Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Tiaan het simpatie met Shaun – Binnelanders

Nuus
14 Mei 2021
Hulle verskil dalk dag en nag, maar daar is tog iets in die karakter Shaun Weyers wat die akteur Tiaan Kelderman se hart sag maak.
1

Vertel ons bietjie meer van jouself. Waar kom jy vandaan, waar was jy op skool, wat het jy ná skool gedoen en hoe het jy in die vermaakwêreld beland?

Ek is nog my lewe lank in die Pretoria, maar my hart lê in die Kaap. Ek het baie vriende en familie daar en sal enige dag my tasse pak.

Ek is ‘n oudleerling van Affies en het snaaks genoeg nooit drama op skool gedoen nie. Daar was nie geld vir ekstra klasse nie – ek is die derde kind van vier – maar ek het altyd gevoel ek wil toneel speel en eendag die regisseurshoed aantrek. Ek het dit toe reggekry om my ouers se arms te draai en het drama op Tukkies studeer. My eerste keer op die verhoog was in my eerste jaar in die honneurs-klas se produksie van The Crucible. Ek het glo ek het met daardie vertoning eers my ouers oortuig dat ek dalk hierdie kan maak werk. In my derde jaar het ek ‘n agent gekry en vir oudisies begin gaan.

Jy het in 2012 jou filmdebuut in Lien se lankstaanskoene gemaak en was daarna ook in onder meer Ballade vir ’n enkeling en Suurlemoen! te sien. Wat is die filmrol wat jy hoop nog op jou pad gaan kom? 

O, daar is baie wat ek nog sal wil doen. My droomrol was nog altyd om Salieri in Amadeus te kan speel. Maar op die oomblik sal ek enigiets teenoor Neil Sandilands wil speel. Ek is ‘n groot aanhanger van hom, veral die laaste tyd.

Jou karakter in Binnelanders, Shaun, is ’n man met ’n plan wat nie altyd uitwerk nie. Wat is die plan of uitvinding wat jy hoop jy (Tiaan) aan gedink het? 

Oef! Geen goed beplande uitvinding nie, maar as ons ‘n beter en vinniger manier kan kry om te toer, sal ek eenhonderd persent agter dit staan. Ek haat ‘n lughawe – ek raak vreeslik angstig daarbinne – so as ons kan leer om te “teleport” of so iets, sal ek baie bly wees.

Behalwe as akteur werk, is daar iets anders wat jou besig hou?

Ek het ‘n liefde vir fotografie en ek werk agter die skerms by verhoogproduksies. Ek het ook verlede jaar myself as eiedomsagent bekwaam en ek sal graag meer wil skryf. Na dese het ek baie meer respek vir skrywers gekry.  

Wie of wat is die groot liefdes in jou lewe?

My vrou en seuntjie. Die Here het ons hierdie jaar met ‘n troue ook geseën en ek en my vrou is ná tien jaar saam uiteindelik getroud. As mens na my profiel op Instagram kyk, sal jy sien dis hoofsaaklik dié twee in my lewe.  

Wat is die eerste ding wat jy doen wanneer jy wakker word?

Behalwe vir die natuur wat roep, begin ek om kos te maak vir my seuntjie se kosblik. Ek sit ook musiek aan en maak almal wakker om te begin regmaak vir die dag.  

Wie is jou gunsteling Binnelanders-karakter en hoekom? 

Ek hou van Dr. Tertius en nadat ek bietjie tyd saam met Reynhardt Hugo spandeer het, kan ek myself ‘n regte “fan” van hom ook noem.

Hoe verskil jy en Shaun?

Ek wil sê dag en nag, maar ek kan tog met hom vereenselwig in die sin van ‘n droom hê en so hard daarin glo dat jy soms dit miskyk dat jy moet stop, terugstaan en realisties wees. Ek het dit darem nog nooit so ver soos Shaun gevat dat ek byvoorbeeld begin jok het nie, maar ek het baie simpatie met hom. Ek glo sy hart is op die regte plek en sy intensies is nooit om enigiemand in te doen nie.  

Wat is jou planne vir die res van die jaar?

Ongelukkig het die pandemie akteurs se lewens baie onvoorspelbaar gemaak, maar ek gaan aan met my deeltydse werk. Ek sien ook uit na die TV-film wat ons in Maart geskiet het, In die middel van nêrens, wat later vanjaar op kykNET uitgesaai word. Natuurlik hoop ek ook dat ek weer kan teruggaan na Binnelanders toe.  

Onthou om elke weeksaand om 19:30 in te skakel vir die nuutste drama en intriges waarmee die Binnelanders worstel.