Logo
Suidooster S9 Oct 2023 Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

145Drama13

"Suidooster" skok met skielike dood van hoofkarakter

Nuus
03 Mei 2023
In ’n hartroerende toneel moes Suidooster-kykers Woensdagaand afskeid neem van AB Samsodien (Cedwyn Joel), wat onverwags in die teenwoordigheid van sy vrou Mymoena (Jill Levenberg) gesterf het, ná hy Maandag deur ’n sluipmoordenaar geskiet is.
Suidooster AB Sterf Article Image

Hoewel Suidooster die afgelope weke daarop gesinspeel het dat stormsterk winde van verandering Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar dit afspeel, gaan tref, het dié kinkel kykNET-kykers heeltemal onkant betrap en stom gelaat.

Die afgelope maande moes Suidooster se aanhangers  toekyk hoe AB se stiefdogter, Bianca (Simone Biscombe), weer met Dirk (Evan Hengst) ’n verhouding aanknoop nadat hy haar verlede jaar in die sepie se spannende nier-sage-storielyn ontvoer het. Hul verhouding het vinnig ernstig geword en in Maandag se episode sou hulle in die huwelik bevestig word.

AB het op die nippertjie by die troue opgedaag nadat hy eers hul verhouding ten sterkste veroordeel het. ’n Skerpskutterkoeël wat vir Dirk bedoel was, het hom per ongeluk getref toe Rhafiek (Irshaad Ally) en Nazeem (Irvine Jacobs) die moordenaar op heterdaad betrap het.

Suidooster moes dit vir maande geheim hou dat Cedwyn die sepie groet en hy het reeds sy laaste toneel op 28 Februarie verfilm. Dit word Donderdag uitgesaai, waar daar tydens ’n tradisionele Moslem-begrafnis van Cedwyn se karakter afskeid geneem word.

Toe die sepie in 2015 begin het, was Cedwyn in die oorspronklike rolverdeling. Sy karakter het in 2020 kykers se oë laat rek in die omstrede poligamie-storielyn, waar AB volgens Moslem-tradisie vir Farah (Lee-Ann van Rooi) as sy tweede vrou geneem het.

Cedwyn, 69, het die moeilike besluit geneem om Suidooster te groet sodat hy meer tyd kan hê om ander projekte aan te pak en saam met sy gesin deur te bring.

“Oor ek ’n Moslemkarakter vertolk het, het Suidooster het my ’n beter begrip van ander kulture gegee en om dit beter te verstaan,” sê Cedwyn oor sy storielyne in Suidooster.

Nie het dit vir my ’n beter insig oor Molsemtradisies gegee en waardering daarvoor gegee nie, maar ook gehelp om kykers daaroor op te voed.”

In die volgende uitgawe van Kuier, wat van 4 Mei te koop is, gesels Cedwyn eksklusief oor sy loopbaan en sy toekomsplanne.

Suidooster se publisiteitsbestuurder Wilmer Müller sê dat Cedwyn ’n onskatbare bydrae tot die sepie gelewer het. “Ons was baie bevoorreg toe Cedwyn in 2015 ingestem het om een van Suidooster se hoofkarakters te wees, want hy was immers toe reeds een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde akteurs.

“Die afgelope agt jaar was sy karakter nie net ’n groot trekpleister vir die sepie nie, maar het AB Samsodien ’n huishoudelike naam geword,” sê Wilmer.

“Die hele span, voor en agter die skerms, het so baie by Cedwyn geleer, terwyl sy vriendelikheid, nederigheid en professionaliteit benydenswaardig is.”

Suidooster, wat in 2022 met ’n SAFTA-toekenning as beste sepie bekroon is, saai Maandae tot Vrydae om 18:00 op kykNET en om 18:30 op kykNET & kie uit.