Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Verhoudings in Afrikaanse sepies word behoorlik getoets hierdie feesseisoen

Nuus
01 Desember 2022
Terwyl sommige verhoudings skipbreuk ly, vind pasmaats mekaar. Geheime word ook versteek.
Afrikaanse sepies kykNET Desember 2022

Binnelanders

Maak gereed vir ’n maand propvol drama in BINNELANDERS!

Nie almal in Binneland is ewe ingenome met Nicolette nie: Dawid waarsku vir Steve teen haar, en Liam vind uiteindelik uit wat in Kanada gebeur het. Genevieve se teenwoordigheid word gevoel, al sit sy nie ’n voetjie verkeerd nie – totdat sy besluit om ’n “situasie” wat haar irriteer, op te los.

Steve en Ewa maak verskeie ontstellende ontdekkings, At kry ’n onverwagse besoeker, en Jacques moet ongemaklike inligting met At deel. Chanel kom kuier, en sy en Danny verval in ou patrone wat haar weer seermaak.

Annelize word verpletter deur nuus, en ’n donker wolk hang oor Pretoria… Louis en Naomi verwelkom vir Thalia, Karen se neef, Armand, word in Binneland opgeneem en Uys is terug! Elise vertel vir Gaby van Tannie Kietie, en Conrad en Tracy sluit die jaar gemoedelik af.

Binnelanders is weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Diepe Waters

Wat is Desember dan nou sonder ’n bietjie familie-drama? DIEPE WATERS se families word getoets oor die kersgety, wanneer dit begin baie duidelik raak dat om verhoudings te bou, hou en onderhou dalk moeiliker is as om vlinderslag te bemeester.

Finansies veroorsaak kopsere, en iemand se donker geheim sien amper die lig - en dit is nie net Arno wat vir Johan na die donker diepkant toe lok nie! Die spanning loop hoog in Rossouw se huishouding, en dit gaan nie net oor Johan wat sy liggaam te ver druk nie. Terwyl Sanet rooi sien oor ’n spesiale brief aan Anja - en haar eie antwoorde nog dieper in 'n bottel probeer kry - is Johan se antwoord blykbaar in ’n naald.

Gys en die kompeterende afrigter Frederich weet net hoe om mekaar se knoppies te druk. Terwyl ’n sosiale media plasing soos 'n veldbrand versprei, en Meghan goeie nuus ontvang, is dit Gys wat in die publiek verneder word. Zelda se Kersfeesgees moet ook plek maak vir haar 'lekkerkry' oor Gys se 'swaarkry', terwyl haar verhouding met Pam ook gebuk gaan onder die druk van geheime en halwe waarhede.

Henry probeer Jacques se wenke uit om sy sake van die hart te beredder - maar dan besef Jacques ook dat Henry 'n ingewikkelde verhouding met 'n 'wat' het, en nie 'n 'wie' nie.  Wim weet nie hoe om ’n moeilike gesprek met Rose te begin nie, en dan is die Kersfeespartytjie maar net die agtergrond waarteen ’n baie groot drama ontvou...

Diepe Waters is Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Suidooster

Desember is die tyd vir familie, vriende, son, somer, braai en ontspan na nog ’n jaar verby is. En, Desember in Ruiterbosch is ’n tyd vir nuwe en ou gesigte om die lewens van ons gunsteling inwoners te kom verryk, te kom verander en te kom deurmekaar krap. Verhoudings word uitgedaag, nuwe drome word realiteite en almal kyk terug op ’n jaar vol drama, intrige, oomblikke van geluk en oomblikke van hartseer.

Maak seker jy kyk om te sien wie is terug, wie begin vir mekaar te loer, wie se verhouding word met die onmoontlike uitgedaag en wie gaan die nuwe jaar sonder mekaar in. Een ding is seker hierdie Desember gaan Suidooster sorg vir genoeg "ek kan nie glo dit het nou net gebeur nie"-oomblikke, dat jy nie anders sal kan as om elke weeksaand in te skakel om te sien wat volgende gebeur nie.

Suidooster is weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET & kie (DStv-kanaal 145).

Arendsvlei

Dis Kersfeestyd, maar daar is geen stille nagte in Arendsvlei dié maand nie! Van Hein en Petra se geheime verhouding, Beatrice wat in die moeilikheid beland tot Ayesha en Langes wat nader aanmekaar beweeg.

Soos ons weet, het Beatrice en Clint nog altyd struikelblokke in hul verhouding ervaar. Maar hoeveel kan mens tog vat? Nadat Beatrice en Clint hewige argumente gehad het en Beatrice hardkoppig is en weier om na Clint se raad te luister, stap sy net die plaas in en kom op iets skokkends af. Clint is paniekerig, want hy kry nie vir Beatrice in die hande nie en hy weet presies watter gevaar op die plaas aangaan. Hy spring dadelik in protection mode en gaan soek haar. Maar wat hy op af kom, kry hom ook in groot moeilikheid. Sal hy vir Beatrice kan red?

Nadat Petra nou besef het sy het gevoelens vir Hein, spring sy dadelik aan die werk om hom daarvan te laat weet. Hein is uit die veld geslaan en heeltemal deurmekaar, maar stem in om iets met haar te gaan drink. Dit gaan goed aan die begin en dan ewe skielik spring Hein op en vlug. Petra is woedend en laat weet dit vir almal! Selfs Gertie skel vir Hein uit. Dié tweetjies vind mekaar weer deur al die gebeurtenisse en besluit om hul verhouding ’n geheim te hou. Sal Yvette hiervan uitvind? 

Gepraat van verhoudings, Ayesha en Langes besef daar mag dalk iets meer tussen hulle wees maar albei van hulle is nog onseker. Ayesha kom met allerhande gedagtes voor om meer tyd met Langes te spandeer, soos Kersete by Eva en Lennie se huis tot private klasse vir Eva aanbied in Lionel en Janice se huis. Lionel sit net daar sy voet neer en sê dit mag onder geen omstandighede meer gebeur nie. Sal Langes en Ayesha eindelik hul pad na mekaar vind?

Arendsvlei is weeksdae om 19:30 op kykNET & kie (DStv-kanaal 145).

Onthou om weeksaande in te skakel vir jou gunsteling kykNET-sepie en ons saam te gesels op FacebookTwitter en Instagram deur die hutsmerke #DiepeWaters, #Arendsvlei, #Suidooster en #Binnelanders te gebruik.