Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Wat is ‘n pa se regte in Suid-Afrika? – Binnelanders

Nuus
04 Augustus 2020
Wat is ‘n pa se regte wanneer dit by sy kinders kom?
B10 ep31 7

At Koster het met ‘n skok gehoor dat hy Ethan, Ingrid se seun, se pa is.

Maar wat is ‘n pa se regte wanneer dit by sy kinders kom? Bertus Preller, ‘n prokureur van Kaapstad wat in gesinsreg spesialiseer, verduidelik.

Watter regte het ‘n pa van ‘n kind volgens die Suid-Afrikaanse reg?
Wanneer die ma getroud was toe die kind verwek is, word daar aangeneem dat haar man die pa is. As die ma nie getroud is nie, word die Kinderwet nadergetrek. Die Kinderwet bepaal dat indien dit bewys kan word dat die pa van ‘n kind wat buite die huwelik gebore is wel omgang met die ma gehad het toe die kind verwek is, daar dan aangeneem word dat hy die biologiese pa van die kind is.

Artikel 36 en 37 van die Kinderwet bepaal die volgende:
36. Vermoede van vaderskap ten opsigte van kind buite- egtelik gebore:
Indien daar in enige geregtelike verrigtinge waarin dit nodig is om te bewys dat enige spesifieke persoon die vader is van ‘n kind wat buite-egtelik gebore is, bewys word dat daardie persoon geslagsverkeer gehad het met die moeder van die kind op enige tyd wanneer daardie kind verwek kon gewees het, word daardie persoon, in die afwesigheid van getuienis tot die teendeel wat redelike twyfel laat ontstaan, vermoed die biologiese vader van die kind te wees.

37. Weiering om te onderwerp aan die neem van bloedmonsters:
Indien ‘n party tot enige geregtelike verrigtinge waar die vaderskap van ‘n kind in geskil geplaas is geweier het om homself of haarself of die kind te onderwerp aan die neem van ‘n bloedmonster ten einde wetenskaplike toetse uit te voer betreffende die vaderskap van die kind moet die hof sodanige party waarsku oor die effek wat sodanige weiering kan hê op die geloofwaardigheid van daardie party.

Daar moet dus eers bevestig word dat daar konsensus tussen die ouers is om die man wel die pa van die kind is. Indien daar nie konsensus is nie, moet die pa hom tot die hof wend.

Verskil die regte van ’n pa wat getroud is met die ma as die een wat nie met die ma getroud is nie? 
Ongetroude biologiese pa’s het slegs spesifieke verantwoordelikhede en regte wat kontak en onderhoud insluit. Ongetroude pa’s se verantwoordelikhede en regte sluit nie voogdyskap en sorg in nie.

‘n Ongetroude pa van ouerskapregte en verantwoordelikhede in die volgende omstandighede bekom:

  • indien hy saam met die kind/kinders se ma gewoon het ten tye van sy/hulle geboorte;
  • indien hy, ongeag of hy saam met die ma van die kinders gewoon het:
  • hy aansoek doen om geïdentifiseer te word as die kind/kinders se pa;
  • hy bygedra het of ‘n poging aangewend het om in goeder trou vir ‘n geruime tyd by te dra tot die onderhoud van die kind;
  • die kind finansieël onderhou het.

Voogdyskap of kontak en sorg kan deur die hof toegestaan word indien:

  • die ongetroude pa slegs wil aansoek doen vir sorg en/of kontak en dan die Kinderhof nader;
  • die ongetroude pa voogdyskap wil hê wat dan deur die Hooggeregshof besluit sal word.

Die Hooggeregshof is die enigste hof wat wat voogdyskap kan toeken. ‘n Kinderhof kan toestemming tot kontak en sorg gee.

Die hof sal die volgende in ag neem:

  • Wat die beste vir die kind is.
  • Die verhouding tussen die ongetroude pa en die kind/kinders en die biologiese ma.
  • Die verpligting wat die ongetroude pa tot die kind/kinders getoon het.
  • Of die ongetroude pa finansieël bygedra of  ‘n poging aangewend het om ‘n finansiële bydrae te maak.
  • Enige ander faktore soos geweld teen die kinders of om die kinders weg te neem van hul biologiese ma.

Daar was al gevalle in Suid-Afrika waar pa’s hard moes baklei om selfs net toegang tot hulle kinders te kry. Is dit nog die geval? 
Dit gebeur gereeld. Daar word altyd eerste na die beste belange van die kind gekyk. Indien ‘n ma byvoorbeeld kontak met ‘n kind/kinders weerhou, kan die pa die howe nader om meer toegang tot sy kind/kinders te kry. Die hof sal die geval na ‘n gesinsadvokaat verwys wat dan sal bepaal wat in die beste belang van die kind is. Daar is ook gevalle waar maatskaplike werkers en sielkundiges se hulp ingeroep word.

‘n Ongetroude pa het ook voogdyskap nodig in gevalle waar die kind byvoorbeeld ‘n paspoort nodig het of die kind oor die landsgrense reis. Indien ‘n ongetroud pa nie die voog van die kind is nie, is sy instemming tot sulke gebeure nie nodig nie.

Die Kinderwet
Die Kinderwet 38 van 2005 bevat al die inligting te make met kinders en hul regte. Die wet, in Afrikaans, kan hier gelees word:
http://vra.co.za/wp-content/uploads/2016/10/KINDERWET-No-38-van-2005-Afr.pdf

Gesels saam op Facebook, Twitter en Instagram en onthou om weeksaande om 19:30 in te skakel vir die jongste drama en intrige wat in die gange van Binnelanders uitspeel.