Logo
GMR Slim BB
web uni tv guide

Getroud Met Rugby

144Drama13 V

Wanneer geboortevreugde ’n nagmerrie word – Getroud met rugby

Nuus
26 November 2021
Wat is hierdie toestande en wat kan in so geval gedoen word om die ma te help?
Getroud met rugby – Renata

Renate (Christel van den Bergh) was verheug toe sy gehoor het sy is swanger, maar ná klein Regardt (Daniel Louw) se geboorte, het die vreugde plek gemaak vir ’n nagmerrie van obsessief-kompulsiewe versteuring en nageboorte depressie. Wat is hierdie toestande en wat kan in so geval gedoen word om die ma te help?

Wat is postnatale- en prenatale- obsessief-kompulsiewe steuring?
OKS, oftewel obsessief-kompulsiewe steuring (in Engels OCD of obsessive compulsive disorder) is ’n angssteuring wat gekenmerk word deur aanhoudende gedagtes van ongemak, onrustigheid, vrees en kommer en wat persone dan onder meer take oor en oor laat doen of in konstante vrees laat lewe. Postnatale-OKS gebeur ná die geboorte van ’n baba en prenatale-OKS voor die geboorte van ’n baba. Navorsing het getoon dat vroue wat reeds OKS het, het ’n groter kans dat die toestand sal vererger wanneer hulle swanger is. Postnatale-OKS en prenatale-OKS staan saam as pOKS bekend.

In pOKS het die obsessies gewoonlik te doen met die baba. Daar sal byvoorbeeld ongegronde vrese wees dat die baba siek kan word, seer kan kry of weg kan raak.

Wat is nageboorte depressie?
Meeste ma’s kry ’n mate van baby blues ná die geboorte van hulle baba. Maar soms kry ma’s intense gevoelens van hartseer, angstigheid, depressie en vrees wat net nie wil weggaan nie. Hulle kan ook aan slaaploosheid ly en fisiese simptome hê soos ’n vinnige hartklop, bewerasie en paniekaanvalle. Hulle is die hele tyd bekommerd oor die gesondheid van hulle baba, voel skuldig dat hulle nie goed genoeg na hulle baba omsien nie en sommige is selfs bang dat hulle hulle baba skade gaan aandoen. Volgens navorsing ly tussen 10 en 15 persent van vroue aan nageboorte depressie in die eerste jaar ná hulle geboorte skenk.

Is daar ’n verwantskap tussen pOKS en nageboorte depressie?
Ja, maar dit is nie seker hoe dit bymekaar inskakel nie. Wanneer mense depressief raak, neig hulle tot negatiewe gedagtes wat in obsessies kan ontaard. Alternatiewelik kan obsessies en kompulsiewe gedrag na depressie lei. Meeste mense verwag dat swangerskap en geboorte ’n vreugdevolle tyd moet wees, maar wanneer hierdie negatiewe en obsessiewe gedagtes voorkom, kan die persoon hartseer en angstig voel.

Wat is die uitwerking van pOKS en nageboorte depressie?

  • Depressie en daarmee saam hartseer, slaaploosheid, geen lus om met ander mense kontak te hê nie, selfmoordgedagtes, hopeloosheid en ’n tekort aan selfsorg.
  • Probleme om na die baba om te sien.
  • Probleme om ’n verhouding met die baba te bou.
  • Probleme in die huwelik of verhouding.
  • Die ma kan konstant bekommerd wees dat iets met die baba gaan gebeur soos dat hulle in hulle slaap sal versmoor, in hulle babawater sal verdrink of dat hulle die baba sal laat val.

Kan dit behandel word?
Ja, dit kan met dieselfde metodes as wat OKS behandel word, behandel word. Dit sluit in sielkundige behandeling en medikasie soos deur ’n dokter of psigiater voorgeskryf. Meeste ginekoloë sal ook weet hoe om dit situasie te hanteer en waar die beste hulp gekry kan word.

Wat kan ek doen om te help?
Die eerste ding wat familie en vriende gewoonlik vir so ’n ma sê, is dat dinge reg sal kom. Dit is egter nie wat die ma wil hoor nie en dit kan in sommige gevalle selfs die situasie vererger. Die beste ding wat jy vir so ’n ma kan doen, is om vir hulle professionele hulp te kry sodat hulle die regte behandeling kan kry. Hulle moet ook weet dat daar niks fout is met hulle nie en dat hierdie ’n wanbalans is wat nie van hulle ’n slegte ma maak nie en iets is wat met die regte behandeling reggestel kan word.

  • Praat is altyd goed. Laat haar praat oor haar gevoelens en luister met ’n oop gemoed. Moet haar nie kritiseer nie en moet nie haar situasie met jou eie of die van ’n ander ma vergelyk nie.
  • Maak seker sy eet genoeg. Neem vir haar en haar gesin kos wat reeds voorberei is.
  • Gaan na haar huis en maak dit skoon, doen die wasgoed en help waar jy kan. Doen inkopies indien nodig.
  • Maak seker sy slaap genoeg. Bied aan om by die baba te bly terwyl sy verlore slaap inhaal.
  • Moedig haar aan om oefening te kry. Bied aan om saam met haar en die baba te gaan stap.
  • Bied aan om na die baba te kyk sodat sy en haar geliefde iets op hulle eie kan doen.
  • Moenie dat sy te veel besoekers kry nie. Dit kan oorweldigend wees en die situasie vererger.
  • Verseker haar gereeld dat sy ’n goeie ma is.
  • Vind uit van enige ondersteuningsgroepe in die area en ooreed haar om in te skakel. Gaan saam indien dit nodig is om haar te oortuig.
  • Wees geduldig. In meeste gevalle is hierdie nie iets wat oornag beter gemaak kan word nie.  

Vir meer inligting en hulp:
The Post-Natal Depression Support Association of South Africa
The South Africa Depression and Anxiety Group

Bronne:
https://www.verywellfamily.com/symptoms-of-postpartum-ocd-4083036
https://iocdf.org/wp-content/uploads/2014/10/Postpartum-OCD-Fact-Sheet.pdf

Skakel weeksaande om 18:00 in vir Getroud met rugby vir die drama wat van die sportgronde af plaasvind.