Logo

‘Vee jou voete af!’ – Boer Soek ’n Vrou 11

Nuus
24 Desember 2018
Leah deel haar wenke vir wanneer jy jou voornemende skoonfamilie ontmoet.
BSV-Leah-Wenke

Leah. FOTO: Vanuit ’n episode van Boer Soek ’n Vrou 11

 

Die finale keuses is gemaak en nou is dit elk van ons boere se beurt om bietjie soos ’n vis uit water te voel! Eerste indrukke is blywend, of hoe?

Boer André het één kans om Madelé se pastoorpa en die res van haar gesin, wat buite Pretoria woon, om sy pinkie te draai. Hy het bykans altyd ’n glimlag op sy gesig en het dit baie geniet om die dames aan sy familie en vriende, wat hom skoon emosioneel gelaat het, voor te stel.

Ons kan maar net hoop André is ewe in sy noppies oor die geleentheid om háár geliefdes te leer ken!

Boer Cassie is van plan om die sjarmekraan in die Roedtan-omgewing oop te draai. Dié boer het ’n emosionele week agter die rug en ons is seker hy sien uit daarna om te ontspan en Alyssa se naastes te ontmoet.

Boer Duncan gaan die Vrystaat vir Oos-Londen verruil om tyd saam met Kelly se mense deur te bring. “Ek dink ek kom goed met mense oor die weg,” het Duncan gesê. “Van wat ek gehoor het van Kelly se familie, sien ek baie uit daarna om hulle te ontmoet. Ek is ook seker sy het ongelooflike vriende.”

Toe ’n dame vir Boer Rèan in die blitsafsprake-episode vertel het van haar planne om aan die Comrades deel te neem, het hy gespot: “Ek bel nie eers so ver nie!”

Nóú moet die boer baie meer as 90 km aflê, want die Engelse nooi van sy drome woon in Durban. Liefde oor die taalgrens is geensins ’n probleem vir hom en Rox-Zee nie, maar gaan haar ouers en vriende met die Noord-Kaap-boer oor die weg kom?

Nardus is van die Roedtan-omgewing en dís waarheen Boer Toanette gaan reis om sy mense te leer ken. Dié beesboer het voorheen genoem dis moeilik vir hom as man om nie die jagter in die verhouding te kan wees nie, so dit gaan interessant wees om te sien hoe hy Toanette in sy wêreld verwelkom.

Gaan André, Cassie, Duncan, Rèan en Toanette beïndruk wanneer die rolle omgeruil word? Skakel Donderdag om 20:00 in om uit te vind, en lees ook Leah se vyf wenke vir wanneer jy jou voornemende skoonouers ontmoet:

  1. “Vee jou voete af voor jy by die huis instap!”
  2. “Bied aan om die skottelgoed te was, of bietjie met die kos of skottelgoed te help.”
  3. “Vind uit waarvan hulle hou en kom dalk met ’n geskenkie daar aan.”
  4. “Probeer om nie vuil grappe op die eerste dag wat jy hulle ontmoet te vertel nie.”
  5. “Praat altyd met die uiterste respek oor hul seun of dogter.”

Gesels saam op sosiale media deur die hutsmerk #BoerSoeknVrou te gebruik.