Logo

Storiefilm: Op straat kyk met ander oë na haweloosheid

Nuus
18 Maart 2021
Op straat word op Vrydag, 19 Maart om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Op Sraat bb

Die lewe kan hard slaan; vir sommige harder as ander. Op straat, Vrydagaand 19 Maart se Storiefilm, is ’n blik op hoe sommige van ons lewe – haweloos en sonder enige vangnet. Dis ’n hartroerende verhaal van ’n familie wat lank gelede uitmekaar geskeur is, ’n verhaal oor vergifnis en medemenslikheid. In die rolverdeling is Amalia Uys, André Odendaal, Izel Bezuidenhout, Wilhelm van der Walt en Grant Swansby. Die skrywer en regisseur, Nicola Hanekom, vertel meer.

Waar het die idee vir die rolprent vandaan gekom?
Sedert die pandemie is daar letterlik tien maal die gewone aantal hawelose mense in my onmiddelike omgewing. Ek is nie altyd ’n goeie mens nie. Ek wil nie altyd aandag, hulp of geld gee nie, maar hierdie keer het ek gedink: Kyk. Skryf. Moenie weghol nie. Nie alle stories in die lewe draai om veilige, middelklas of ryk mense se bestaan nie. Daar is ander stories wat ook vertel moet word. 

Hoe het jy op die rolverdeling besluit? Het jy toe jy dit geskryf het sekere spelers in gedagte gehad?
Ek het definitief met Amalia Uys en André Odendaal in my geestesoog geskryf. Ek het hul genader voor ek begin het en gevra of, indien ons befondsing kry, hulle sou belangstel. Amalia spook by my sedert haar vertolking in ’n toneelstuk van my, Mirre en Aalwyn, wat nog nie (weens die pandemie) op die planke was nie en André is net 'n mens met soveel diepte wat altyd in al sy werk deurskyn. Ek het ongelooflik baie respek vir albei van hulle en is dankbaar hulle het die reis met my meegemaak.

Is film vir jou ’n bevredigende medium om in te werk? Wat maak dit anders as teater? 
Ek is versot op films skryf en maak en hoop ek kry nog baie kanse! Dis heeltemal anders as teater weens die proses. Mens kry minder tyd om te repeteer en moet baie vinnig spelkeuses maak en ’n voorstel vind veral as die begroting beperk is. Maar al is dinge anders, tel die grootste ding vir my steeds: eerlike, geloofwaardige spel is die hart van beide mediums.

Wat hoop jy kry kykers uit die film?
Ek hoop dit roer hulle. Ek hoop dit laat mense nadink oor empatie en vergifnis in hul eie lewens.  

Waar is dit verfilm?
In Johannesburg. 

Wat dink jy beteken Storiefilms vir die vermaakbedryf in Suid-Afrika?
Vir my persoonlik was dit ’n redding ná min werk. Ek dink dit was vir baie van my kollegas so. Dit gee ook vir baie jong skrywers, vervaardigers en regisseurs ’n kans om iets te skep. Dis moeilik om ’n kans te skep of te vind. 

Op straat word op Vrydag, 19 Maart om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.