Logo

Welkom in… Zoid Afrika!

Nuus
30 September 2016
’n Uitnodiging om ’n gehoorlid te wees by ’n opname van Republiek van Zoid Afrika is soos om genooi te word om in Buckingham Paleis te gaan te drink.
RZA Ministers S1 01
’n Uitnodiging om ’n gehoorlid te wees by ’n opname van Republiek van Zoid Afrika is soos om genooi te word om in Buckingham Paleis te gaan te drink. By die kwien haarselwers…

Hierdie artikel is ’n uittreksel uit kykNET se digitale tydskrif, Digityd. Lees die volledige artikel hier.

Deur Ilza Roggeband

Alles is baie geheimsinnig, die sekerheidsmaatreëls streng. (Goed, jy sien darem nie mans met wit hemde, oorstukke en wapens nie…) Jy is daar omdat jy net eenvoudig daar móét wees. ’n Uitnodiging is so skaars soos hoendertande. Die uitgesoekte groepie mense, nie eens 60 van hulle nie, staan buite en wag geduldig.

Die ateljee is digby die N2-snelweg in Kaapstad en in die verte is ’n stuk van Tafelberg te sien.

“Is daar iemand wat toilet toe wil gaan?” vra een man. “Julle moet nou gaan want as die opname begin, mag niemand uitgaan nie.”

’n Paar mense gaan loop ’n draai. Dan roep hulle ons. Dis tyd om in te gaan.

Die ateljee is onmiskenbaar Republiek van Zoid Afrika. Die retro-meubels, die Tretchikoff-kussings, die klankversterkers wat opgestapel staan. Daar is kameras en ligte, ’n klankman maak ’n laaste paar verstellings. Op die verhoog staan die orkes gereed.

Ek en my 13-jarige seun, Zac, sit in die tweede ry van voor.

“Dit lyk so klein,” sê hy. Ja, soos iemand se sitkamer, dink ek. Dis nou as jou sitkamer ’n verhoog met ’n band het.

Die vloerbestuurder, Hugo Theart, sê watter van die gehoorlede waar moet sit. Toe almal sit, begin hy praat, verduidelik dat hierdie ’n opname is en dat die mikrofone elke geluid optel. Hy laat ons klap en jil vir ’n opname, wys wanneer ons harder en sagter moet klap. Wanneer hy sy hande laat sak, moet ons ophou raas.

Hy skryf vir ons die leviete voor. Moet asseblief nie uitpraat nie. Nog in geen reeks – en hierdie is die vierde reeks – het niemand uitgepraat oor wat op die program gebeur of wie die gaste is nie. Laat ons asseblief nie die eerste gehoor wees wat nié ’n geheim kan hou nie. Ek maak groot oë vir Zac. Hy knik sy kop. Hy verstaan.

Vanaand is ’n baie spesiale program, sê Theart. Dit gaan teen die einde van die jaar rondom Kersfees uitgesaai word en daarom is dit ekstra spesiaal.

Almal is reg. ’n Man met ’n klapbord gaan staan voor die kameras. Klap! Aksie! Ons begin hande klap en jil. Die orkes begin speel en van agter ’n fluweelgordyn kom sy uitgestap – Karen Zoid, president van haar eie republiek van Zoid Afrika.

34 rza ministers s1 01

34 rza ministers s1 02

34 rza ministers s2

34 rza ministers s3

34 rza ministers s3 02



Dis my geheim

“Ons is tot en met die week van uitsending altyd geheimsinnig oor wie die gaste is,” sê die vervaardiger Carien Loubser. “Wat ek wel kan sê, is dat Karen met haar land se gunsteling dromers en denkers praat. Daar is natuurlik ’n paar verrassings en elke episode is spesiaal. Daar is ook ’n paar skreeusnaakse sketse.

“Om die aap so bietjie uit die mou te laat, kan ek sê dat van die gaste mense soos Tobie Cronjé, Neil Sandilands, Riana Nel, Ruda Landman en Coenie de Villiers is. Daar word ook geliefde treffers afgestof en opgezoid.”

Republiek van Zoid Afrika word van 11 Oktober op Dinsdae, 20:30, op kykNET (kanaal 144 op DStv) uitgesaai. Lees meer hier.