Logo
Die Spreeus
web uni tv guide

Die Spreeus

144Riller16VL

Tasneem se pêrels – Die Spreeus

Nuus
23 April 2019
Tertius Kapp verduidelik episode 3 aan kykers.
Die Spreeus episode 3

Foto: ’n Oomblik vanuit die derde episode wat hare laat rys het

deur Tertius Kapp

Ek woon heerlik in ’n ou huis in die Bo-Kaap, en daarom lê hierdie episode my na aan die hart. Die eienaars van die huis se voorsate het egter nie willekeurig Kaap toe gekom nie. Hulle is gekoop en verkoop op slawemarkte in Indië en Madagaskar.

Die Moslems was van die eerste geleerde mense aan die Kaap. Dink maar aan Tuan Guru, wat in die tronk die Koran uit sy kop uit oorgeskryf het. Imams het skole (madrassas) opgerig, en dit is waar Afrikaans die eerste keer geskryf is – met Arabiese letters. Dit was al in 1830, twintig jaar voor dit verskyn het met die Latynse letters wat ons vandag ken.

Ironies genoeg word mense in die Bo-Kaap vandag weer gedwing om te trek: Nie deur swepe en wette nie, maar deur ekonomiese faktore en geldgierige ontwikkelaars. In Desember het ’n groep (meestal vroue) voor ’n hyskraan gaan staan om te keer dat ’n reuse nuwe woonstelblok opgaan.

Dis verkiesingsjaar, en politici het vinnig gespring om die Bo-Kaap tot erfenisgebied te verklaar. Hopelik beteken dit die begin van ’n gelukkige einde vir die buurt.

KYK OOK: ONS VAT VYF MET SANDI SCHULTZ, CHRIS VORSTER EN MONIQUE ROCKMAN

I.D. du Plessis (1900 - 1981) het wit lesers gehelp om hulle taalgenote beter te leer ken. Tasneem se pêrels is nie een van sy verhale nie, maar ek het ook by hom geleer, veral oor die bonatuurlike aspekte. ’n “Moesoek is byvoorbeeld ’n vloek wat deur ’n “doekoen” (’n soort toordokter, oorsprong in Maleisië) uitgespreek kan word. Dit kan glo nooit omgekeer word nie.

Ek het die teks geredigeer met die hulp van Sjeg Kashief Damon, en ook raad gevra by Abduragman Adams – kykers sal hom seker ken. Die een fout wat steeds tydens verfilming ingeglip het, was eintlik niemand se skuld nie, maar ek sal tog verantwoordelikheid daarvoor aanvaar (as ek gelukkig is het niemand dit gevang nie – maar tag my in die kommentaar op Facebook as jy weet).

KYK OOK: SÓ HET DIE SPESIALE EFFEKTE TOT STAND GEKOM

Die “tonnels onder die stad” bestaan ook regtig. Dit is stormwatertonnels wat van Tafelberg tot by die hawe loop. Sommige dele dateer uit die 17de eeu, en ek is seker daar het al meer as een slaaf daardeur ontsnap. Ons wou graag fisies in die tonnels verfilm, maar dit was nie moontlik nie, so dit moes gecheat word.

Ek steek graag ekstra stukkies inligting weg in die teks vir mense wat belangstel. Ons noem dit “paaseiers” in die bedryf. Een van hulle is die naam van Tasneem se minnaar. “Arend” verwys na “Arend van die Kaap”, ’n beroemde slaaf wat ’n ryk ivoorjagter geword het, en homself in 1824 vrygekoop het.

(Tag my ook in die kommentaar-area op Facebook as jy paaseiers vind en vrae het daaroor).

Moenie ’n oomblik van die spanning misloop nie. Gebruik die hutsmerk #DieSpreeus op FacebookTwitter en Instagram, en laat weet ons of jy bang is. Kliek hier vir meer inligting.