Logo

Wie is die glans-gaste?

Nuus
12 Maart 2015
Glans-gaste_resized-1024x688
Koekedoor het op ’n dramatiese noot afgeskop, en in die kombuis het dit gegons soos wat die deelnemers met tien van Suid-Afrika se bak-persoonlikhede én hul pronkgebak kennis gemaak het.

Wie is dié meesterbakkers?

Carmen Niehaus is al langer as ’n kwarteeu Huisgenoot se kosredakteur en was ook al ’n paar keer ’n gas op Kokkedoor. Daarmee was sy ook al aan die stuur van verskeie Wenresepte-kookboeke en doen kookdemonstrasies en optredes by alles van die KKNK tot Pasella.

Herman Lensing is Sarie se bekroonde kosredakteur en skrywer van die kookboek Voorskoot. In ’n bloginskrywing op Sarie se webblad verduidelik hy dat aan sjokolade verslaaf is en “eenvoudig nie kan nee sê nie”.

Die hoogs gerespekteerde Jacques Erasmus het Hemelhuijs in Kaapstad in Oktober 2010 oopgemaak nadat hy sukses behaal het by Simonsig se Restaurant Cuvée. Die restaurant het sedertdien uiters gewild geword, met die kos- en wynskrywer Michael Olivier wat dit beskryf as “’n plek om na terug te keer”.

Ons gesels met die meesterbakkers (deel 1):



Callie Maritz is Koekedoor-beoordelaar Mari-Louis Guy se kleinboet en die broer-en-suster span het al vyf kookboeke op hul kerfstok. Callie is ook die eienaar van Cakebread, wat kosstilering doen.

Wade van der Merwe is ’n bekroonde troukoekbakker en die man agter Cakes by Wade. Hy is al byna twee dekades in die bedryf en het vir sewe jaar by die Mount Nelson-hotel gewerk, met hul beroemde High Tea.

Daleen van der Merwe is kosredakteur by Human & Rousseau-uitgewers. Sy het reeds ’n groot bydrae tot verskeie Suid-Afrikaanse kosskrywers se loopbane gelewer en het die gewilde 7de Laan Kook-resepteboek saamgestel.

Ons gesels met die meesterbakkers (deel 2):



Vicky Gurovich is die pâtissière by The Four Seasons Hotel The Westcliff in Johannesburg. Sy is in 2012 aangewys as die Huletts Pastry Chef of the Year en was voorheen ook die pâtissière by die Mount Nelson se Planet-restaurant.

Johnny Hamman was die Kinkelkokwenner in Kokkedoor se tweede seisoen. Hy werk die afgelope 13 jaar in die kosbedryf en staan aan die hoof van die maandelikse opskiet-eetplek Slippery Spoon. Hy is, van alle dinge, ook ’n swartgordel-karateka.

Ons gesels met die meesterbakkers (deel 3):



Fritz Schoon is eienaar van De Oude Bank Bakkerij wat deel vorm van die uiters gewilde Schoon de Companje in Stellenbosch. Nadat Fritz die boubedryf verlaat het, het hy eers by Ile de Pain in Knysna gewerk voordat hy na die wynlande geskuif het.

Katrien van Zyl is die eienaar van Katrien’s Cakes in Kaapstad, waar sy treffende trou- en verjaardagkoeke bak, en het ook al verskeie bakboeke geskryf. Sy is ’n gekwalifiseerde huishoudkundige en het agt jaar in die gasvryheidsbedryf gewerk voordat sy haar onderneming begin het.

Koekedoor is op Facebook en Twitter.