Logo
PROJEK DINA

Trippel drama – kykNET se verjaarsdaggeskenk

Nuus
15 November 2019
’n Groot geskenk wag op al kykNET se kykers!
Trippel_Drama_1600x640[4]

Dit was ’n besige jaar, met vele hoogtepunte vir die kykNET-kanale. Kykers is met top-gehalte dramas regdeur deur die jaar bederf – van Dwaalster en Spreeus in die eerste helfte van 2019 tot Alles Malan en Fynskrif wat kykers vanaf Julie tot aan die einde jaar vermaak aan kykers verskaf het. Kykers was Dinsdagaande vasgenael voor hul televisies en dit het gegons op sosiale media ná elke episode – van die geheime van klein dorpies en die bonatuurlike gebeurtenisse tot die familie-dramas en regsake, kykers kon eenvoudig nie genoeg van die dramas kry nie.

kykNET het ook vanjaar ’n groot mylpaal bereik met die kanaal se 20ste verjaarsdag wat gevier word. En, om dankie te sê aan al die lojale kykers, het die kanaal ’n spesiale verjaarsdaggeskenk vir hulle: vanaf Januarie 2020 saai kykNET nie een nie, nie twee nie, maar dríé nuwe dramas uit – die ideale manier om ’n nuwe dekade te begin!

Die tweede seisoen van Die Byl, wat vervaardig is in samewerking met Showmax – en wat eerste op hierdie platform uitgesaai is – word op kykNET vanaf Sondag 5 Januarie 20:00 uitgesaai. Projek Dina saai Dinsdae 20:00 vanaf 14 Januarie uit, met die lang verwagte derde seisoen van Sara se Geheim wat Donderdag 16 Januarie 20:00 begin. Elkeen van die dramas is 13 episodes lank – dit beteken drie dramas wat elke week op kykNET tot vroeg in April 2020 uitgesaai word!

Kolonel Piet van der Bijl is terug

Die Byl vertel die verhaal van kolonel Piet van der Bijl, ’n briljante speurder wat spesialiseer in die vastrek van reeksmoordenaars. Sy hele wese is ingestel op die detail van die lewe en die stukke van die legkaart wat nie altyd wil pas nie. Sy persoonlike verhoudings ly egter onder sy werkywer, maar hy sal enigiets vir die mense na aan sy hart doen.

Dit is vyf jaar sedert ons Byl (Waldemar Schultz) en sy span leer ken het. Byl is steeds bekend as ’n super-speurder, maar hy was egter die rede hoekom kaptein Juan Stuurman (Marvin-Lee Beukes) uit die eenheid bedank het. Byl se verhouding met Nicki Swanepoel (Milan Murray) het verbrokkel ná hulle vir ’n tyd lank saam gebly het. Byl en generaal Neels van As (Tertius Meintjes) het die strydbyl begrawe, maar nie vir lank nie …

LEES HIER MEER OOR DIE REEKS.

*Die Byl 2 word vanaf Sondag 5 Januarie 20:00 op kykNET DStv-kanaal 144 uitgesaai.

Vermiste persone-taakspan het Kaapstad op horings in Projek Dina

Elke vyf uur word ’n kind in Suid-Afrika as vermis aangemeld. Ongeveer 30% van vermiste kinders word nooit gevind nie, terwyl 50% van vermiste volwassenes nooit weer gesien word nie. – SAPS Missing Persons Bureau, 2013

Drie lede met heeltemal verskillende persoonlikhede in een span, ’n magdom vermiste sake in Kaapstad en persoonlike lewens wat byna uitmekaar val – dit en alles meer kan in kykNET se nuwe dramareeks, Projek Dina, gesien word.

Projek Dina speel af in die werks-en lewensomgewing van die blits reaksie-taakspan, waar die druk hemelhoog en die ruimte vir foute piepklein is. Noudat die taakspan pas saamgestel is deur die Wes-Kaapse polisie – as ’n manier om die vinnig toenemende hoeveelheid gevalle van vermiste persone in Suid-Afrika te bestry – het die lede van die taakspan ’n skynbaar onmoontlike taak op hande: om die vermiste persone in Kaapstad op te spoor en hulle een vir een huis toe te bring. 

LEES HIER MEER OOR DIE REEKS.

Nóg geheime word ontbloot in Sara se Geheim 3

Sara se Geheim is ’n dramareeks wat in en om Athlone en Durbanville afspeel. Sara Abrahams, wat swaar dra aan ’n geheim wat sy 35 jaar gelede moes vertel om haar oudste seun (Johan oftewel Johnny) se lewe te red, is die persoon wat die Cloetes, Kiewietse en die Vermeulens saambind. Sara bewaar nie net haar eie geheim nie, maar ook dié van haar kinders.

Kykers het na hul asem gesnak toe Maggie aan die einde van seisoen twee per ongeluk haar geliefde seun Kelvin (Conway October) skiet. En kort voor dit het Maggie en haar suster, Lizzie (Quanita Adams), ontdek hul ma, Sara (June van Merch), het ’n jarelange geheim van hulle weerhou: hul broer, Johnny (Dawid Minnaar), lewe.

Nou word nóg drama en geheime ontbloot in die derde seisoen van dié gewilde en boeiende dramareeks. Seisoen drie begin waar die tweede seisoen geëindig het. Die dramatiese toneel waar Maggie met Kelvin in haar arms lê het ’n impak op Sara se hele familie.

Maggie se eks, Ricky (Brendon Daniels), het sy verskyning gemaak en vir haar oudste seun, Aiden (Marlo Minnaar), vertel dat hy sy regte pa is.

In die nuwe seisoen karring Johnny heeltyd aan Sara om sy geboortesertifikaat te sien, maar Sara weet, dis juis daardie geboortesertifikaat wat nóg ’n groter geheim bewaar.

LEES HIER MEER OOR DIE REEKS.

Trippel drama op kykNET DStv-kanaal 144 in Januarie 2020 – ons dankie aan ons lojale kykers. Op nog vele drama en intrige in 2020!