Logo
Fraksie Slim BB
web uni tv guide

Fraksie

144Drama13 VL

Van die verhoog tot voor die kamera – Fraksie

Nuus
20 September 2022
Leer ken die man agter die karakter Tim Koopman in Fraksie en vind ook uit waaroor hy en sy mede-akteurs gesels agter-die-skerms.
Marlo Minnaar Fraksie

Marlo Minnaar, een van die talentvolste akteurs van sy generasie, is Tim Koopman, die briljante dromer met die streng morele standaarde wat voor ’n paar groot besluite in sy lewe gaan staan in die nuwe kykNET-dramareeks Fraksie, wat Dinsdae 20:00 uitgesaai word en ook op Catch Up beskikbaar is.

Hoe het jy vir Tim geskep? Is daar iemand wat jy as inspirasie gebruik het? 

Dit was vir my vreeslik lekker om die karakter van Tim te ontwikkel. Hy het as kind geswerf, moes sy eie skoolgelde en koshuisgelde betaal as gevolg van ’n pa met ’n dobbelprobleem en die afwesigheid van ’n ma van jongs af. Hy is hoogs intelligent en kon byvoorbeeld ’n rekenaar van niks af opbou en hy is trots op dit wat hy in die lewe vermag het. 

Hy vertel in ‘n stadium vir Chantel, sy bruid waarmee hy pas getrou het, dat wanneer hy sy tannie se rooi karretjie voor die skool sien staan het, het hy geweet hulle slaap weer by haar die aand. Dat sy pa weer alles weg gedobbel het.

Hierdie swaarkry in die lewe het hom meer versigtig gemaak om oorhaastig besluite te neem. Hy is ook grootliks empaties teenoor ander en leen juis op hierdie karaktereienskap om ’n finansiële-toepassing te ontwikkel om studente spaarsamigheid en verantwoordelike besteding te leer. 

Wanneer hy voor ’n kruispad staan waar hy groot besluite moet neem wat sy lewe dalk onherroeplik kan verander, word sy morele waardes en integriteit getoets. Hierdie temas moes ek ondersoek en dit is vir ’n akteur soms die vleis aan die been as daar sommige raakpunte is in jou eie lewe waarmee jy kan identifiseer.

Jy en Crystal-Donna Roberts lyk of julle gemaak is om teenoor mekaar te speel. Was dit so maklik soos wat dit lyk? 

Ek het groot bewondering vir Crystal-Donna Roberts. Ons ken mekaar al geruime tyd en het al kinderteater saam gedoen, maar dit is die eerste keer dat ons televisie saam doen. Dit is so ’n blessing om teenoor haar te speel. Sy is van daai old school akteurs wat alles gee in haar performance. Soveel só dat ek soms in verwondering haar net aanstaar en vergeet dat ek volgende moet praat. Die chemistry wat ons hopelik op kamera het, sprei uit die wedersydse respek en liefde wat ons vir mekaar het. Sy is definitief een van ons land se beste akteurs. 

Dit is ’n gedugte rolverdeling. Het julle die beste in mekaar uitgebring? 

Wat ’n seëning om met soveel gevestigde en ervare akteurs, maak ook jongelinge, op Fraksie te werk. Elkeen bring soveel van hulle persoonlike ervaring na die tafel. Dit is ’n ongelooflike leerskool vir my. Hierdie hele produksiespan van Infinity Films - van produksie tot die regisseur en crew - het soos ’n familie geword. Cliché, maar as’t ware ’n well-oiled machine. Daar is een doel voor oë met ons almal en dit is om die werk gedoen te kry, ons beste te gee en ook fun te hê terwyl ons dit doen - en soms verskriklik hard te moet werk. Nina Swart (regisseur) is so vrygewig met haar vermoëns om die beste uit jou te bring, dat jy as akteur slegs hoef te fokus op hoe om meer te gee om geloofwaardigheid in jou spel te kry.

’n Hele paar van julle werk ook gereeld in die teater. Waaroor praat julle wanneer julle nie voor die kameras is nie? 

Agter die skerms is dit gewoonlik ’n plesier om te luister na hoe die gewone lewe ons hanteer as ons nie op stel is nie. So deur die word runs, terwyl ons soms soos zombies rondloop en probeer cuelines onthou, is loadshedding, woke culture, air fryers, musiek en nuwe televisiereekse wat trend hoog op die lys.

Abduragman Adams speel my pa in hierdie reeks. Hy is een van die eerste vriende en broer-figure wat ek en Dean Balie gemaak het na afloop van ons studies op Stellenbosch en as jong, arm kunstenaars Kaap toe getrek het om hierdie loopbaan aan te durf. Daar was soms nie eers ’n R50 om aandete te maak nie, en ons was te trots om huistoe te bel.  

Abduragman het ons baie kere oorgenooi om sy aandete te deel. Hierdie is die eerste keer wat ek teenoor hom speel. Wat ’n voorreg was dit nie, en soos die water maar onder deur die brug gevloei het en skedules begin besig word het, het ons maar minder van mekaar gesien. Tussen al die emosionele tonele deur was daar lekker gelag en opgevang. 

Wat is in jou dagboek vir die res van die jaar?

Die Halwe Huis, my vyfde solo-vertoning wat vroeër hierdie jaar by KKNK en Suidooster was, maak eersdaags ’n draai by die Woordfees vanaf 10 tot 16 Oktober 2022. Dit is geskryf deur Ricardo Arendse met regie deur Lee-Ann Van Rooi. Brett Bailey se Samson, waarin ek die verteller speel, geniet weer in Januarie ’n speelvak in Frankryk. Dit het gehore bekoor laasjaar by die Festival De’Avignon met tien minute-lange staande ovasies. Dit is wonderlik dat teater weer oop en aan die gang is. En belangrike stories weer vertel kan word.

Wat is die drie grootste vreugdes in jou lewe?

Ek sou sê my familie, vriende en die feit dat ek nog vir meer as tien jaar kon stories vertel waaroor ek passievol is.

Wat is die beste herinnering van jou jeug in Oudtshoorn?

My herinneringe van Oudtshoorn is beslis sy mense. Aardse mense. Ek het as weermagkind op die infanteriebasis op Oudtshoorn in die vroeë 90’s grootgeword. Ek raak soms baie nostalgies as ek terugdink aan hoe wonderlik dit was om in ’n klein dorpie groot te word en dat daar hoop en inclusivity onder die jonges was. Maar hoe ouer ek geword het, het ek ook besef watter groot rol Oudtshoorn en van sy mense in die groter Suid-Afrika gespeel het - Dr. David Piet, Reggie Oliphant, Ds. Gerald De Klerk om net ’n paar te noem.

Wat is die een groot projek wat jy nog wil aanpak?

Ek spot altyd en sê die dag as daar in Suid-Afrika ’n weergawe van Hamilton: An American Musical aangepak word en ek die rol van Hamilton kry, tree ek af daarna. Maar persoonlik sou en nog graag my eie films wou skryf en maak, maar die tyd sal homself kies. Dalk as die spelgogga gaan...

Wat is jou raad aan Tim? 

Vir Tim sou ek sê dat alles okay sal uitwerk aan die einde. Dat hy nie so hard op homself moet wees nie en hy altyd sy eie instink moet volg, dis daar om te lei. En ook dat hy al die goeie seëninge werd is wat hy verdien en hom toekom in die lewe.

Wat dink jy gaan kykers die meeste verras van Fraksie?

Fraksie het iets vir almal. Daar is die liefde en haat, die rugsteek en die verdedig, die spanning en intrige, alles waarvan Shakespeare gemaak is. Kykers sal beslis met vele van die storielyne kan vereenselwig.

Fraksie is op Dinsdagaande om 20:00 op kykNET (kanaal 144) en is ook op Catch Up beskikbaar. Gesels ook saam op FacebookTwitter en Instagram deur die hutsmerk, #Fraksie te gebruik.