Logo

Verken 30 jaar van demokrasie met Carte Blanche

Nuus
10 April 2024
kykNET vier Vryheidsdag met die uitsending van ’n spesiale 90 minuut lange Carte Blanche-program, wat terugkyk op drie dekades van demokrasie in Suid-Afrika, op Saterdag 27 April om 20:00. Carte Blanche: Is ons demokrasie ná 30 jaar kapoet? vertel die verhaal van Suid-Afrika en haar mense vanaf die oomblik toe demokrasie begin het, verken die pad wat ons tot hier gebring het en vra hoe die ideale bestemming lyk.
Carte blanche

Dertig jaar ná die land se eerste vrye, regverdige, demokratiese verkiesing in 1994, reis die Carte Blanche-span deur Suid-Afrika om ’n groot en kleurvolle verskeidenheid mense te ontmoet wat hul werklikhede, drome en hoop vir die toekoms deel. 30 Years of Democracy is nie ’n geskiedenis van post-apartheid-Suid-Afrika of ’n politieke ontleding en voorspelling van die land se toekoms nie. Dis ’n speurtog op soek na ’n dieper verstaan van hoe Suid-Afrikaners die afgelope dertig jaar in hierdie land ervaar het en hoe dit hul identiteit gevorm het. Die program vra ons mense of hulle nog glo dat hul hoop, wense en behoeftes in die toekoms verwesenlik sal word.

“Die Carte Blanche-span het die snelweë, strate en agterpaaie gevat om met Suid-Afrikaners uit heel verskillende leefwêrelde in hul huise te praat: van ’n Sandton-sjef tot ’n landelike hoofman, ’n Durbanse straatkunstenaar tot ’n mediese student, en ’n advokaat tot ’n taxibaas,” sê Waldimar Pelser, die direkteur van Premium-kanale by MultiChoice. “Ons dink ons ken Suid-Afrika omdat ons die alledaagse werklikhede beleef – maar hoe dikwels oorweeg ons die geleefde ervarings van ’n wyer spektrum van die land se inwoners om te probeer verstaan wat mense se hoop vir hul land is?”

Die geskiedenis van Suid-Afrika is een van migrasie, verplasing, behoort, ballingskap en weggaan van die huis om elders nuwe geleenthede te soek. Dit is ook ’n geskiedenis vol voorbeelde van veerkragtigheid en solidariteit. 30 Years of Democracy fokus op die landskap en die verskillende uitdagings wat mense in hul daaglikse lewens in vyf van ons belangrikste provinsies ervaar. Daar is stories oor humor, verlies, gemeenskap, hoop en vrees in ’n land wat dikwels verdeeld is, maar soms onverwags en vreugdevol verenig word. Die program skep met kommentaar die historiese konteks vir die stories van Suid-Afrikaners oor waar hulle nou staan ná drie dekades van vryheid en demokrasie.

30 Years of Democracy word op Saterdag 27 April om 20:00 uitgesaai. Jy kan dit ook stroom op DStv Stream en ná die uitsending op DStv Catch Up daarna kyk. Neem deel aan die gesprek op X, Instagram, TikTok en Facebook deur die hutsmerk #CarteBlanche te gebruik.