Logo

Terugskou: Tafels – Tyd Met Aleit 5

Nuus
27 Maart 2020
Ons kyk terug na die tafelversierings van seisoen 5.
Tyd met Aleit

Op 5 Januarie, in episode 1 van seisoen 5, dek Aleit ‘n tafel met Afrika-inspirasie vir ons eie Mejuffrou Heelal Zozibini Tunzi. Daar is tradisionele kos, tuinblomme en trotse plaaslike dekoritems. Gaste sluit in Werner Wessels, die befaamde skoonheidskoningin-afrigter en mode-ontwerper Biji.  

Zenobia Kloppers, wat in 2019 die hoofrol vertolk het in Fiela se Kind kry ‘n sprokiestafel geïnspireer deur Alice in Wonderland. Aleit bedien middagtee met die fynste, verleidelike happies in episode 2 op 12 Januarie.

Aleit spandeer ‘n dag by ons eie Glam Guru, Hannon Bothma, se huis in Sandton en verras hom met ‘n oordadige swart-en-wit skemerkelk-partytjie in episode 3 op 19 Januarie. Daar is ‘n sjampanje-toring met vyf verskillende canapes, en glinsterdekor oral om die swembad.

Faf du Plessis, JP Duminy en Wayne Parnell se formidabele vroue – Imari, Sue en Aisha – kry ‘n Indiese tafel met oordadige kleur, vonkelwyn en Indiese straatkos op 26 Januarie in episode 4. Die Indiese tema het sy oorsprong in hulle almal se gereelde reise na Indië waar hulle wederhelftes krieket speel.  

Op 2 Februarie in episode 5, laat Aleit die bedrywige Lizz Meiring die week stilsit by ‘n plaastafel uit Argentinië. Hy gebruik jakarandas en herhaal die ligblou kleur in die tafellinne en eetgerei. Verder word eg Suid-Amerikaanse biefstuk en Malbec rooiwyn bedien.

Radio-aanbieder en “influencer” Zoë Brown kry ‘n huisdaknatmaak-partytjie in haar nuwe woonstel in episode 6 op 9 Februarie. Kompleet met leë bokse as deel van die dekor. Aleit dek op die grond en verras Zoë met ‘n lekker Kaapse bobotie en vetkoek met kaneelsuiker as nagereg.

Die talentvolle sanger Willem Botha ontvang Aleit by sy huis in Pretoria waar Aleit ‘n binnebraai skep met vingerbraaihappies. Die stoele is hooibale, en Aleit werk met ‘n dieprooi kleurskema om die tafel in episode 7 op 16 Februarie.

Die Klein Karoo-landskap om akteurspaar Lida en Johan Botha se huis naby Oudtshoorn is Aleit se inspirasie vir tafel vol aalwyne, wit linne en skitterblou bykomstighede. Volstruisvere pronk alte spoggerig as deel van die dekor op 23 Februarie in episode 8.

Op 1 Maart in episode 9, word die borrelende aktrise Simoné Nortmann en haar man Andries, bederf met ‘n wit tafel – fyn wit blommetjies as wolkie bo die tafel vol ikone in verskillende skakerings van wit. Voeg daarby oudhede en boeke met gesonde happies en dit is droommooi.

Dis Elvis Blue se beurt en Aleit dek vir hom ‘n manlike tafel met ‘n swart kleurskema en ‘n slim, koste-effektiewe plan om liggies bo die tafel te hang. Daar is 3 verskillende gourmet boerie-rolls om aan te smul in episode 10 op 8 Maart.

‘n Safari-tafel in die middel van die Bosveld word vir Clint en Steffi Brink gedek in episode 11 op 15 Maart. Aleit gee slim planne oor maklike dekor in die veld en dek allerhande southappies om enige honger kol te stil.

In episode 12 op 22 Maart kuier drie van die geselsprogram Tussen Ons se aanbieders by Aleit se eie huis waar hy hulle met individuele tafelplasings bederf. Tracey Lange, Ingrid Jones en Success Lekabe se dekor is telkens geïnspireer deur hulle persoonlikhede.

Met Paasfees net om die draai dek Aleit ‘n towermooi Paastafel met idees vir die wat dit vier. Hergebruikte kerskranse en oulike idees met eiers op allerhande maniere, voer die botoon.

Loer hier na die tafelversierings van seisoen 5:
Gallery