Logo

Vossie Vergas Homself beïndruk regoor die wêreld!

Nuus
08 Augustus 2019
Lees meer.
1

Die bekroonde 2017 kykNET Silwerskermfees-kortfilm, Vossie Vergas Homself, het sovêr al by 10 filmfeeste regoor die wêreld ’n draai gaan maak en ’n hele rits toekennings ingepalm. Vossie Vergas Homself handel oor die depressiewe Vossie (Tobie Cronjé) wat besluit het om sy kar in ’n verlate veld te parkeer en ’n einde aan sy lewe te bring. Maar soos wat hy hom vir die dood voorberei, word hy verras deur die eksentrieke Antie (June van Merch) wat planne van haar eie het. Hierdie donker komedie is ’n blik op ’n onverwagse ontmoeting tussen twee mense van verskillende agtergronde, en hoe hulle lewens onwillekeurig verweef word.

Vossie Vergas Homself het by die 2017 Silwerskermfees die toekenning vir beste aktrise gewen en was ook benoem vir beste draaiboek, beste akteur en beste kortfilm. Die ATKV Mediaveertjies het die film vir beste akteur, beste aktrise, beste draaiboek en beste enkeldrama benoem. By die Durban Gay & Lesbian Film Festival het die kortfilm beste gay komedie en beste kortfilm gewen.

Hier is ’n lys van internasionale filmfeeste, benoemings en toekennings:

  • Roze Filmdagen (Amsterdam, Holland) – Toekenning vir beste manlike kortfilm
  • Afrika Filmfestival (Leuven, België) – Benoeming vir jong Afrika filmmaker-toekenning
  • La.Meko International Short Film Festival (Landau, Duitsland) – Toekenning vir beste kortfilm
  • Africajarc African Arts Festival (Cajarc, Frankryk) – Benoeming vir beste kortfilm
  • Amakula Filmfestival (Kampala, Uganda) – Benoeming vir beste kortfilm
  • Mawjoudin Queer Film Festival (Tunis, Tunisië)
  • Kleinkaap Korfilmfees (Pretoria) – Benoemings vir beste regisseur, beste draaiboek, beste akteur, beste kinematografie en wenner in die kategorie “Beste plaaslike kortfilm”.
  • 2019 Lift-Off Sessions (VSA, aanlyn)

Vossie Vergas Homself is skrywer en regisseur, Philip Nolte, se film regie-debuut. Hy glo dat “dit wonderlik is om Suid-Afrikaanse stories, en nogal in Afrikaans, aan internasionale gehore te kan vertel.” Verder sê hy: “Ons het soveel plaaslike stories om te vertel en deur die krag van film móét hierdie stories vertel word. As mens ’n toekenning tussenin wen is dit die kersie op die koek!” Die vervaardiger, Lyall Ramsden van Phly Media, noem dat daar ’n boodskap in hierdie verhaal vir almal is. “Dit bring vir my groot vreugde om die merkwaardige impak te sien wat hierdie film op mense van regoor die wêreld het.”

Vossie Vergas Homself is tans op Showmax beskikbaar.