Logo
Slim BB vjgt
web uni tv guide

Vat Jou Goed En Trek

144RealiteitPG

Vat jou goed en trek: Henck en Candice se wenke - Episode 4

Nuus
29 Julie 2022
Kies ’n styl en hou daarby. Hier is nog wenke vir jou onthaalarea.
vat jou goed en trek wenke

In Vat jou goed en trek se vierde episode van die nuwe seisoen, het Henck en Candice weer vir groot vreugde gesorg toe die onthaalarea van ’n huis ’n nuwe voorkoms gekry het.

Waar is die huis en wat was die eienaars se opdrag?

Ilze en haar man, Hannes, woon al die afgelope tien jaar in Moreleta Park in ’n huis met vyf slaapkamers op ’n groot erf waar daar ook ’n tuinwoonstel is. Hulle het Henck gekontak omdat hulle die huis wil verkoop aangesien hulle wil afskaal en Namibië toe trek.

Wat is die nuwe neigings wat met hierdie projek gebruik is?

Daar is ’n groot onthaalarea wat nie optimaal benut word nie. Die vertrek het ook ’n aanliggende eetkamer wat leegstaan en nie gebruik word nie. Oop spasies soos hierdie skrik voornemende kopers af en dit is gewoonlik hoekom leegstaande huise moeiliker verkoop as huise wat gemeubileer is.

Die span het besluit om beide vertrekke ’n nuwe voorkoms te gee. Candice het die onthaal-area meer funksioneel gemaak en die eetkamer se potensiaal gewys deur die vertrek te meubileer. Die oorspronlike verfkleur was babablou wat nie by die dekor van die res van die huis gepas het nie. Dit is ook nie juis ’n kleur wat in ’n onthaalarea gebruik moet word nie. Candice het besluit om ’n sandkleur te gebruik wat die donker teëls gekomplimenteer het. Die plafon was nie in ’n goeie toestand nie en die warriors van Warrior Construction het nie net die plafon herstel nie, maar ook ekstra beligting ingebring.

Vir die dekor het Candice ’n neutrale palet gebruik om die mure en die teëls te komplimenteer. Sy het by aardse kleure gebly en dit deurgetrek na die meubels. Die eetkamertafel het ’n sementvoetstuk en houtblad wat die fokuspunt in die eetkamer is. ’n Vaalwit bank met mosterdkleurige kussings het perfek in die onthaalarea gewerk. Die twee vertrekke praat nou met mekaar en die dekor wys die potesiaal van die spasie vir die koper.

Candice se wenke vir jou ontaalarea is:

  • Bepaal jou begroting in die beplanningsfase en hou so na moontlik daarby.
  • Weet watter styl jy in gedagte het. Mens wil nie hê jou dekor moet laslappie lyk nie. Kies ’n styl en hou daarby.
  • Neem die grootte van die spasie in ag wanneer jy meubels koop. Jy wil nie hê dat die meubels die spasie kleiner laat lyk as wat dit is nie. Die spasie moet ook nie jou meubels laat verdrink nie.
  • Maak seker jou onthaalarea binne en jou onthaalarea buite weerspieël mekaar. Die twee moet met mekaar praat en ’n samehangende gevoel skep.
  • In Ilze se geval, loop die vertrek uit op ’n pragtige stoep met ’n swembad. Maak dus gebruik van ligte gordyne om natuurlike lig in te bring en die vertrek groter te laat vertoon.
  • Groot glasdeure maak die stoeparea ’n natuurlike uitbreiding van die onthaalarea.
  • Gebruik baie potplante in die onthaalarea om die spasie meer lewe te gee.

Stroom die reeks Vat jou goed en trek op Vrydae om 17:30 op kykNET op die DStv-app. Jy kan ook jou mening gee oor die program aanlyn, gebruik die hutsmerk #VatJouGoed.