Logo

Teëspoed tref Gerrie en span

Nuus
05 Januarie 2017
Gerrie Pretorius en sy span, wat tans die seevaart na Tristan da Cunha meemaak, het na wat verneem word teëspoed opgetel.

Gerrie Pretorius en sy span, wat tans die seevaart na Tristan da Cunha meemaak, het na wat verneem word teëspoed opgetel. Hul ondersteuningsboot, Trekker 2, moes as gevolg van meganiese probleme die bemanning ontruim.

Gerrie en sy reisgenote het op 29 Desember op die RMS SAINT HELENA, die oudste werkende posboot wat nog bestaan, vanuit Kaapstad vertrek en was tydens die voorval op die eiland St. Helena, waar hulle werk aan die nuwe seisoen van die reeks Leef jou Reis vir kykNET.

Hulle moet volgens beplanning op 9 Januarie met die 37-voet, Dodo, vertrek na die afgeleë eiland en die Trekker 2 sou hierdie gedeelte van die reis met hulle meemaak.

Pretorius het verduidelik dat die tog tussen St. Helena en Tristan da Cunha juis die gevaarlikste is. As hulle laasgenoemde, “wat soos ’n naald in ’n hooimied is” mis, beland hulle diep in die Atlantiese  Oseaan in die rigting van Antarktika. Hy het gesê die span hoop om op 23 Januarie by Tristan da Cunha te wees. “Bygesê, as die weer dit toelaat, want soms kan jy vir ’n week nie voet aan wal sit met die wind wat daar voorkom nie.”

Die span wil vasvang hoe die mense op die eiland leef en boer – dít so tussen niks en nêrens. “Ons behoort as alles goed gaan dan weer so die 30ste Januarie terug te seil,” het hy gesê. “Dis die gevaarlike deel, want nou is dit branders van 7 meter hoog en meer as 2 weke se seil terwyl jy heeltyd die elemente baklei. Jy is 24 uur gekoppel aan ’n lifeline en 24 uur per dag in nat klere.”

Ons wag op verdere inligting en sal kykers op hoogte hou indien daar enige verwikkelinge is.