Logo
Reis na Gister
web uni tv guide

Reis Na Gister

144Leefstyl5

Van toeka tot nou saam met Jak de Priester – Reis na Gister 6

Nuus
09 Desember 2019
Die sesde seisoen van Reis na Gister is terug.
RNG Press Release

Jak de Priester neem van Suid-Afrika se suksesvolste bekendes terug in tyd na waar hulle hul grootword jare deurgebring het. Van hul ouerhuis tot klaskamer, deel bekendes wat hulle gevorm het in hul pad na sukses.

In die vorige seisoene van dié program het Jak ’n draai by groot legendes, insluitende Pieter-Dirk Uys, Nataniël, Johan Stemmet, Karen Zoid, Sandra Prinsloo en Piet Byleveld, gemaak.

In die nuwe seisoen, wat op Donderdag 2 Januarie 21:00 op kykNET DStv-kanaal 144 afskop, kan kykers uitsien na Jak wat terug in tyd saam met bekendes, soos Frank Opperman, Pietman Geldenhuys, Brümilda van Rensburg, Jo Black, Rian van Heerden, Leah, Refentse en Clint Brink, gaan.

“Ek is baie opgewonde dat Reis na Gister terug is. Dis ’n ongelooflike ervaring om saam met mense te gaan kyk waar hulle groot geword het,” meen Jak. “Dis ’n emosionele reis – wanneer ’n mens terug gaan in jou verlede, besef mens dat tyd nie stil staan nie.”

Een van die hoogtepunte vir hom is die episode met Frank Opperman. “Ek is ’n groot fan van sy werk en dit was vir my ’n groot voorreg om ’n dag saam met hom te kon spandeer. Brümilda van Rensburg was ook fantasties – dit was ongelooflik om te sien hoeveel emosie ’n besoek aan die huis wat destyds aan haar ouers behoort het, gebring het.”

Hy vertel ook hoe ’n groot inspirasie Jo Black vir hom is. “Jo het ’n moeilike kinderlewe gehad, maar kyk hoe suksesvol het hy uitgedraai. Dit is vir my wonderlik om te sien hoe mense, ten spyte van moeilike omstandighede, met die regte besluite en goeie mense in hul lewens, sukses kan bereik. Dis vir my werklik ’n voorreg om met elk van die gaste hierdie emosionele reis te kan meemaak.”

Seisoen 6 van Reis na Gister word vanaf Donderdag 2 Januarie 21:00 op kykNET DStv-kanaal 144 uitgesaai. As jy nie seisoen vyf kon kyk nie, skakel gerus vanaf Maandag 6 Januarie 20:30 op kykNET&kie DStv-kanaal 145 in.