Logo
Nataniël. Erik. Wolf.
web uni tv guide

Nataniël. Erik. Wolf.

144LeefstylPG

Vars vermaak dié April

Nuus
19 Maart 2019
Hier is waarna jy kan uitsien in April.
kykNET_Article Billboard March2019_Billboard 1600 x 640 (1)

Jy gaan alles behalwe verveeld wees dié April. Maak solank gereed vir vermaak uit die boonste rakke wat jou vasgenael voor die kassie sal hou. Hier is waarna jy kan uitsien: 

Die Spreeus
Dinsdae om 20:00 vanaf 9 April 
Met Chris Vorster, Sandi Schultz en Monique Rockman

LEES: ONTMOET DIE KARAKTERS WAT JOU HARE GAAN LAAT RYS

Die Spreeus is ’n bonatuurlike rillerreeks, waarin twee onverskrokke speurders van die Spreeus-ondersoekeenheid – Bas Koorts en Beatrice Mack – elke week ’n ander fenomeen ondersoek en misdaad se spoor tot in ander wêrelde volg.

Kyk hier na agter-die-skerms-foto’s:

Gallery

In Die Spreeus word bekende verhale uit die Suid-Afrikaanse kultuur dikwels gebruik om ’n storie te vertel wat ook tot vandag se kyker spreek, soos die spook van Uniondale, die tokoloshe en CJ Langenhoven se klassieke kortverhaal, Die bouval op Wilgerdal.

KYK: BONATUURLIKE KOM KUIER​

FOTO: Light Lounge Studio

Maak my Famous
Donderdae om 20:00 vanaf 18 April op kykNET;
Donderdae om 21:00 vanaf 18 April op kykNET&kie
Met Emo Adams as aanbieder en Tarryn Lamb as mede-aanbieder​

’n Talentkompetisie soos nog nooit tevore. Emo Adams én die kykers gaan een gelukkige mens famous maak. Die prys? ’n Jaar lange toer met Emo en All Stars Productions & Records.

Kykers kan uitsien na hope, uiteenlopende talent. Die jongste deelnemer is ’n 11-jarige van Midrand en die oudste is die 36-jarige ‘Charmaine van die Plein’. Elke deelnemer het ’n storie om te vertel en gaan kykers se hartsnare roer.


Die Siener
Woensdae om 20:00 vanaf 24 April
Met Gerald Burger as aanbieder

Die heldersiende, Gerald Burger wat reeds jare gelede die Lainsburg-vloede van 25 Januarie 1981 vooraf korrek voorspel het, is deel van die nuwe werklikheidsreeks. In dié program gaan hy mense met verskillende kwessies help – van mense wat afgesterf het en nie kan aanbeweeg nie, tot bonatuurlike verskynsels wat inwoners teister.

LEES OOK: DIE SIENER IS DIE WARE JAKOB

Gerald het al van jongs af besef hy het ’n gawe om die toekoms te voorspel en deesdae werk hy voltyds as ’n heldersiende. Hy word ook gereeld gevra om ontslae te raak van bonatuurlike verskynsels wat mense in hul huise traumatiseer.

In Die Siener doen Gerald ’n verskeidenheid van mense se lesings om hul verlede, toekoms en huidige situasie te analiseer. Hy help ook om van kwelgeeste in huise ontslae te raak en besoek bekende spookplekke soos Die Kasteel in die Kaap, Die Lord Milner Hotel in Matjiesfontein en die Rudd House in Kimberley om vas te stel of dit werklik daar spook.


Die Ware Naarheid
Woensdae om 20:30 vanaf 24 April 
Met Schalk Bezuidenhout as aanbieder en Erns Grundling en Bibi Slippers as korespondente

Ná ’n suksesvolle eerste seisoen is Die Ware Naarheid terug op kykNET. In die nuwe reeks van die satiriese nuusprogram verwelkom die span ook ’n nuwe korrespondent, wat binnekort bekendgemaak sal word.

In tipiese TV-nuussatire-styl word die nuus van die week die grap van die jaar. Van ’n ernstige politieke skandaal tot ’n lawwe insident op ’n klein dorpie: Die Ware Naarheid kyk niks mis nie en maak biltong van elke heilige koei. Ja, dit beteken wel dat knoppies gedruk word (en ons bedoel dit nie net figuurlik nie).

KYK OOK: OU GERAAMTES UIT DIE KAS

Die kommentaar op sosiale media is ’n bewys dat die program gesprek ontlok. Schalk gesels ook tydens die program met bekendes, mediafigure en soms selfs familielede om ’n alternatiewe blik op die jongste nuus te kry. Hoewel die program propvol grappe is, is dit beslis nie ’n grap nie: dit sal jou help om sin te maak van alles wat aangaan sonder om jou te bedruk of te verveel. 

Met Die Ware Naarheid kry jy jou weeklikse dosis nuus met ’n goeie skeut humor in, want dis soms die enigste manier om die nare waarheid te verteer. 


Die kykNET Ghoema Musiektoekennings
Woensdag om 20:00, 17 April, regstreeks op kykNET

Die kykNET Ghoema Musiektoekennings bring elke jaar die grootste rolspelers in die musiekbedryf bymekaar om vrystellings tydens die 2018 kalenderjaar te bekroon.

LEES OOK: HIER IS DIE BENOEMINGS

In 2019 vier die kykNET Ghoemas sy agtste bestaansjaar en bly dit steeds een van die mees gesogte toekennings vir enige kunstenaar in die Afrikaanse musiekbedryf om te wen. Oor die afgelope sewe jaar het die Ghoemas ’n reuse impak op die loopbaan van alle kunstenaars wat dit gewen het gehad en ons vereer op 17 April 2019 weer die beste 2018 vrystellings van alle Afrikaanse musiek.   

WEN R10 000 MET DIE GHOEMAS

Dié gala-geleentheid vind hierdie jaar by Sun Arena by Times Square in Pretoria plaas en word vir die derde jaar regstreeks op kykNET DStv-kanaal 144 uitgesaai. 

WEN ’N KYKNET GHOEMA BBP-ERVARING MET JOU FOTO


La’t Wiel
Dinsdae om 17:30 vanaf 2 April
Met
 Hannes Visser, Waldo van der Waal en André Weideman as aanbieders

Die La’t Wiel-span is terug vir ’n twintigste reeks. Die program het in 2004 die lig gesien en al meer as 450 episodes is vervaardig, met die span wat al duisende motors op bykans elke kontinent bestuur het.

In dié seisoen van La’t Wiel pak die span oudergewoonte ’n paar groot avonture aan. In die eerste episode poog hulle om die helfte van ’n kontinent te kruis en later in die seisoen ry hulle Namibië plat, kompleet met ’n boskaravaan agterna. Hulle vertel ook die storie van hoe die span Suid-Afrikaners met hul trots Suid-Afrikaanse bakkie die wêreld se strafste motorwedren gewen het tydens vanjaar se Dakar Woestynren in Suid-Amerika.

Terug op tuisbodem woon hulle ’n string nuwe motors se Suid-Afrikaanse bekendstellings by. Dit sluit in die nuutste BMW X5 sowel as BMW se nuwe 3-reeks, ’n klein Suzuki veeldoeler, en ’n elektriese sportnuts uit die Jaguar-stal. Hulle toets ook ’n verskeidenheid motors wat wissel van bekostigbaar tot peperduur en maak gereeld ’n draai by die gebruikte motorsupermark op soek na ’n paar winskope.


Tyd met Aleit 4
Woensdae om 18:00 vanaf 3 April
Met Aleit Swanepoel as aanbieder

Soos met vorige reekse wys trou- en funksiebeplanner Aleit vir kykers hoe enige geleentheid in ’n elegante geleentheid omskep kan word.

In dié seisoen loer Aleit weer in by ’n rits Suid-Afrikaanse persoonlikhede se huise, insluitend sanger en aanbieder, Katlego Maboe, sanger Andriëtte Norman, akteur De Klerk Oelofse en sjef, Tiaan Langenegger. Nie net deel hulle hul stylwenke met Aleit nie, maar verklap hulle ’n paar interessante feite oor hulleself.

Aleit pak ook ’n glytoer, oftewel zipline, buite Ceres aan, toets ’n glamping tent en beplan ’n tuinpartytjie vir Paastyd. Boonop sorg twee bekende varke vir ’n interessante storie.


Nasie in Gesprek
Donderdae om 18:00 vanaf 4 April
Met Theo Vorster en Rozanne McKenzie as aanbieders

Nasie in Gesprek neem jou op ’n reis deur Suid-Afrika se pragtige platteland. Ons ontgin die verskeie bedrywe wat eie aan hierdie omgewings is – en volg die plaaslik vervaardigde produkte, van plaashek tot tafel. Die belangrikste uitdagings in hierdie dorpies en bedrywe word ondersoek.


Glam Guru
Sondae om 17:30 vanaf 7 April
Met Hannon Bothma as aanbieder

In Glam Guru gee die makeover-koning, Hannon Bothma, vir verskeie deelnemers se selfvertroue ’n hupstoot. Hy wys hoe maklik dit is om mooi te lyk met ’n paar eenvoudige styl- en grimeerwenke.

INSKRYWINGS NÓÚ OOP VIR GLAM GURU

In die sestiende seisoen sorg Hannon vir pragtige transformasies. Van ’n dame met ’n swak selfbeeld wat as kind geboelie is en ’n enkelma van twee tieners wat gereed is om liefde te vind tot ’n jong weduwee wat haar sangloopbaan van die grond af wil kry en iemand met ’n auto-imuun siekte wat nie ’n siek persoon in die spieël wil sien nie. Daar is geen uitdaging te groot vir Hannon nie.

Safari 4x4 Roetes
Maandae om 17:30 vanaf 8 April
Met André de Villiers​ en Petri de Wet
 as aanbieders

In hierdie reeks pak 4x4-spesialis André de Villiers en hengel-spesialis Petri de Wet hulle 4x4-bakkies en reis deur Suid-Afrika op soek na pragtige 4x4-roetes en kampplekke.

Petri gaan weer op reis saam met André, wat hom na die land se viswaters gaan neem, terwyl hy moeilike 4x4-roetes aandurf en hom die fynere kunsies van 4x4-ry leer. Petri gaan hopelik op sy beurt vir André die fynere kunsies van visvang leer!


Leef jou Reis
Maandae om 18:00 vanaf 8 April
Met Gerrie Pretorius as aanbieder

In kykNET se eerste volwaardige internasionale leefstylprogram, Leef jou Reis, verken Gerrie Pretorius unieke reisbestemmings wat hom na aan die hart lê en gee wenke vir diegene wat hierdie bestemmings ook wil besoek.

Daar is verskeie hoogtepunte in hierdie seisoen, soos die hoogste wingerd en wynplaas, sowel as die oudste skoenmakery in Suid-Afrika, wat geleë is in die Sederberge. Dinge gaan jolig by die Hoffbrauhaus in München, waarna Gerrie suidwaarts beweeg vir die romantiese roete en Oberammergau wat vir die Passiespele regmaak. Die span beleef ’n ongelooflike besoek aan Israel, waar hulle die Via Dolorosa besigtig, kuier in die Italiaanse Alpe en reis deur die Namibiese woestyn. Kroasië, St. Petersburg en Moskou is ook op die lys van bestemmings.

Op die Spel 4
Maandae om 20:30 vanaf 8 April
Met Rian van Heerden as aanbieder en Gerhard van Huyssteen as die taalkenner

Daar is ’n kinkel in die kabel in hierdie reeks van die gewilde spel- en taalspeletjieprogram: hoërskooldeelnemers gaan die geleentheid kry om mekaar die stryd aan te sê en swaarde te kruis.

Bly op hoogte deur kykNET op FacebookTwitter en Instagram te volg dié April.