Logo
Alles Malan – Slim
web uni tv guide

Alles Malan

144DramaPG13 L

Wat veroorsaak die meeste spanning in verhoudings? – Alles Malan

Nuus
15 Februarie 2022
Skakel elke Dinsdagaand om 20:00 in vir Alles Malan op kykNET (DStv-kanaal 144).
Alles Malan – Episode 12

Tussen Frik (Ivan Zimmermann) se ontrouheid, Tessa (Nadia Valvekens) se werklading en Nico (Sean-Marco Vorster) en Lee-Ann (Nicole Fortuin) se huisverbeterings en onsekerhede as nuwe ouers, het die Malans genoeg drama vir ’n leeftyd.
Wat is die tien hoogste faktore wanneer dit kom by stres in huwelike en is daar oplossings?

Om probleme in ’n verhouding op te los, moet jy eers erken dat daar ’n probleem is. As julle eers die probleem geidentifiseer het, kan julle dit aanspreek, met of sonder hulp.

  1. Finansies
    Een van die grootste stresfaktore in verhoudings is finansies, gewoonlik wanneer daar nie genoeg geld is om al die gate toe te stop nie. Daarom is dit belangrik vir paartjies om altyd eerlik te wees oor hul geldsake en seker te maak dat almal op dieselfde bladsy is en ’n probleem aan te spreek voor dit handuit ruk.
  2. Werk
    Dit is baie belangrik om ’n goeie balans tussen werk en julle lewe buite werk te hê. Nie een van die twee moet afgeskeep word nie en daar moet genoeg tyd wees om kwaliteittyd in julle verhouding te hê.
  3. Vertroue
    Wanneer vertroue eers verloor is, is dit moeilik om dit terug te kry. Nie onmoontlik nie, maar moeilik.  
  4. Onopgeloste trauma
    Nie twee persone is dieselfde nie en elkeen van ons het ons eie verlede. Onopgeloste trauma uit byvoorbeeld ’n persoon se kinderjare, kan jare later stres in verhoudings veroorsaak juis omdat die kwessie nooit aangespreek is nie.
  5. Is jou glas half leeg of half vol?
    Wanneer een persoon in die verhouding baie positief is en die ander negatief, kan dit angstigheid veroorsaak. Kyk of julle die goue middeweg kan vind en kan saamwerk om die lewe vir julle al twee makliker te maak.
  6. Jaloesie
    Die groenoogmonster kan ’n verhouding vinnig verwoes. Of dit nou jaloesie is op suksesse wat die een behaal of jaloesie omdat die ander geslag te veel aandag gee, is dit nodig om dit so gou moontlik aan te spreek aangesien jaloesie ’n emosie is wat tot in ’n monster kan groei indien dit nie in die kiem gesmoor word nie.
  7. Kinders
    Kinders is seker die grootste vreugde wat enige paartjie kan beleef, maar die oomblik wanneer hulle gebore word, is dit die natuurlikste ding vir ’n verhouding om te verander. Ma’s en pa’s se idees oor ouerskap kan dalk verskil, die een kan dalk voel die ander een doen nie genoeg nie en een kan selfs nie kinders wou hê nie.
  8. Tussen die lakens
    Seks het al menigte verhoudings gemaak of gebreek. Hierdie is beslis ’n probleem wat eerder vroeër as later aangespreek moet word. Is een van julle se libido dalk hoër as die ander? Voel een van julle onvervul wanneer dit by bedsake kom? Kry hulp, praat daaroor, span hulpmiddels in en besluit saam hoe belangrik hierdie deel van julle verhouding vir julle is.
  9. Gesondheid
    “In sickness and in health” soos die Engelse troubeloftes sê. Maar wat gebeur as een van julle siek word? Sal die ander een daar wees om jou te ondersteun?
  10. Kommunikasie
    Dit is dalk die laaste punt, maar dit is die belangrikste in enige verhouding. As jy nie gaan praat nie, gaan die ander een nie weet wat jy dink en voel nie. “Date night”, daardie aand wat net die twee van julle saam is, is nodig sodat julle net elke dan en wan weer kan kyk of julle op dieselfde roete is.

Skakel elke Dinsdagaand om 20:00 in vir Alles Malan op kykNET (DStv-kanaal 144).