Logo
Toegang 1600x160 Slim Homepage
web uni tv guide

Toegang

144LeefstylPG

Toegang: Nataniël is terug met nuwe reeks

Nuus
07 September 2020
Geregte en gehalte, geboue en geskiedenis, geesdrif en gedagtes. Dit is alles op die spyskaart in Toegang, ‘n splinternuwe leefstylprogram met Nataniël as gasheer en kok op kykNET (DStv-kanaal 144) op Maandag 5 Oktober 20:30.
Toegang Article Image

So stylvol soos altyd en geklee in sy kenmerkende ontwerpersuitrustings, gaan Nataniël met net ‘n opslaankombuis tot sy beskikking kook in plekke waartoe die publiek vir maande geen toegang gehad het nie. En die opslaankombuis? Net ‘n elektriese stoofplaat, twee panne, een pot en ‘n tassie met net die nodigste gereedskap vir nog ‘n smul-maal.

“Dit was wonderlik om toegang te kry tot plekke waar min mense toegelaat word,” sê Nataniël. “Selfs onder normale omstandighede sal geen mens die kans kry om alleen te dwaal waar ons orals was nie. Die plekke self sal verrassings wees omdat ons nooit vooraf bekend maak waar ek gaan wees nie. Dit sal ook vir mense ’n aangename openbaring wees om te sien hoe jy met een plaat en geen kombuisgeriewe ’n heerlike maal kan voorberei. Die styl van die program is ook nuut, al die musiek is oorspronklike komposisies en hopelik sal dié wat fyn kyk die ekstra detail raaksien, asook die hoeveelheid inligting in elke episode waardeer. Die hele span het hulself gedáán gewerk.”

In die reeks gaan Nataniël stoksielalleen die werkinge, kunsversamelings en verrassings van ikoniese geboue ontdek en met alledaagse bestandele, eenvoudig metodes en slim planne wys wat gedoen kan word. Nataniël stel ook die kunstenaars bekend wat bygedra het tot sy eetgerei-reeks, tafellappe, juwele en omgewing. Die reeks is tydens vlak 3 van inperking verfilm wat natuurlik ‘n uitdaging was.

“Om onder die protokol te werk en om die produksiespan te beskerm het baie geverg,” sê Nataniël. “Dit was maar vreemd. Die grootste uitdaging was om nie die kos te eet of ná die tyd saam te eet of iets te drink nie, die jare in Nantes is elke dag met ’n klein feesviering afgesluit, maar hierdie keer kon ons nie. Ons het baie moeite gedoen om hierdie ’n volronde ervaring vir die kyker te maak. Vir sekere kykers sal Toegang ’n aanpassing wees ná jare van die programme in Frankryk, veral só gou na Nantes Kookboek op kykNET uitgesaai het en daarom het Nataniël alles wat hy kon verander - ritmies, visueel, musikaal en wat inhoud betref.” 

En hoe sal die vervaardiger, Berdene Burger, wat al jare agter die skerms op Nataniël se programme werk, hom in drie woorde beskryf?

“Hiper-intelligent, puntenerig en vol meel!”

Die resepte sal beskikbaar wees direk ná die eerste weeklikse uitsending op kykNET en Nataniël se platforms. Hierdie jaar is dit ook in Engels beskikbaar, maar slegs op Nataniël se nuwe onthaalblog wat net voor die reeks bekendgestel word. 

Toegang is ‘n reeks van hoop, tydlose ontwerp, nuwe realiteite, onthullings en die onblusbare gees van Nataniël. Met episode-titels soos “Paleis”, “Beeldskoon”, “Biblioteek” en “Klawers” kan kykers hulle regmaak vir nog ‘n reeks wat weer eens Nataniël se ikoniese status gaan bevestig.

Toegang begin Maandag 5 Oktober 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)