Logo

Sprokiesbruilof: Wie nie waag nie, wen nie

Nuus
11 Mei 2017
Is dit moontlik om vir ’n tweede keer opregte liefde en geluk te vind?
Ons Sprokiesbruilof

Petrus Fouché (45), ’n pa van twee, en Susan van Jaarsveld (47), ’n ma van drie en ouma van twee, het bewys dat ’n tweede troue ook ’n sprokiesbruilof kan wees.

Vir Petrus was dit liefde met die eerste oogopslag toe hy vir Susan ontmoet. “Sy het vir my baie volwasse voorgekom,” sê hy. “Sy’s standvastig in die lewe, sy weet wat sy wil hê [en] sy’t ’n great humorsin.”

Petrus is vir Susan ’n “absolute engel”. Sy glo dat Petrus die man is wat “die Here vir [haar] wil hê.” Sy sê: “Hy’s ’n gentleman, en dis min wat jy dit kry...”

Petrus was van die begin af aangetrokke tot Susan se persoonlikheid. “Jy weet ten alle tye waar jy met haar staan,” sê hy. “Dit is alles liefde-gebaseer – dit laat my hart net spring van een klop na die volgende toe.”

Die paartjie het binne ses maande verloof geraak. “Na die eerste drie maande het ek geweet ek wil met dié vrou trou,” vertel Petrus. Volgens hom het dit verder drie maande geneem om die moed bymekaar te skraap om uiteindelik vir Susan die ja-woord te vra.

“Tot vandag toe nog het sy nie eintlik ja gesê nie,” sê hy. “Sy was so verbaas gewees, ek moes haar twee of drie keer vra ‘sal jy met my trou’.”

Susan sê: “Ek het geweet ek gaan ja sê, maar jy is so overwhelmed...

Vir hul sprokiesbruilof was dit van die begin af duidelik wat hulle wou hê: “Iets uniek maar tog klassiek, met ’n oudtydse” verbinding.

Dit was baie belangrik vir die paartjie om egter self elemente vir hul troue aan te skaf, irrelevant van hoe dit sou lyk of sou inpas by die tema, om só hul sprokiesbruilof spesiaal te maak.

Voor die troue het hulle eers ’n draai in Magaliesberg gemaak, waar hulle kerse vir hul groot dag laat maak het – twee klein kerse wat een groot kers sou aansteek. Susan verduidelik dat dit die einde van hul “enkeldae” simboliseer, en dat hulle, nadat die groot kers aangesteek sou word, as een lewe “in die Here se naam” lewe.

Daarna was dit tyd om liefdesduiwe vir hul spesiale dag uit te kies. Volgens Sorina simboliseer die vrylating van duiwe op ’n troudag die begin van ’n nuwe lewensreis saam. Sy sê: “Dis ’n pragtige gebaar wat illustreer hoe Petrus en Susan die toekoms met ’n oop gemoed invaar.”

Vir beide Susan en Petrus simboliseer die duiwe die samesyn in ’n verhouding, en volgens Petrus is dit nie net die samesyn in ’n liefdesverhouding nie, maar ook in ’n familie só uniek soos hulle s’n.

Die paartjie het 108 gaste verwag. Voor die troue moes Petrus eers ’n draai maak by die venue om seker te maak dat alles volgens plan verloop ná die paartjie se huweliksbevestiging, en dat daar genoeg spasie is om al hul gaste te akkommodeer. Dit was ’n spanningsvolle oomblik, maar tog kon Sorina die bruidegom bedaar – herleef die oomblik.

Daarna het Petrus vir Susan verras met ’n pragtige goue horlosie. Tog was kykers verras gewees toe Susan óók ’n spesiale geskenkie vir haar toekomstige man gehad het. Sorina het die pakkies oorhandig – kyk die video.

Vir Petrus was dit ’n besonderse oomblik toe sy toekomstige bruid by die paadjie afgestap kom. “Dis ware liefde wat ek daar in daai vrou se oë sien,” het hy gesê.

Die fotosessie was vir dié paartjie baie uniek. Petrus verduidelik dat die foto’s vir hom en Susan baie spesiaal is omdat dit ’n mens terugneem na die verlede self nadat ’n mens se geheue verval het.

Omdat hul bruilof twee groot families sou verenig, was niks minder as baie toesprake verwag nie. Die trane het gevloei en Petrus vertel: “Die heildronke wat ingestel was, was dalk ’n bietjie baie gewees, maar ek dink dit was gepas gewees in die sin dat elkeen deel tot ons verhouding gehad het.”

Die dag was baie spesiaal gewees vir die paartjie. Vir Susan was dit ’n “baie geseënde dag gewees”. Sy vertel dat daar niks is wat sy sou verander nie. Vir Petrus was hul troudag perfek: “…Niks meer nie, niks minder nie – presies wat ons wou gehad het.”

Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).