Logo
Nou toer ons – Poster

Toks en Breyton vat die pad – Nou toer ons

Nuus
30 Junie 2021
Nou toer ons begin op 2 Julie om 17:30 op kykNET, DStv-kanaal 144.
16 9 Logo

Hulle het al twee Suid-Afrika op die sportveld verteenwoordig en is die afgelope paar jaar bekend as TV-aanbieders. Daar is egter nog ’n ding wat Toks van der Linde en Breyton Paulse in gemeen het: ’n Liefde vir reis.

In Nou toer ons gaan Toks en Breyton vir dertien episodes kykers op ’n reis deur Suid-Afrika en Namibië neem. Met ’n spesiale gas elke week, gaan hulle ’n wye verskeidenheid besienswaardighede besoek, aan aktiwiteite deelneem en die gasvryheid en skoonheid van suider Afrika beleef.

“Ons kan nie wag om ons ervarings met die kykers te deel nie,” sê Breyton. “Hierdie program is beslis nie ’n normale kletsprogram nie. Hopelik sal mense sien dat dit nie nodig is om na die buiteland te gaan om ‘n eersteklas-vakansie te beleef nie. Daar is wonderlike plekke in Suid-Afrika en Namibië om te besoek.”

In elke episode sal die spesiale gas meer oor hulself deel, vertel van hulle doelwitte in die lewe en aan die verskeie aksiebelaaide – en soms humoristiese – aktiwiteite deelneem.

“My gunsteling-deel van hierdie reeks, is om nuwe plekke te verken en aktiwiteite te doen wat buite my gemaksone is – en daar is baie daarvan,” sê Toks. “Wat Nou toer ons anders maak, is dat ons op ’n baie informele, ontspanne manier tyd saam met sportpersone van wêreldgehalte deurbring en die persoon agter die sportpersoonlikheid op ’n baie informele manier leer ken.”

In die eerste episode is Toks en Breyton in Namibië en verken hulle die Strand Hotel in Swakopmund en leer hulle mekaar selfs nog beter ken. Is daar werklik iets wat hulle ná al die jare nog nie van mekaar weet nie? Kyk en vind uit.

Van die ander hoogtepunte is wanneer hulle en die voormalige Namibiese-rugbyspeler Jacques Burger die omgewing om die Mokute Etosha Lodge in sentraal-Namibië verken en ’n dag op die see en in die duine rondom Swakopmund saam met die 2007 Rugbywêreldbeker-held Ruan Pienaar deurbring.

Nou toer ons begin op 2 Julie om 17:30 op kykNET, DStv-kanaal 144.