Logo
CW Slim BB BSV S15 Redelivery
web uni tv guide

Boer Soek 'n Vrou

144Realiteit13 L

Vyftien fassinerende feite oor een van Suid-Afrika se gewildste werklikheidsreekse – Boer soek 'n vrou

Nuus
18 Januarie 2023
Het jy hierdie feite geweet oor "Boer soek 'n vrou"?
BSV S15 feite artikel

Boer soek ’n vrou is een van die gewildste en langdurigste werklikheidsreekse in Suid-Afrika. En dis weer sulke tyd! Donderdag 19 Januarie skop dié boeiende reeks propvol verrassings vir die vyftiende keer om 20:00 af op kykNET.

Sedert 2008 volg kykers getrou die lief en leed van boere wat na liefde hunker, en die reeks het met groot sukses daarin geslaag om weer talle mense se geloof in ware liefde te herbevestig.

15 springmieliefeite oor Boer soek ’n vrou

  1. Op 30 September 2008 is die eerste episode van Boer soek ’n vrou op kykNET uitgesaai. Kykers het egter ’n paar maande tevore, op 14 Julie, vir die eerste keer met die reeks kennis gemaak toe ’n loodsepisode van die tien boere wat liefde soek gewys is.
  2. Wanneer die vyftiende seisoen vanjaar uitgesaai word, beteken dit dat 150 hubare boere op soek na liefde en hul lewensmaat sedert 2008 op die kassie verskyn het.
  3. Boer soek ’n vrou is op ’n internasionale formaat gebaseer en word in tientalle lande vervaardig. Dit is die eerste keer in 2001 in Brittanje as Farmer wants a wife uitgesaai. 
  4. In Suid-Afrika is die vervaardigers bewus van ten minste 25 suksesverhale van boere wat as gevolg van hul deelname aan die reeks die pad na die kansel toe gestap het. Dit maak die plaaslike weergawe van dié maatsoekreeks een van die suksesvolste ter wêreld. Só het Australië se Farmer wants a Wife teen 2022 oor 12 seisoene nege huwelike opgelewer. 
  5. Boer Joachim, wat in die eerste seisoen verskyn het, het tot dusver nog die meeste briewe ooit gekry.   
  6. Talle vroue-boere het oor die jare ingeskryf, maar dit sou eers in 2018 gebeur het toe boer Toanette die eerste vrou was wat genoeg briewe ontvang het om onder die top-vyf boere (wie se liefdespaadjies in die reeks gevolg word) te wees.


     
  7. Die eerste openlike gay boer, Damian, het in 2019 vir die twaalfde reeks ingeskryf. Hy het boonop in daardie seisoen ook die meeste briewe ontvang.


     
  8. Ses aanbieders het die afgelope vyftien jaar die land deurkruis om boere in hul soeke na liefde by te staan. Hulle was: Elma Postma (2008-2010), Angelique Gerber (2011-2013), Nadia Beukes (2014-2015), Minki van der Westhuizen (2016-2017), Leah van Niekerk (2018-2019) en Marciel Hopkins (vanaf 2020 tot op hede).


     
  9. Boer soek ’n vrou-aanbieders trek gemiddeld 50 verskillende uitrustings aan tydens die verloop van die produksie.


     
  10. Ter viering van die die reeks se tiende seisoen in 2017 het die musikant Schalk Joubert die bekende temalied met ’n vars weergawe opgekikker.
  11. In 2020 het die Covid-19-pademie ook ’n impak op die reeks gehad en is produksie tydelik tot ’n halt geroep. In die verlede is Boer soek ’n vrou meestal vanaf Oktober tot Januarie uitgesaai, maar weens die vertraging in produksie, is die dertiende seisoen eers vanaf Januarie 2021 uitgesaai.
  12. Ook as gevolg van die pandemie, en anders as tevore waar die boere briewe en pakkies in persoon ontvang het, kon voornemende pasmaats in seisoen 13 net in digitale formaat hulself aan die boere bekendstel.


     
  13. Die provinsie wat oor die jare die meeste boere vir die reeks opgelewer het, is die Wes-Kaap, wat gevolg word deur die Vrystaat en Noord-Kaap.
  14. Pasmaats doen gewoonlik baie moeite om die boere se aandag met hul pakkies en briewe te trek. Maar vreemde geskenke het al hul opwagting gemaak, waaronder boeie met pienk vere en onderklere met die voornemende pasmaat se gesig daarop.
  15. Oor 15 jaar is daar in totaal sowat 600 000 km deur die vervaardigingspan afgelê soos hulle die land deurkruis het om boere te help liefde vind het. Dit is byna maan toe en terug. Die maan is sowat 384 400 km van die aarde. 

 

Boer soek ’n Vrou begin op Donderdag 19 Januarie 2023 om 19:00 op kykNET, kanaal 144 op DSTV.  Onthou om saam te gesels op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerk, #BoerSoeknVrou te gebruik.