Logo

Wêreldklas vermaak by die 22ste KKNK

Nuus
16 Maart 2016
Daar is geen verskoning om nie die 22ste KKNK van 24 tot 30 Maart op Oudtshoorn by te woon nie.
KKNK 2016 - Karli Heine - Heidi posts

Daar is geen verskoning om nie die 22ste KKNK van 24 tot 30 Maart 2016 op Oudtshoorn by te woon nie. Die feesdatums val nie net oor Paasnaweek nie, maar is ook tydens die nasionale skoolvakansie. Talle opwindende vertonings, met vermaak vir oud en jonk, is deel van die program.

As jy braaf genoeg is, is die sielkundige riller Kul ’n móét. Dit speel af op ’n stormagtige aand op die platteland, by ’n inrigting vir geestesversteurdes en gewelddadige moordenaars. ’n Skrywer daag op om ’n onderhoud met ’n reeksmoordenaar te voer. Die veteraan Tobie Cronjé, Nicola Hanekom en Wilhelm van der Walt, sal jou meevoer en op die punt van jou sitplek hou.

In Die Huis Van Bernarda Alba vertolk die bekroonde aktrise Antoinette Kellermann die rol van die stoere matriarg Bernarda Alba, wat na die dood van haar tweede man ’n vonnis van rou oplê. Haar dogters sal vir jare agter slot en grendel leef, maar in dié versmorende hitte broei ’n rebellie uit. Kellermann is vanjaar vereer met die Kunste Onbeperk-prys vir Vertolking. Oor die vertolking van dié rol sê Kellermann: “Natuurlik word mens ook gelei deur die regisseur en die stel- en kostuumontwerp. In dié proses en teenoor medespelers ontgin en soek ek maar nog steeds na antwoorde – iets wat nooit ophou nie.” Dawid Minnaar, Lida Botha en Cintaine Schutte sluit ondermeer by Kellermann aan in die produksie.

34 kknk 2016 antoinette


Die plekspesifieke drama Nagwandelaars, met Geon Nel, Carel Nel en Lanel van der Kolff, is ’n moderne aanbieding van C.J. Langenhoven se spookstories en is daagliks by Die Spookhuis te sien. Die lyne tussen realiteit en verbeelding vervaag en wie weet, dalk ontwaak die geeste van Die Spookhuis en luister saam?

Hennie van Greunen behartig die regie van Pa, ’n debuut drama met Chris van Niekerk in die hoofrol, saam met o.a. Milan Murray, Stian Bam en Ira Blankenberg. “Net soos jou pa is André om die beurt skreeusnaaks, vurig, sjarmant en uiteindelik breekbaar,” vertel Van Greunen. Dié Florian Zeller-treffer, Le Père (The Father), kry lewe in Afrikaans.

Gehore het die seldsame voorreg om werke van die Nobelpryswenner, Samuel Beckett, te sien in Nouliks of niks: Kort stukke deur Samuel Beckett. Dié opwindende konsep span vyf regisseurs en vier akteurs (Gerben Kamper, Nicole Holm, Albert Pretorius en Llandi Beeslaar) in, wat agt van Beckett se bekendste kort dramas in Afrikaans aanbied. Die produksie beloof om vol humor en nostalgie te wees. Nóg ’n vereerde, Willem Anker, het die vertaling behartig.

Musiekhoogtepunte is daar vele te kies en keur. Die musiekblyspel, Heidi, sal jou na jou kinderjare laat verlang met Karli Heine as Heidi en akteurs soos Dawid Minnaar, Tobie Cronjé, Albert Maritz en Ilse Klink. Die musiek is gekomponeer deur Mynie Grové. In die Zoid Afrika Afskopkonsert bring o.a. Karen Zoid, Francois van Coke, Anneli van Rooyen, Kahn Morbee en Corlea Botha ’n meesleurende mengsel van melodieë met ou en nuwe treffers na die fees, terwyl ou en bekende musiek in Schalk Joubert se Naledi berge nog so blou, met o.a. Koos Kombuis en Katlego Maboe gehoor kan word.

“Die KKNK word altyd geken aan gehalte produksies en hierdie jaar is geen uitsondering nie. Ons behou die sukses-elemente van die verlede en kombineer dit met verskeie nuwighede. Die betrokkenes en produksies sal sorg dat gehore vermaak en geïnspireer word,” sê Hugo Theart, kreatiewe hoof van Kunste Onbeperk, aanbieder van die KKNK.

Besoek KKNK se webblad by www.kknk.co.za vir meer inligting. Kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home. Verblyfbesprekings kan aanlyn gedoen word.

Die feesgids is slegs te koop teen R20 by die fees, of aanlyn by Magzter. Die program-pamflet is hier beskikbaar.

Vir meer fees-nuus, klik hier.