Vereistes vir aansoeke wat ingedien word:

  • ʼn Vars, nuwe televisieteks of ʼn uittreksel uit ʼn televisieteks in Afrikaans of Engels
  • ’n Kort CV van die kandidaat
  • ’n Motiveringsbrief vir die aansoek om me,torskap
  • ʼn Voorlegging (“pitch”) vir ʼn oorspronklike konsep vir ʼn TV-reeks wat soos volg uiteengesit is:
    • ʼn Loglyn van 35 tot 45 woorde
    • ʼn Opsomming van 300 woorde van die konsep
    • ʼn PDF van ongeveer 10 A4-bladsye van die eerste bedryf van die proef-episode in aanvaarde TV-teksformaat

Die name van die suksesvolle kandidate sal aangekondig word op 7 Augustus 2023.

Paulet Huis

Meer oor die mentors:

Tina Kruger is ervare in alle aspekte van televisie, vanaf speel voor die kameras, regisseurswerk en vervaardiging tot skryf vir die televisie en films. Tina het ʼn entoesiasme vir skryf en het verskeie sepies, dramareekse, jeugprogramme en ook vollengte en kortfilms op haar kerfstok. Sy het reeds die ontwikkeling, vervaardiging, uitsaai en verspreiding van meer as dertig plaaslike televisiereekse, twintig vollengte films, sestig kortfilms en vier internasionale medevervaardigde produksies behartig. Dit sluit die films Vir die Voëls en Leading Lady asook die TV-reekse Getroud met Rugby en Sterlopers in.

Tina geniet dit om jong filmmakers te mentor, sy het ʼn grondige kennis van die plaaslike mark en sy leef daarvoor om eerlike, kragtige en oorspronklike Suid-Afrikaanse stories wat oor grense strek, te vertel.

 

Mbulelo Grootboom is ʼn gesogte toneel- en filmakteur asook ʼn hoogs aangeskrewe regisseur, vervaardiger en toneelskrywer. Mbulelo het ʼn uitsonderlike talent vir tale en is vlot in isiXhosa, Engels en Afrikaans. Hy is bekend vir sy rolle in The Red Sea Diving Resort, Skemerdans, Bulletproof, White Wedding, Zbondiwe, die nuwe weergawe van Roots, Suidooster en Stellenbosch, om ʼn paar te noem.

Met ʼn BA-graad in drama en teaterkuns van die Universiteit van Kaapstad het Mbulelo plaaslike en internasionale toekennings verwerf vir beste akteur, insluitend ʼn Fleur du Cap en ʼn Ovasie-toekenning van die Nasionale Kunstefees in 2013 asook ʼn Kanna-toekenning van die KKNK in 2018.