Logo

‘Wild & Wragtag’ neem kykers op ’n jagtog

Nuus
11 Junie 2015
Die derde seisoen van dié reeks begin op 1 Julie om 21:00 op kykNET.
Wild en Wragtag Article

Die tydskrif Wild & Jag het die TV-reeks Wild & Wragtag in 2013 begin. Die derde seisoen van dié reeks begin op 1 Julie 2015 om 21:00 op kykNET.

Wild & Wragtag III het 13 episodes en word tot 23 September weekliks op Woensdae uitgesaai, met herhalings Vrydae om 22:30, Sondae om 01:00 en Maandae om 03:00.

Adam Tas is terug op sy aanbiederspos, saam met die veldaanbieder Jokl le Roux. Die span het Suid-Afrika deurkruis, vanaf die Kalahari in die Noord-Kaap tot die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Vrystaat, KwaZulu-Natal, Mpumulanga, Noordwes en Limpopo. Hulle het wildboere besoek en gesels oor die teel van gewone en skaars wildsoorte, asook kleurvariante, vir die jagbedryf sowel as die verkopersmark, hetsy uit die hand of op wildveilings. Wildveeartse en vangspanne is vergesel op hul daaglikse take om diere te behandel en te verskuif, en ’n wildveiling of twee is besoek.

In elke episode neem ons die kyker op ’n jagtog, van kleiner tot gevaarlike wild en voëljag. Ons bespreek nie net watter kaliber of boog geskik is vir ’n bepaalde spesie in spesifieke omstandighede nie, maar deel die jagter se ervaring in die natuur – om buite te wees waar jou sintuie alles om jou anders as in die stad ervaar.

Benewens verskeie nasionale en plaaslike skietdae waar skuts en lede van jagtersverenigings hul vaardighede teen mekaar toets om titels en pryse los te slaan, is daar in die derde reeks verskeie episodes waar ’n nasionale veldskietkampioen en Proteaskut ’n paar skiet-tegnieke en dissiplines met die kykers deel. Om in ’n jagsimulasie na papierteikens te skiet is immers anders as om in die veld op ’n bok aan te lê.

In die gewilde Wildswyshede, waarmee Jokl le Roux elke episode afsluit, leer ons meer oor die gedrag en kenmerke van verskillende diere, en Jokl deel van sy persoonlike ondervindings in die natuur met die kykers.