Logo
slim BB kwela
web uni tv guide

Kwêla

144TydskrifprogramPG13 VL

Willem Botha en Tarryn Lamb span kragte saam vir hartroerende liefdesduet

Nuus
31 Januarie 2020
’n Liefde Soos Die is die splinternuwe treffersnit deur twee van ons land se mees geliefde stemme – Willem Botha en Tarryn Lamb. Hierdie dinamiese duo is nie net goeie vriende nie, maar het besluit om kragte saam te snoer vir hierdie hartroerende liefdeslied.
Nuwe Enkelsnit – Vrydag

Dis beslis ‘n snit wat aan die hartsnare roer en almal wat verlief is of was sal daarby aanklank vind. Liefde is ‘n universele tema wat almal ‘n bietjie blind maak, maar liefde is iets besonders en as jy die spesiale een ontmoet is dit sprokiesmooi.

Die enkelsnit vorm deel van Willem Botha se nuutste album, ’n Liefde Soos Die, wat op 14 Februarie landswyd asook digitaal beskikbaar sal wees. Vir nou kan aanhangers reeds die enkelsnit op alle digitale platforms luister en die musiekvideo is ook op YouTube te sien.

“Ek dink die liedjie gaan baie gewild by veral troues wees,” vertel Tarryn. “Liefde is die klein dingetjies vir my en die lirieke praat met my hart. Ek hoop mense gaan net so mal wees oor die liedjie soos ek,” voeg sy by.

Oor hoekom hy Tarryn gekies het vir die duet sê Willem “Ek is ‘n groot aanhanger van haar en ons het al ‘n hele paar keer saamgewerk, maar nie met ons eie oorspronklike liedjie nie. Ek dink sy het een van die beste stemme in die land en dis ‘n voorreg dat sy net so passievol oor die liedjie is as ek self.”

WILLEM BOTHA is ‘n plaasseun van Riversdal wat naam gemaak het met treffers soos Breek Op In Stereo, Swartskaap en Soen & Vergeet. Musiek is sy hooffokus en hy kan nie wag vir die nuwe album om die lig te sien nie. Hy is ook veldaanbieder vir Kwêla op kykNET, passievol oor fotografie en spandeer graag tyd saam met sy hondekind, Seven.

TARRYN LAMB was die hoofsanger van die groep BlackByrd en het as solokunstenaar naam gemaak met treffers soos Vier Woorde en Mal Oor Jou. Sy is ook mede-aanbieder van Maak My Famous op kykNET wat binnekort weer begin. Haar vermoë om emosie in dié lirieke vas te vang sorg vir hoendervleis oomblikke.

Willem Botha het die enkelsnit gekonsepsualiseer en neergepen saam met Hugo Ludik en Vaughan Gardiner. “Ek het baie jare gesoek en probeer om ‘n liedjie soos hierdie te skryf. Ek glo en hoop dat dit vir ander net so baie gaan beteken soos vir my persoonlik,” sê Willem.

Gryp die sneusdoekies nader want die musiekvideo sal jou moontlik ‘n traan laat pik. Willem & Tarryn het ‘n kompetisie geloods waar aanhangers hul trouvideo’s kon inskryf om deel te vorm van hierdie musiekvideo. Uit die honderde inskrywings is daar negentien video’s gekies waarvan skermgrepe in die musiekvideo gebruik is om die storie van ware liefde te vertel.

FACEBOOK: WillemBothaFanblad - TarrynLamb - TWITTER: @WillemBotha - @TarrynLamb - INSTAGRAM: @WillemBotha - @Tarryn_Lamb

VIR KONSERT BESPREKINGS EN NAVRAE VIR MEER INLIGTING OOR DIE ENKELSNIT kontak CORNÉ OOSTHUIZEN op 083 380 3810 of [email protected] asook LEOZELLE BEKKER op 074 643 5438 of [email protected]