Logo
Suidooster S9 Oct 2023 Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

145Drama13

Suidooster waai Theodore terug Kaap toe

Nuus
05 April 2023
Dit was vir Theodore Jantjies meer as een tuiskoms toe hy, sy vrou en hulle seun teruggetrek het Kaap toe. Nie net is hulle naby familie nie, maar Theodore is met ope arms verwelkom deur die Kaap se eie geliefde Suidoooster.
Suidooster 1

Dis middagete by Atlantic Studios, die indruwekkende ateljees in Kaapstad waar Suidooster verfilm word. Die reuke uit die kombuis is heerlik en in ’n ry in die elegante eetsaal staan ’n groep mense reg om te skep. Annelise Weiland kom by die gang afgestap, kort op haar hakke Illse Roos. In een van die vergaderlokale wag Theodore Jantjies, reg vir ons onderhoud. Dis net nog ’n dag op die stel van Suidooster.

Theodore kom oorspronklik van Heidelberg in die Wes-Kaap. Dit was ook daar waar die toneelsaadjie geplant is; die saadjie wat Goliath Davids soveel jare tevore geplant het. Oom Gollie, soos hy alombekend was, die veteraan-akteur, onderwyser en kweker van talent.

Vir die wat nie weet nie: Theodore (7de Laan, Getroud met rugby), Christo Davids (7de Laan, Erfsondes) en Maurice Page (Isidingo, Suidooster) is al drie van Heidelberg. Tydgenote. Selfde straat, selfde skool, selfde kerk. Mekaar se grootste ondersteuners. Van kleintyd aan die woeker met hulle eie tekste, koppe vol planne en sakke talent.

En die dice het goed vir hulle geval.

“Soos die gesegde gaan: It takes a village to raise a child,” sê Theodore. “Ons het alles saam gedoen. Dit is ook waar ons ons respek vir werk geleer het. Daar was nie baie opsies vir kinders soos ons nie. Ons het besef ons moet buite die grense van ons dorp beweeg, Heidelberg waarop ons al drie so trots is.”

Hy sê oom Gollie, Christo se oupa wat in 2012 oorlede is, se invloed was onskatbaar. “Hy was ’n fontein van kennis. Hy was die skoolhoof toe hy met ons gewerk het. Dit was hy wat gesê ons kan uitstyg. Sy motivering was ongelooflik.”

Theodore, wat deesdae as die apteker Aiden Booysen in Suidooster te sien is, is vasbeslote om ook ’n mentor te wees soos oom Gollie vir hulle was. “Jou talent is jou talent en dis powerful, maar dit moet ten goede vir ander mense werk,” sê Theodore. “Ons moet ons jeug kan motiveer, veral in hierdie medium. Dis een ding om famous te wees, maar maak jy ’n impak op ’n kind se lewe?”

Nog ’n dice het vir Theodore in plek geval toe hy en sy vrou, Tammy, al meer na die Kaap begin hunker het. Tammy, ’n prokureur, kom oorspronklik van Malmesbury en veral met die pandemie het hulle besef hoe graag hulle nader aan hulle families wou wees.

“Ek kan van enige plek werk, maar Tammy het Johannesburg toe getrek om naby my te wees. Toe Getroud met rugby (hy het die rol van Jordan James gespeel en ook regie gedoen) klaar gemaak het, het ’n regsfirma in die Kaap haar gekontak om te hoor of sy by hulle wil kom werk. Dis asof alles net in plek geval het. Intussen het Colin Howard, die lynvervaardiger van Suidooster, voelers uitgesteek. Ons het dadelik begin pak,” sê Theodore en glimlag.

Hy en Tammy het in 2018 ouers van Shiloh geword en is in 2020 getroud. Een van die dae, aan die einde van April, maak die tweede Jantjies-seun sy opwagting.

“Alles het mooi in plek vir ons geval,” sê hy weer. “Mense besef soms nie wanneer ’n fase in hulle lewe verby is nie. Jy hou vas aan iets – ’n plek, ’n mens, ’n situasie – en dis goed wanneer jy besef jy moet laat gaan. Johannesburg was baie goed vir ons, maar ons het nou soveel vrede in hierdie nuwe fase van ons lewe. Ons is amper soos toeriste in die Kaap en probeer alles sien. Dis ook lekker om vir Shiloh Heidelberg toe te neem en vir hom my komvandaan te wys.”

Oor sy rol as Aiden is hy opgewonde. “Hy is ’n maklike, fun ou. ’n Warm mens wat altyd tyd vir ander mense het. Sy werk as apteker is vir hom meer as net pille uitdeel. Hy gee werklik diep om vir mense.”

Theodore lag en sê “daar is nie nou spasie vir Aiden vir verhouding’tjies nie”.

“Hy het drome en ambisie om eendag op sy eie voete te staan en ek dink kykers gaan hom geniet. Dis vir my ’n lekker rol om te speel ná my tyd op 7de Laan en Getroud met rugby. Die eerste tien jaar van jou loopbaan moet jy ontsaglik hard werk om naam te maak en wanneer jy dan die kans vat om weg te breek, moet mense saam met jou wíl werk. My werketiek sal nooit verander nie en ja, ek het steeds drome om meer regie te doen. Ek sal dit nooit forseer nie, maar wag tot dit natuurlik gebeur.”

Theodore hoop dat die toneelstuk Platform 9 waarin hy en Maurice speel en Christo die teks en regie behartig nie net weer in die Kaap gesien kan word nie, maar ook in Johannesburg. (Platform 9 is ook op 6, 7, 8 en 9 April by die KKNK te sien.) “Die stuk gaan oor karakters waarmee ons groot geword het, karakters waarvoor ons soveel deernis het,” sê Theodore.

Sy suksesvolle loopbaan draai weer by mentorskap en hoe belangrik dit vir hom is om terug te gee. “Ek kry geleenthede om by jeuggroepe, skole en kerke te praat en dit is vir my ’n passie om te deel waar ek vandaan kom. Baie jare gelede, ek was toe in 7de Laan, het ons by familie van Tammy in Malmesbury gekuier en iemand het gesê daar is ’n skoolseun wat met my wil kom praat. Die seun wou raad gehad het wat ek het maar te graag gedeel het. Daardie jong seun se naam is Dean John Smith en vandag is ons kollegas by Suidooster.”