Logo
Spoorloos Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Spoorloos

144Drama13 VL

Spoorloos: Steynhof belowe aksie met 'n rits bekende akteurs

Nuus
24 Junie 2021
Spoorloos: Steynhof begin op Dinsdag 6 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Spoorloos Hero 2001x859

’n Baba verdwyn van ’n plaas in die Noord-Kaap. Twee mense word dood in haar ouerhuis aangetref. Beide die oppasser en die baba is spoorloos. Wat het daardie verskriklike nag gebeur? Wie het die ouers vermoor en hoekom is die dogtertjie ontvoer?

Vyftien jaar later kry haar familie die tyding: Sy is gevind.

Die vyftienjarige Adri van Tonder ontdek dat daar geen wettige rekord van haar geboorte is nie. Met die hulp van Xander, ’n geniale skoolvriend, vind sy uit dat ’n kind vyftien jaar tevore spoorloos verdwyn het. Die hoofverdagte is die kinderoppasser Liena April, aangesien Liena en die baba spoorloos verdwyn het.

Op soek na antwoorde beland Adri op ‘n plaas diep in die Noord-Kaap, waar sy met ope arms verwelkom word, maar dis gou duidelik dat nie almal wil hê dat sy die waarheid uitvind nie.

Dit is die agtegrond van die derde seisoen van Spoorloos wat in Julie begin. Die agt nuwe episodes volg dieselfde draad as die vorige Spoorloos-seisoene, verduidelik Ilse van Hemert, die toesighoudende vervaardiger en teksredigeerder. Ilse se Ochre Pictures, vervaardigers van die drie Spoorloos-reekse, was onlangs ook verantwoordelik vir die M-Net-trefferreeks Lioness.

“Al die Spoorloos-seisoene het dieselfde struktuur. Dit speel af in ’n plattelandse gemeenskap en die verlede se geheime ontketen ’n drama in die hede. In hierdie seisoen is dit bietjie anders omdat dit nie ’n dorp in rep en roer is nie, maar die mense van die Noord-Kaapse spogplaas Steynhof.”

“Dis ’n storie vol hartseer, angs en geluk,” verduidelik Ilse. “En dit sal weer, soos met die vorige seisoene, kykers aan die raai hou oor wie die vark in die verhaal is.”

Die akteur en regisseur Christo Davids is hierdie keer in die hoofskrywerstoel en behartig ook die regie. Christo is alombekend vir sy rol in 7de Laan, maar het die afgelope paar jaar naam gemaak as regisseur en dramaturg van onder meer bekroonde verhoogproduksies soos Queenie-hulle.

“Hierdie seisoen van Spoorloos het dieselfde DNS as die voriges, maar hierdie keer is grond, nalatenskap en geboortereg die spilpunte waarom alles draai. Soms doen mense ondenkbare goed om te kry wat hulle voel hulle verdien. Die gesegde lui: ‘Die waarheid sal jou vryspreek.’ In hierdie reeks is dit nie die geval nie.”

In die rolverdeling van Spoorloos 3 is Stiaan Smith (Toorbos, Meisies wat fluit, Hotel), Jane de Wet (Griekwastad, Trackers), Brent Vermeulen (Griekwastad, Die Stropers), Diaan Lawrenson (7de Laan, Raaiselkind),  Arno Marais (Die Boekklub, Getroud met rugby), Eloise Clasen (Binnelanders, The river), Vinette Ebrahim (7de Laan, Skemerdans), Ivan D. Lucas (Dryfsand, Soutmansland), Wayne van Rooyen (Fiela se kind, Inconceivable), Franci Swanepoel (Getroud met rugby, Sterlopers) en Kim Cloete (Fynskrif, Afgrond).

Spoorloos: Steynhof begin op Dinsdag 6 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dié seisoen bestaan uit agt episodes.