Logo

Vir Altyd nou in Australië en Nieu-Seeland

Nuus
28 April 2016
Na die wonderlike sukses wat Vir Altyd in Suid-Afrika behaal het was die aanvraag van Suid-Afrikaners in die buiteland só oorweldigend dat die vervaardigers saam met ONStv besluit het om die film eersdaags in Australië en Nieu-Seeland vry te stel.
Vir Altyd Donnalee

Na die wonderlike sukses wat Vir Altyd in Suid-Afrika behaal het was die aanvraag van Suid-Afrikaners in die buiteland só oorweldigend dat die vervaardigers Ivan Botha, Donnalee Roberts en Danie Bester saam met ONStv besluit het om die film binnekort op die silwerdoek in Australië en Nieu-Seeland vry te stel. Dié romantiese avontuurfilm het die rekords laat spat met meer as 320 000 mense wat die film tot dusver gekyk het.

Indien jy in Australië of Nieu-Seeland woon of iemand ken wat daar woon, deel die goeie nuus en word deel van die Vir Altyd-avontuur! Die film sal by verskeie teaters wys vanaf 30 April tot 14 Mei 2016. Volg hierdie skakel vir die volledige lys van teaters waar Vir Altyd in Australië en Nieu-Seeland speel.

Vir Altyd hou sy première in Johannesburg.

Die span agter Vir Altyd is dieselfde span wat die alombekende Pad na jou Hart geskryf en vervaardig het en is opgewonde om hulle nuwe storie met almal in die buiteland ook te deel. Die meeste teaters in Australië en Nieu-Seeland het ingestem om dit op Moedersdag te wys, wat ons Suid-Afrikaanse families die geleentheid gee om op ’n spesiale dag met hulle hartsmense Suid-Afrika se nommereen-loketfilm te kan geniet. Maak seker jy loop nie hierdie geleentheid mis nie.

Vir Altyd is nie ’n opvolg van Pad na jou Hart nie, maar ’n vingerafdruk van die kwaliteit waarmee die rolprent se voorloper aangepak is, en dit is duidelik te sien in die nuwe film.

34 vir altyd oorsee


Die simboliese styl waarmee Ivan Botha en Donnalee se projekte gekenmerk word, is duidelik te sien in Vir Altyd. Hierdie twee skrywers, vervaardigers en akteurs hoop om ’n spieël deur middel van die film op te hou. Hulle het karakters geskryf waarmee kykers vereenselwig en waarin hul heel moontlik hulself en die verhoudings waarin hulle hulself bevind, kan raaksien. Vir Altyd  bestaan uit temas van sterk verhoudings en weerspieël deur middel van die verskillende paartjies al die seisoene van die liefde. Dit sal dus tot elke mens spreek – mans en vroue; oud en jonk.

Behalwe vir die akteurs wat die hoofrolle vertolk, Ivan (Hugo) en Donnalee (Nina), sluit die rolverdeling ander top Suid-Afrikaanse akteurs soos Illse Roos (Marietjie Botha), Dirk Stoltz (Ben Botha), Elize Cawood (Tannie Betsie van Zyl), Wilson Dunster (Oom Paul van Zyl) en vele ander in.

Vir ons boekwurms is daar ook goeie nuus! Die draaiboek, geskryf deur Ivan Botha en Donnalee Roberts, is verwerk tot ’n roman deur Francois Bloemhof en is reeds op winkelrakke in Suid-Afrika beskikbaar. Die roman word uitgegee deur NB Uitgewers en kan ook aanlyn gekoop word.

Vir Altyd word versprei na die buiteland deur ONStv wat die voorloper is met die verspreiding van Suid-Afrikaanse films sedert 2013 in die buiteland.

Die verspreiding van Vir Altyd na die buiteland is moontlik gemaak deur die volgende vennote:

The Film Factory
17 Filmstreet Media
Showmax kykNET Internasionaal
com
ONStv
Musiek Fabriek
Wêreldwyd
Afrikaanse Klub Australië

Bly op die hoogte van nuus oor kykNET Films.