Logo

Winslyn: Die belangrikheid van borgskappe vir kunstefeeste

Nuus
27 Maart 2015
Die finansiering van die kunste het in Dinsdag se episode van Winslyn onder die soeklig gekom.
kn_winslyn_20150324_feeste

In Dinsdag se episode van Winslyn het Paul Bayliss, Absa se kuns- en museumkurator, Annalie Watt van Repucom en Nita Cronjé, die ATKV se bestuurder vir produksies en feeste, byeengekom om oor die betrokkenheid van borgskappe by kunstefeeste te gesels. Izelle Venter van Media24 het via Skype by die gesprek aangesluit.

Volgens Cronjé dek die ATKV se bedrywighede ’n groot spektrum. “Die ATKV vervul sy eie missie deur betrokke te wees by kunstefeeste,” het sy gesê.

Die Absa KKNK het ’n groot impak op die gemeenskap van Oudshoorn, meen Bayliss. Hy het gesê dit maak die fees langlewend.

“Sosiale media is ongelooflik belangrik vir die bemarker,” het Watt gesê. Sy meen dit help bemarkers om interaksie met feesgangers aan te moedig. Verder abba die media en kunstefeeste mekaar. Volgens Venter is Media24 ’n maatskappy wat stories vertel, en dít is hoekom hy kunstefeeste gebruik om sy handelsmerk uit te brei.

Divan Botha het via Skype met Petrus Jansen, eienaar van Kogman & Keisie Gasteplaas in Montagu, oor eko-toerisme gesels. Jansen het gesê dié gasteplaas is ook by die gemeenskap betrokke, en wil oor drie jaar nie meer deel van die krag- en waternetwerk wees nie.

Craig Bright van Seed Experiences was in die ateljee om oor musiekfeeste te gesels. Die gewilde “groen” Rocking the Daisies-musiekfees het aan die begin net 700 mense gelok. Vandag lok dit sowat 25 000. Volgens Bright is die klem op organiese groei. “Jy maak nie maklik en vinnig geld nie,” het hy gesê.

Santie Botha het via Skype by Karen Wessels van VA Connect gehoor wat die werk van ’n virtuele assistant behels. Sy het vertel VA Connect bied ondersteuning met tydrowende administratiewe prosesse. Dié ondersteuning word volgens die kliënt se spesifieke behoeftes gemeet en pas.