Logo

Tannie Elizabeth nie te ervare om te leer nie

Nuus
10 April 2015
Elizabeth Cloete bak al dekades lank, maar die TV-ervaring was vir haar ’n nuutjie.
Elizabeth-Profiel-300x200

Elizabeth Cloete – tannie Elizabeth, soos sy op die Koekedoor-stel bekend gestaan het – bak al dekades lank, maar die TV-ervaring was vir haar ’n nuutjie.

“Hierdie hele ervaring van Koekedoor het ’n nuwe dimensie aan my lewe gegee. Ek sien weer uit om te sien wat die lewe vir my gaan bring,” vertel sy oor die telefoon.

“Dit was vir my lekker. Dit was vir my groots. Ja, ek het moeg geword, maar die opwinding was groter as die moeg!”

Selfs as ervare bakker het sy by die deelnemers geleer en nuwe idees gesien: “Die een wat nogal vir ’n mens idees gegee het, was Mareli, en ook Gerda. Mareli het ’n gaassakkie gehad wat sy gebruik het om die werkoppervlak met meel te stuif.

“Met Martjie kon jy weer sien hoe pragtig sy byvoorbeeld die versiersel oor die petits fours gesit het.”

Wanneer dit kom by bak is ervaring baie belangrik, sê sy. “Jy leer om te cope. Die deelnemers wat hul eie besigheid het en onder druk werk, het dit gewys. Die ervaring het vir hul groter visie gegee. Caroli byvoorbeeld is pragtig, maar sy het nog nie al die tricks geleer nie.”

Ook belangrik, sê Elizabeth, is om te gesels met en te leer van ander bakkers.

“As ek ’n ding nie kan regkry nie, gaan vra ek iemand om te help, om my te wys wat ek verkeerd doen. Met ander woorde, gaan leer. Moenie dink die resep is genoeg nie.”

Sy beveel aan dat mense wat nog nie juis gebak het nie, met suurdeeg begin: “Ek dink nie gisgebak is die maklikste nie, maar dit gee vir jou ’n makliker opsie as om met grootkoek te begin. Ook ’n vrugtebrood soos ’n piesangbroodjie, want daar is dit nie so belangrik hoe jy die deeg meng nie.

“Elke gebak het maar sy vangplekkie!”

Elizabeth het altyd kleinkoekies gebak toe haar kinders nog in die huis was, veral vir die ses weke-lange vakansies by die see. “En my kinders was in die koshuis, so daar moes koekies saam.”

Deesdae bak sy hoofsaaklik as haar kinders kom kuier, en dan is dit ’n lekker brood soos focaccia, of gebakte poedings.

En die belangrikste les wat mens as ’n bakker kan leer?

“Wat ek altyd vir almal sê en ook nie altyd toegepas het nie, is lees jou resep!”