Logo
MMF

Twee finaliste se Maak My Famous-reis eindig

Nuus
15 September 2020
Lees meer.
LIGHT LOUNGE STUDIO 487 (1) (1)

Hierdie week het die sewe oorblywende finaliste van Maak My Famous met hul gunsteling-gaskunstenaars opgetree – en die optredes was aan die brand!

Spinksie het die voorreg gehad om Katy Perry se Roar met Leah op te tree terwyl DfeatSA saam met verlede jaar se dansgroep, The Unknown, gewys het wat in hom steek. Jayson Kleinschmidt het Freddy Mercury se Barcelona met die wêrelbekroonde operasanger Magdelene Minnaar gesing en Nicoleen Saal het Adele se When We Were Young met Loukmaan Adams gesing. Daylin Sass het besluit om Donveno Prins se Worried te sing met die saksofonis homself! En Reggie B en Early B het die mentors op hul voete gehad met hul optrede. Hul liedjiekeuse was Early B se treffer Leka Djy. Die Wesso’s het met Tarryn Lamb haar liedjie Vier Woorde gesing.

Die mentors, Allistair Isobel, Charlton Daniels, Nur Abrahams en Rushney Ferguson, het saam met Emo Adams, aanbieder en vervaardiger van die program, kommentaar gelewer. En natuurlik was daar ’n gaskunstenaar om die kykers te vermaak! Jarrid Ricketts het hulde gebring aan Queen met ’n ‘medley’ van die groep se liedjies.

Emo het weer ’n truuk uit sy hoed gehaal en aangekondig dat kykers hierdie week sal stem vir hul keuse van die Top 5 – en niemand uit sal stem soos voorheen nie. Jayson en Spinskie het die minste stemme gekry en moes die kompetisie verlaat. Maar dis nie die einde van dié twee nie.

Jayson sê hy wil nou graag professionele sangopleiding kry om die kwaliteit van sy stem te verbeter. “Ek wil baie graag my eerste ‘classical song’ in Afrikaans of Engels skryf en uitbring met die hulp van die beste in die bedryf.”

Terwyl Spinksie gretig is om te sien watter deure vir haar oopgemaak word. “Ek glo daar gaan vir my ’n toekoms wees in die bedryf, want ek is bereid om hard te werk. Vir nou skryf ek musiek en wag vir die regte oomblik om dit vry te stel.”

Reggie B, Die Wesso’s, Nicoleen Saal, Daylin Sass en DfeatSA het deurgedring na die Top 5 en sal komende Saterdag meeding vir ’n plek in die Maak My Famous-finaal. Emo gee die Top 5 ’n geleentheid om die gehoor vir oulaas te beïndruk met ’n mini-konsert van hul eie. Kykers sal weer vir hul keuse van die Top 4 moet stem – so maak seker jou selfoon of rekenaar is gereed vir aksie!

Maak My Famous saai elke Saterdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, en kykNET & kie, DStv-kanaal 145, uit.