Logo
Mooiweer en warm
web uni tv guide

Mooiweer En Warm

144Drama13 VL

Twee jong talente steel harte - Mooiweer en Warm

Nuus
28 Februarie 2023
Mooiweer en warm se Ruben en Maddy is ’n paartjie wat die beste in mekaar uitbring en ’n gunsteling onder kykers is. Praat jy met die twee spelers wat die rolle speel, Carlo Daniels en Athina Jansen, hoor jy hulle het ook op stel die beste in mekaar uitgebring.
mooiweer en warm

Wat het jy die meeste van jou karakter geniet?

Carlo: Beslis sy passie. Sy passie vir sy werk, sy passie vir die lewe, sy passie vir probleme oplos en sy passie vir wetenskap. Dis ’n inspirasie en ek het dit waardeer terwyl ek hom gespeel het. Hy is ook baie snaaks sonder dat hy dit weet. Lekker quirky. Hy is nou nie altyd ‘n mense-mens nie omdat hy so op sy werk gefokus is, maar dis iets wat ek van hom waardeer. Daar is ’n groot probleem wat in Mooiweer en warm opgelos moet word en hy is ’n groot deel van die oplossing.

Athina: Ek en Maddy is al twee familie-georiënteerd. Dit was lekker om die karakter te vertolk as getroude vrou, entrepreneur en toekomstige ma.

 

Die rolverdeling is jong en meer gevestigde spelers. Wat bring julle in mekaar uit?

Carlo: Dit bring met die jong spelers ’n lekker energie; ’n goeie vibe. Dis ’n uitdaging op ’n goeie manier en ons leer die hele tyd. Ook met die gesprekke met die ouer spelers en nie net oor die reeks nie. Die tussenin gesprekke oor oor lewe en menswees. Dit bring ’n baie goeie balans omdat daar so bietjie van alles is.

Athina: Dit was vir my so ’n groot eer om mel al die gevestigde akteurs en aktrise te kon werk. Ek het so baie geleer van die spel, weer eens, en hoe om iets geloofwaardig oor te dra. En omdat Carlo ’n teater-akteur is, kon ek die “in die oomblik”-spel ervaar en alles gee wanneer dit kamera rol. Dit was ’n ongelooflike ervaring.

 

As jy moet kies: teater of TV?

Carlo: Dis ’n moeilke een. Ek doen al teater van kleintyd en ek sou sê ek sal teater kies omdat dit is hoe alles begin het. Ek hou ook van TV – ek is ’n akteur en elkeen bring sy eie uitdagings – maar as ek moet kies, sal dit teater wees.

Athina: Hulle verskil grootliks van mekaar. Maar ek sal mot gaan vir TV omdat ek die afgelope twee jaar baie geleenthede voor die kamer gekry het – of dit nou ’n sepie, ’n reeks, ’n kinderreeks of ’n advertensie was. Almal het verskil, maar op sy eie manier is die TV-industrie vir my baie spesiaal.

 

Wat was vir jou die hoogtepunt van die opnames?

Carlo: Daar was soveel, maar ek sou sê om saam met Athina te speel. Ons het mekaar verstaan, nie net as karakters nie, maar ook in die spasie wat ons mekaar gegee het om te speel. Jy hoop altyd dat dit werk wanneer jy teenoor iemand speel en hier het dit beslis gewerk. Sy is baie talentvol en net ’n lekker mens.

Athina: Die hoogtepunt vir my was die twee ongelooflike regisseurs (Ephraim Gordon en Zandré Coetzer) wat ons gelei het, maar ook toegelaat het om te eksperimenteer en te speel. Hulle idees verskil ook baie, so om met twee puik regisseurs te kon werk, was ’n fees.

 

Wat is jou planne vir die res van die jaar?

Carlo: Ek is by die KKNK in twee produksies: Droomkraan Kronieke saam met die Karoo Kaarte-geselskap en ook die eenmanstuk Jesse, die man en die maan wat deur Kanya Viljoen geskryf is. By die Suidoosterfees is ek in The Fix en dan later weer by die Baxter in The Life and Times of Michael K. Ek sien uit daarna. Dis baie werk wat voorlê en dis uitdagend, maar dis ’n joy en ’n plesier. Ek hoop ook daar is nog TV-werk wat kom.

 

Athina: Ek is terug in Suid-Korea waar ek Engels gee. Ek sprei my vlerke, maar hoop om weer my voet in die industrie te kry en in my taal – Afrikaans – te kan werk. Suid-Afrika is en bly diep binne my hart.

 

Skakel elke Dinsdag om 20:00 in vir #MooiweerEnWarm en gesels saam op Facebook, Twitter en Instagram