Logo
web uni tv guide

Tydelik Terminaal

144Drama13L

Wanneer twee wêrelde ontmoet – Tydelik Terminaal

Nuus
24 Januarie 2020
Een gesin wat veral aanklank by dié reeks gevind het, is die Oliviers wat in Kempton Park in Johannesburg woon.
Tydelik Terminaal

Deur Franco Havenga

Met die finale episode van die gewilde dramareeks Tydelik Terminaal wat hierdie week uitsaai, is kykers werklik vir die afgelope 13 weke op ’n emosionele wipwaentjierit geneem wat die hartsnare telkemale geroer het.

Een gesin wat veral aanklank by dié reeks gevind het, is die Oliviers wat in Kempton Park in Johannesburg woon.

Wat dit egter meer spesiaal gemaak het, is dat die 14-jarige Danielle Olivier deur kykNET met ’n baie spesiale ontmoeting deur van die Tydelik Terminaal se sterre verras is: Arno Greeff, Carla Smith, Ansu Visser sowel as die skrywer van die reeks, Elanie Rupping.

Tydelik Terminaal was vir Danielle 'n groot eye opener gewees, want hierdie meisie, Kittie, is net so siek, maar sy het vriende om haar. En sy deel haar siekte met haar vriende en dus ondersteun hulle haar,” vertel ma Chantelle. “Ek was ook so, nes Danielle. Ek wou nooit gehad het iemand moes geweet het ek is siek nie.”

Chantelle, Danielle en haar jonger sussie, Danika (12), ly aan ernstige gekombineerde immuungebrek (SCID) en sistiese fibrose. Weens dié siektes het hulle ook ander gesondheidskwessies soos Lupus en tipe 1-diabetes opgedoen.

Weens die gebrek aan die regte mediese tegnologie in Chantelle se grootwordjare, is baie van hierdie siektes eers heelwat later, ná Danielle en Danika se geboortes by haar gediagnoseer.

Vir Danika is dit glad nie ’n straf nie as hulle skool moet misloop omdat hulle by die huis of in ’n hospitaal moet wees. Maar vir Danielle, wat vanjaar in graad 9 is, is dit belangrik om so min as moontlik skool mis te loop. “Ek het nie noodwendig altyd beheer oor my gesondheid nie, maar ek kan beheer hoe ek presteer in skool. Dit is ’n coping mechanism vir my,” vertel Danielle.

Terwyl ons gesels vertel Danielle van haar liefde vir die vermaakwêreld en noem ’n paar ander bekendes waarvan sy ook ’n aanhanger is. Hieronder tel die sanger Dirk van der Westhuizen en die Boer soek ’n vrou-aanbieder Leah.

Pa Stephan verduidelik dat een rede hoekom hulle steeds so moedig voort veg en nie in sak en as gaan sit nie, is dat hulle nie die siekte kans gun om hul lewens te beheer nie. “Ons face dit. Ons gee vir hulle so ’n normale lewe as wat ons kan, en ek dink dit het gemaak dat hulle vandag is waar hulle is,” vertel Stephan.

“Ek gaan hulle nie heeltyd in ’n bubble hou nie, want dit is nie normaal nie,” voeg hy by.

Nes die geval met Kittie, is dit duidelik dat die Oliviers nie die lewe om hulle laat verby rits weens hulle siekte nie. “As jy na my dogters se dik mediese lêers kyk, en jy kyk na hoe hulle vandag lyk en hoe positief hulle is, is dit twee verskillende goeters. Jy sien nie daai siek raak nie,” vertel Chantelle trots.