Logo
Vet Kans
web uni tv guide

Vet Kans

144RealiteitsprogramPG

Vat ’n Vet Kans om gewig te verloor

Nuus
27 Augustus 2018
Wie nie waag nie, sal nie wen nie.
Vet Kans_Billboard

Of dit is omdat jy mooi wil lyk in jou trourok op jou groot dag, saam met jou kinders bal wil rondskop sonder om uit asem te raak, ’n goeie rolmodel vir hulle wil wees of bloot omdat jou gewig jou selfvertroue knou – bykans almal wil graag gewig verloor, maak nie saak of dit 5 kg of 50 kg is nie.

Vet Kans is kykNET se nuwe realiteitsprogram wat ses deelnemers se gewigsverliesreis gaan volg. Elkeen van hulle het besluit om hul lewens drasties te verander, met gewigsverlies (tussen 20 kg en 40 kg) as die uiteindelike doelwit. Die deelnemers volg die MediLean dieetprogram vir 16 weke en die deelnemer wat die meeste vet as persentasie van sy/haar totale liggaamsmassa verloor, stap weg met ’n eilandvakansie vir twee.

“Kykers kan emosie, humor en ware lewensverhale verwag,” vertel Rian van Heerden, die vervaardiger van Vet Kans. “Die deelnemers verander nie net hulle lewenstyl nie, maar ook hulle lewensuitkyk met behulp van twee lewensafrigters en die MediLean dokters.”

Die aanbieder Karin van der Laag is veral bekend vir haar rol as Maggie Webster in die SABC3-sepie Isidingo, ’n rol wat sy vir 12 jaar vertolk het. 

Die deelnemers gaan meer as net ’n dieet volg – hulle gaan gekonfronteer word met hul gunsteling-disse en uitvind hoe sterk hul wilskrag is om dié versoeking te weerstaan; hul selfvertroue gaan getoets word met ’n aandjie uit na ’n karaokekroeg; en hulle gaan ’n dag by Valley of the Waves by Sun City deurbring… in swemklere! Hoe gaan hulle in dié uitdagings vaar?

Niemand het ooit gesê dis maklik óf lekker om gewig te verloor nie, maar met die ondersteuning van die MediLean dokters, lewensafrigters, en mede-deelnemers wat die uitdaging saam met hulle aanpak, wag daar meer selfvertroue en ’n gesonder leefstyl.

Moenie ’n oomblik van die opwindende gewigsverliesreis misloop nie. Skakel in vanaf Donderdag, 4 Oktober 2018, om 18:00 op DStv-kanaal 144 vir Vet Kans. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #VetKans.