Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Wel en weë word beproef hierdie Maart in jou gunsteling sepies!

Nuus
02 Maart 2020
Wat lê vir jou gunsteling sepie-karakters voor vir die maand van Maart?
1

Binnelanders:

Tim Jantjies is besig om in Binneland Kliniek aan te sterk na hy swaar gewond is in Februarie. Jerry is nie ‘n man wat gras onder sy voete laat groei nie, en wanneer hy ‘n geleentheid sien om Tim van die gras af te maak, is dit waar sy bose planne begin ontkiem. Maar wie sou hy kon gebruik om sy drome ‘n realiteit te maak, en hoe sal hy te werk gaan sonder om vir Vida agterdogtig te maak? Of is Vida eintlik kop in een mus met die familie se prokureur? Steve en Elana se verhouding gaan ook getoets word, want Jerry gebruik vir Kevin om te verseker dat sy planne geen teenkanting sal kry nie. Daar lê nog baie kopkrap-werk vir Kaptein Botha voor, want net sodra ‘n mens dink jy weet wat die uiteinde van die saak gaan wees, is daar ‘n nuwe raaisel wat aandag geniet…

Terwyl At dink dat hy alles onder beheer het wanneer dit kom by die eiendom in Donkerhoek, is daar ‘n donker hoek in die eiendom wat ‘n groot verrassing oplewer. ‘n Familiegeheim gaan At forseer om antwoorde te soek – en dit gaan hom tot nuwe insigte dwing oor waarom bloed dikker is as water…

Maya Gosslin se vuurdoop by Binneland Kliniek is nog nie verby nie. Nie net is dit ‘n aanpassing om die nuwe dokter in die gange te wees nie, maar om die politiek in die gange te leer verstaan is ‘n vastrap en tiekiedraai van ‘n ander aard. Nuwe kollegas bring altyd nuwe uitdagings, veral wanneer jy nie gewoond is aan hoe dinge nou eintlik moet werk nie. In ‘n wêreld waar jou reputasie net so belangrik soos jou kundigheid is, is daar ‘n paar duur lesse wat die doktertjie sal moet leer voor sy beskou sal kan word as ‘n volwaardige ingeboesemde Binnelander.

Iemand wat ook hierdie maand in hoop leef, is Tracy Smit. Sy wil regtig baie graag vir Kayla by haar hê, maar om dit reg te kry lyk na ‘n onbegonne taak: alles wat sy benodig om haar rol as ma te vertolk kos baie meer geld as wat sy het. Wanneer Jacques dus vir haar ‘n aanbod maak wat amper te goed klink om waar te wees, moet sy mooi dink oor wat vir haar die belangrikste in die lewe is. Net omdat ‘n mens iets kan doen, beteken dit nie ‘n mens moet nie – maar wanneer dit wil voorkom of die geld rol in Nagskof (en nie noodwendig op drankies nie) is dit tyd vir Tracy om haar staal te wys. Wie sal nou nie hulle hande ‘n bietjie vuil maak vir ‘n ekstra geldjie aan die einde van die maand nie?

Getroud met Rugby:

Die besonderhede oor Gideon se outopsie word bekend gemaak – Gideon is nie dood aan ‘n hartaanval nie, hy was vermoor. Jana besluit om nog verder in te delf in Gideon se moord en plaas haar eie lewe weereens in gevaar. Sal iemand betyds tot haar redding kom?

Simon en Renate moet ‘n baie moeilike besluit maak – Yvonne en Virginia verwerk die nuus met groot hartseer, maar probeer vir Simon en Renate in hulle besluit ondersteun.

Maryke se agterdog raak al sterker wanneer Bibi by die werk opdaag met 'n blou oog. Sal sy vir Bibi kan oortuig om aksie te neem?  Festus en Koekie ontdek ongeslypte diamante in een van Koekie se ornamente. Hulle maak allerhande planne om daarvan ontslae te raak, maar slim vang sy baas, wanneer Fafa van hul onwettige planne uitvind, met verreikende gevolge...

Mieke kom kuier vir Schalk. Sy en Maryke daag die pompoms uit met ‘n danskompetisie, wat die Stryders gaan beoordeel. Julia en Blitz doen alles in hulle vermoë om hul huwelik weer op koers te kry en die seer van hulle verlies saam te verwerk.

En, met Kristien wat sak en pak saam met Juan Australië toe is, sien Mia ‘n gulde geleentheid om vir Bart “beter te leer ken”.

Suidooster: 

Die afsterwe van 'n ou vriend van die Jacobse veroorsaak 'n domino-effek en Nazeem Samsodien ruk die mat onder Bridgette se voete uit wanneer sy hoor wie hy regtig is. Daar is 'n donker geheim wat Bridgette vir jare al van die familie af wegsteek wat nou dreig om sy kop uit te steek. Sy probeer egter alles in haar vermoë om dit te keer, want Nazeem se ware identiteit sal die begin van die einde vir die Jacobse en Samsodiens wees.

Die einde wink reeds vir Ruiterbosch se mees geliefde paartjie en Tim seëvier. Hy en Zoe maak 'n onverwagse aankondiging. Daar is groot veranderinge in Ruiterbosch, maar nie almal is baie gelukkig daaroor of ten gunste daarvan nie. Wade maak 'n gek van homself in die publiek en hoor hy het hulp nodig, maar hy vermoed onraad. Gaan die krakies in Tim se ingewikkelde plan uiteindelik begin wys?

Justin se pa, Willem Potgieter, daag op en hy is nie 'n baie maklike man nie. Hy is ook nie hier vir net kuier nie, maar om Justin terug te neem Johannesburg toe. Is dit egter in Justin se beste belang, of word hy geboelie om iets te doen wat hy nie wil nie? Sy pa se nuwe verloofde is een van Siya se ou pasiënte en daar is iets nie heeltemal pluis tussen die amper-getroudes nie. Gaan Justin man genoeg wees om teen sy imposante pa op te staan?

Quinton se tienermaniere skop in en hy dring aan op 'n rekenaar sodat hy saam met sy vriende speletjies kan speel. Kate se inmengery dryf die Gerbers teen die mure uit en hulle raak bekommerd oor hoe en waarmee Quinton sy tyd verwyl.

Kaashifa se voete word onder haar uitgeslaan, maar daar's 'n slang in die gras. Letterlik.

Onthou om elke weeksaand in te skakel vir jóú gunsteling sepie! Jy sal nie een oomblik wil misloop nie...