Logo
Slim BB spoorloos
web uni tv guide

Spoorloos

144Drama13 VL

Sterbelaaide rolverdeling vir Spoorloos: Die eiland

Nuus
04 Julie 2022
Vind meer uit.
Spoorloos

’n Vrou wat verdwyn, spoke uit die verlede en ’n tergende raaisel wat opgelos moet word, is alles deel van die naelbytaksie in die nuwe seisoen van Spoorloos.

Die vierde seisoen in dié gewilde kykNET-dramareeks, getiteld Spoorloos: Die eiland, word vanaf Dinsdag 19 Julie 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Nes die vorige seisoene, is Spoorloos: Die eiland ’n losstaande reeks met ’n nuwe storielyn, eie karakters en rolverdeling. Die jongste seisoen speel af op ’n fiktiewe eiland vol geheime. Ilse van Hemert se produksiehuis, Ochre Media (verantwoordelik vir die M-Net-trefferreeks Lioness), is weer aan die stuur van sake, met Ilse as hoofskrywer en na-produksievervaardiger en Christo Davids en Francois Coetzee as regisseurs.

Daar is oudergewoonte ’n verskeidenheid van interessante karakters met bedenklike motiewe.

In Spoorloos: Die eiland is die rolverdeling as volg:

Bobby van Jaarsveld maak sy debuut in ’n dramareeks as Stefan Claasen, die argitek wie se lewe chaoties word wanneer ’n toevallige ontmoeting met sy lang verlore eerste liefde hom by ’n web van bedrog insleep wanneer sy vermis raak en hy van haar moord beskuldig word. Kykers sal Bobby onthou vir flieks soos As jy sing en Liefling. Hy het ook in die kykNET-komedie Mense mense gespeel en het as mentor in The Voice opgetree.

Die aktrise Izel Bezuidenhout vertolk die rol van Emma Eloff – die vrou op wie Stefan jare gelede verlief geraak het en dan weer uit die bloute haar verskyning in sy lewe maak. Izel is bekend vir haar rolle in flieks soos Dis ek, Anna, Dominee Tienie, Vaselinetjie en Flatland.

Armand Aucamp, wie kykers se harte verower het as Tom Niemand in die kykNET-dramareeks Die Boekklub, is te sien as Emma (Izel) se man, Lucas Eloff. Armand het ook onlangs in die Showmax-reeks Troukoors verskyn en was te sien in die kykNET-drama Knapsekêrels, asook in die speelfilms Krotoa en Ballade vir ’n enkeling. Hy is daarbenewens die stigter van die heel eerste Afrikaanse dating app, KOER, en die kosboekskrywer van die topverkopers Kook kaal en Kook kaal volume 2.

Stefan (Bobby) se beste vriend, Phillip Naudé, word deur Tiaan Slabbert vertolk. Hy is ’n bekende verhoogakteur en het ’n Naledi-toekenning gewen vir sy spel in Porselein. Hy besit 'n opvoedkundige kinderteatermaatskappy, What Walrus?, en was ook al te sien in die kykNET-sepie Getroud met rugby, die kykNET-dramareeks Knapsekêrels en die kykNET Storiefilms Kansel, Ongepoets en Boetie ontmoet ’n alien (wat 30 Julie uitgesaai word).



Spoorloos: Die eiland is Leché Joubert se eerste rol in ’n dramareeks. Sy vertolk die rol van Stefan (Bobby) se verloofde. Leché het in die rolprent Vergeet my nie gespeel en was al op TV-skerms in die Storiefilm ’n Duisend woorde. Sy is ook ’n stemkunstenaar wat verskeie karakters in die animasieprent Die Sneeukoningin 3 vertolk het.

Deon Coetzee is alombekend vir sy rolle in reekse soos Agter elke man, Egoli en Binnelanders. Hy vertolk die rol van Emma (Izel) se pa, Freek Lambrecht, wat werk as voorman vir Lucas (Armand).

Die bekende Kwêla- en Hannes aan huis-aanbieder, Hannes van Wyk, is te sien as ’n professor in marinebiologie. Hy het in verskeie TV-reekse, soos Waterfront, Lui  maar op, Belinda en Fynskrif, gespeel en het reeds ’n rol in een van die vorige Spoorloos-reekse vertolk. Hannes is ook ’n gesoute teaterakteur. Hy was, onder meer,  saam met Amanda Strydom in die teaterproduksie Voor ek vergeet, wat ook in ’n kykNET Storiefilm omskep is. Meer onlangs was hy op die planke in die bekroonde eenmanstuk Sê groete vir ma. Hannes is ook spelvervaardiger vir die kykNET-sepie Suidooster

Hier is ’n lusmaker van die nuutste seisoen:



Marisa Drummond is te sien as Cobie Lambrect – Freek (Deon) se vrou en Emma (Izel) se stiefma. Marisa is nie net ’n aktrise wat bekend is vir rolle in Getroud met rugby en die komedie Elke skewe pot nie, maar ook ’n skrywer, regisseur en vervaardiger.

Belinda Paige, die ma van Stefan (Bobby) se seuntjie, Lenny, word deur Robyn Rossouw vertolk. TV-reekse waarin sy al te sien was, sluit in Legacy, Arendsvlei en Sara se geheim.

Die veteraanaktrise Ilse Klink het ’n lang lys TV-rolle agter haar naam, waaronder reekse soos Skemerdans, Diamond City, Arendsvlei en Nêrens Noord-Kaap. Sy was in die sepie Binnelanders as Steve (Clint Brink) se ma te sien. In Spoorloos: Die eiland maak haar karakter, Melanie Paige, die lewe moeilik vir Belinda (Robyn) se ma en Stefan (Bobby).  

Brendon Daniels vertolk die rol van George Paige, die man aan Melanie (Ilse) se sy en Belinda (Robyn) se pa. Brendon is bekend vir rolle in ’n verskeidenheid kykNET-reekse, insluitend Valllei van sluiers, Die Boland Moorde, Sara se geheim, Skemerdans en Arendsvlei.

Esmeralda Bihl en Donovan Pietersen speel ma en seun, Sylvia en Darryl September – twee karakters wat ’n interessante element tot dié drama byvoeg. Esmeralda het al in verskeie TV-reekse verskyn, insluitend A Place Called Home, Scandal, Riemvasmaak en Binnelanders. Sy het ook vroeër vanjaar in die kykNET-storiefilm Party kry ’n naweek gespeel. Donovan was in die vorige seisoen van Spoorloos te sien, maar kykers sal hom ook onthou vir sy rolle in Binnelanders  en Getroud met rugby, sowel as die Storiefilms Kamer 6 en Krismisboks.

Hier is ’n voorsmakie van wat voorlê:


Dié rolverdeling pas soos ’n legkaart in die prentjie wat Spoorloos: Die eiland uiteindelik vorm. En, soos met die vorige seisoene, is daar aksiebelaaide tonele, emosionele oomblikke en verskeie onverwagse wendings en kinkels in die kabel wat ná elke episode vir druk gesprekke op sosiale media sal sorg. Moet dus nie ’n oog knip nie – jy mis dalk net ’n belangrike leidraad.

Spoorloos: Die eiland begin op Dinsdag 19 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Catch Up beskikbaar wees. Dié seisoen bestaan uit agt episodes.