Logo

Tim Theron oor pa-wees

Nuus
30 Junie 2015
Die akteur en fliekmaker Tim Theron gesels oor sy sewe maande oue Sophia.
Tim Theron
Die akteur en fliekmaker Tim Theron gesels oor sy sewe maande oue Sophia.

Hoe voel dit om pa te wees?

Om pa te wees is ter gelyke tyd die grootste en mees vreesaanjaende uitdaging van my lewe, en die wonderlikste, mees vervullende avontuur. Dit klink soos ’n cliché, maar dit voel asof ek nie regtig verstaan het wat liefde regtig beteken het nie – tot hierdie mensie my kom leer het.

Vertel ons meer oor Sophia se geboorte?

Ons was regtig bevoorreg met die geboortedag. Alles het baie goed gegaan, en die dokters was fantasties. Hulle het ons rustig gemaak, verduidelik wat gebeur, ensovoorts – iets wat baie belangrik was vir twee baie senuweeagtige eerste-keer-ouers. Niks kan ’n mens regtig voorberei op daardie dag nie! Die oomblik toe ek en Juanli haar vir die eerste keer kon vashou was onbeskryflik!

34 tim theron 4


Hoe was die afgelope paar maande met so ’n jong lyfie in die huis? Wat is tot dusver die hoogtepunte en “laagtepunte” (as jy dit so kan noem!)?

Dit is/was fantasties. Dit is natuurlik ’n massiewe aanpassing, en tussen werk en Sophia is slaap nie meer so hoog op die agenda as wat ons sou wou hê nie. Maar ons kan nie regtig meer ’n lewe sonder haar indink nie. Ons het gelukkig ook ’n fantastiese ondersteuningsnetwerk van oumas en oupas, en familie en vriende wat altyd reg is om te help, wat net weer bewys: “It takes a villlage...”

Hoogtepunte – sjoe, daar is te veel om te noem. Elke keer wanneer sy vir ons glimlag, en elke keer wat sy ’n mylpaal bereik en ’n mens kan sien hoe beïndruk sy is met haarself. Wanneer sy op jou borskas aan die slaap raak, en jy kan haar voel asemhaal en hoe haar hartjie klop teen jou bors, en jy besef hoe spesiaal elke oomblik is saam met hierdie klein mensie.

Wanneer sy 4 uur in die oggende wakker word en dit duidelik maak dat sy reg is om die dag aan te pak en dat slaaptyd amptelik verby is, voel soms vir ’n oomblik soos ’n laagtepunt! Maar die enigste werklike “laagtepunte” sover was toe sy redelik erg siek geword het met brongiolitis, en ’n aand in die hospitaal moes spandeer. Dit breek ’n mens se hart om haar so siek te sien, en niks te kan doen om haar te help nie – behalwe om te vertrou dat die dokters weet wat hulle doen.

Na wie aard Sophia meer?

Fisies lyk sy baie meer soos ek – of so sê almal – maar op die oomblik dink ons haar persoonlikheid neig dalk bietjie meer na Juanli se kant toe. Ek en sy word wel presies dieselfde wakker – dit is ’n proses (moenie van my of Sophia verwag om dadelik reg en ’n bolletjie sonskyn te wees nie).

Watter van jou en Juanli se eienskappe kan jy nou al in Sophia sien?

Die groot ding op die oomblik, wat ons albei deel, is vriendelikheid. Sophia is mal oor lag en speel, maar sy is eintlik nogal ernstig, en ons kan sien hoe sy dink oor dinge, en mense en situasies opweeg. Sy is ook baie nuuskierig, en ons hoop dit beteken sy is eendag net so mal oor stories en lees soos ons twee.

34 tim theron 3


Hoe het ouerskap jul lewens verander?

Ek dink nie ons belewenis is dat sy ons lewe totaal en al kom omverwerp het nie (daar is seker mense wat so voel). Dis eerder asof sy elke liewe aspek van ons lewe, elke element, kom aanraak het en op haar manier verander het. So ons doen nog alles wat ons altyd gedoen het, maar alles lyk net so ’n bietjie anders.

Hoe het julle op die naam Sophia besluit?

Ons het die naam ’n paar jaar gelede gehoor, en toe vir mekaar gesê dat dit ’n mooi naam sou wees as ons ’n dogtertjie sou hê. Dis vir ons klassiek, amper ouwêrelds, mooi, eenvoudig maar sterk, en ons is mal oor die betekenis – wysheid.

Watter mylpale het sy nou al bereik?

Sy is heeltemal op datum met die mypale vir haar ouderdom. Sy sit self, wil haarself voer, lepel vashou, eet vaste kossies, kruip lekker, begin al haar eerste woorde te vorm. Sy is wel ontsaglik ongeduldig om te begin loop. Letterlik van maand een af probeer sy al opstaan en loop, en raak gefrustreerd wanneer ons haar dwing om eers bietjie op haar magie te wees en te kruip.

Waarna sien jy die meeste uit soos wat sy grootword?

Weereens, so cliché as wat dit klink, is dit om haar te leer ken. Soos wat sy groter word ontdek ons die heeltyd nuwe elemente en aspekte van die mens wat sy besig is om te word, en dit is ’n onbeskryflike opwindende ontdekkingsreis.