Logo

Top-uitvinder gesels oor waterlose wasmiddel

Nuus
20 Maart 2015
Hierdie week se episode van Winslyn het gefokus op van die land se top-innoveerders, waarvan Ludick Marishane een is.
kn_winslyn_20150317_drybath


Suid-Afrika is ’n ankerplek vir innovering. Twee plaaslike entrepreneurs, Ludwick Marishane en Dichaba Nkadimeng, het in dié week se episode van Winslyn oor hul produkte kom gesels.

Marishane, wat die waterlose wasmiddel DryBath uitgevind het, is die jongste persoon aan wie daar ’n patentreg in Suid-Afrika toegeken is en hy is in 2011 as die beste studente-entrepreneur ter wêreld aangewys.
Marishane het vertel die idee van ’n waterlose wasmiddel is in Limpopo gebore, toe hy nog op skool was. Die produk is ontwerp vir mense wat in gebiede met min of geen water woon, om water te help bespaar. Vandag is daar ook heelwat oorsese kopers, en vir mense in ontwikkelde gebiede is dit gerieflik om te gebruik wanneer hulle tyd wil bespaar.

Nkadimeng het ’n stewige agtergrond in bemarking en kommunikasie, en het die ystee-onderneming Southern Ice Tea op die been gebring. Hy het aan Divan Botha vertel dat dit van groot name soos Coca-Cola en Nestlé verskil omdat dit “natuurlik” vervaardig word. “Perskegeur is werklik perske,” het hy gesê. Hy hoop om hul mark na onder meer Doebai en Duitsland uit te brei.

Botha het met Jason Lee, skrywer van die boek Retire Rich Through Property, via Skype gesels. Volgens Lee beloon eiendom nie net beleggers nie, maar kan dit boonop ’n gemaklike aftrede verseker. Hy het gesê die risiko kan met genoeg navorsing beperk word. Hy meen beleggers moet eerste in residensiële eiendom belê omdat kommersiële eiendom ’n meer ervare belegger verg.

Santie Botha het ook met Louis von Zeuner, bankbedryf-veteraan en voorsitter van African Bank se sogenaamde “goeie bank”, oor dié bank se herstrukturering gesels. “’n Bank kan nie alleen op uitleen staat maak nie,” het Von Zeuner gesê. “Jy het diversiteit in jou inkomstestroom nodig”.